Ons deel met graagte JC en Lola se rustieke strand troue in Groot Brakrivier, naby Mosselbaai, met ons lesers. Die paartjie het besluit op die Tuinroete as hul trou bestemming met ʼn pragtige trou venue reg teen die see omring deur die mooi natuurskoon wat die gebied bied.
Lola het ʼn gemaklike, vloeiende trourok aangehad om in te pas by hulle plat op die aarde strand troue. Haar strooimeisies het die mooiste blom patroon rokkies aangehad. JC het ʼn formele broek aangehad en ʼn wit hemp met ʼn ligte das. Nie te formeel nie en net perfek vir hulle strand troue.
Hulle seremonie was teen die see by die trou venue. Gaste het die mooiste uitsig gehad van die see as agtergrond van die paartjie se seremonie.
Die talentvolle trou fotograaf, Klara Design & Photography het elke oomblik van die paartjie se troudag so mooi vasgevang. Om ʼn fantastiese trou fotograaf te huur vir jou troudag is altyd ʼn goeie belegging. Daardie foto’s sal julle altyd by bly en as paartjie hou mens daarvan om terug te kyk na ʼn mens se troudag. Dit is so ʼn spesiale en groot dag.
Ons is veral gaande oor die strand foto’s. Die sagte lig en die paartjie wat se glimlagte aansteeklik is! Die paartjie het sommer ook op die Tuinroete besluit as hul plaaslike wittebrood bestemming. Baie paartjies kies die Tuinroete as hulle wittebrood bestemming, omrede dit so mooi is en daar so baie is in die area om te doen.
Rol af om meer te lees oor JC en Lola se liefdesreis en hul Rustieke Strand Troue.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons liefdes was so spontaan en so mooi. Agt jaar terug was ek by ʼn vertoning waar JC opgetree het, en ons het mekaar daar dadelik raak gesien, ongelukkig was ons altwee reeds in verhoudings, maar ons het bymekaar bly spook. Drie jaar later het ons te danke aan sosiale media mekaar opgespoor. JC het baie weggewerk so om ʼn ontmoeting te reël was baie moeilik. Met ons eerste ontmoeting, 1 Desember het ons na my huis gegaan en daar ons eerste kersboom opgeslaan saam, my pa het al daardie aand besef ons gaan trou.
Ons het vinnig besef dat ons dieselfde liefdes deel en ook beide baie impulsief en spontaan is. Beide van ons van die buitewêreld. Ons het saam gaan kamp, vis gevang en ons tyd verwyl in die natuur, nuwe eksotiese plekke besoek en dorpe verken. Die tye wat ons saam was het ons gekoester en elke minuut net meer lief geraak vir mekaar.
Ons verlowing was só uniek. JC het die verloofring al 4 maande voor die tyd gekoop sonder dat ek geweet het. Ons het ʼn naweek saam weg beplan by Gariep dam en daar op die op die oewer van die dam het hy op sy knie gegaan en met die mees oulikste en romantiese woorde my gevra om te trou en ek het natuurlik ja gesê. My knieë raak nou nog lam as ek daaraan dink.
Die Verlowing Tydperk:
Ons was verloof vir twee jaar en vier maande. Ons het dit goed gedink om ons eie troue te reël sodat dit meer persoonlik en eie aan ons is.
Trou Begroting:
Ons het ʼn baie klein trou begroting gehad. Albei van ons wou nie ʼn weelderige troue hê nie eerder ʼn klein, intieme troue. Ons het besluit om ʼn groot deel van ons begroting op die venue te spandeer aangesien die venue die atmosfeer vir jou troue kla skep. Toe het ons vir ons die drie belangrikste items gekies naamlik die venue, ʼn fotograaf en klank en verder om dit gebou. Ons het op baie eenvoudige dekor besluit omdat ons venue kla prentjie mooi was.
Raad wat ons kan gee is identifiseer wat vir julle die begroting is. Hou dit eenvoudig, maar tog elegant. Ons het net 50 gaste gehad, naaste familie en vriende.
Merkwaardigste Oomblikke:
JC se merkwaardige oomblik:
Aangesien JC mal is oor die Shrek flieks het ek besluit om op Shrek Dreamworks tema lied in te stap. Vir hom was dit die mooiste oomblik toe die liedjie begin speel en ek die trougang af stap na hom.
Lola se merkwaardigste oomblik:
Toe ek die trougang af loop wou ek hom alreeds soen, maar moes uithou. So my mooiste oomblik was toe die dominee sê, jy mag jou bruid soen en JC se lippe aan myne raak was dit absoluut die beste oomblik van my lewe.
Die Besluitnemingsproses:
Die besluitnemings proses was baie maklik. Ons het beide vir ʼn feit geweet ons wil ʼn eenvoudige troue by die see hê en ons het rondom daardie feite ons besluite geneem. Ons het saam gekyk vir dekor idees en verder het ons, ons eie afdelings gehad waaraan ons moes werk. Familie en vriende het ons baie ondersteun en gehelp.
Paartjie se styl:
Ons het ʼn baie eenvoudige, tog spontane styl. Die styl van die troue was feetjieagtig en rustiek, maar romanties. My trourok was ʼn fee prinses se droom met vloeiende kant en shefron en ek was kaalvoet. JC het ʼn khaki broek, met vars wit hemp en das, wat by my rok pas, aangehad. Die gebou was rustiek en die feetjie liggies het vir die romanse gesorg.
Vermaak:
ʼn Platejoggie. Ons het vooraf met haar bespreek watter atmosfeer en musiek ons wil hê moet heers tydens ons troue en vir haar ʼn paar spesiale liedjies gegee wat moet speel op ons groot dag.
Spesiale Tradisies:
Ja, ons het heelwat spesiale troudag tradisies gehad. Van koeksny tot blomme en kousband gooi, dansbaan open en pa en dogter en seun en ma dans.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Alles het spontaan en perfek gevloei. Ons was die heeltyd net in die oomblik. Ons sou net graag saam met elke gas ʼn foto wou neem.
Gunsteling Diensverskaffers:
Die keuse is maklik, Klara Photograthy and Design. Sy het ons troue net nog mooier gemaak met haar absolute professionaliteit en spontane menswees. Die fotosessie was só maklik, spontaan en pret. Sy het vir ons ʼn besondere ervaring gegee met baie pragtige foto’s sodat ons altyd ons groot dag kan onthou.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
JC:
Sê net ja, en probeer verstaan jou bruid sien ʼn palet of blom op ʼn ander manier as jy. Laat toets nou jou oë, en maak seker jy kan verskillende kleure uitken.
Lola:
Maak seker jou trourok is betyds kla ʼn maand voor die troue en veilig weg gebêre om minder stres te veroorsaak.
Eerste Dans:
Ons eerste dans was op Ed Sheeren se liedjie Perfect. Dit het vir ons ʼn baie spesiale betekenis. Ek was in die hospitaal en JC het vir my kom kuier en ek wou net bietjie uit die saal uitkom. JC het my toe na die parkeer area geneem en met my begin dans terwyl hy die lirieke sing van Perfect, onder die sterre. Ons het geen dans roetine of lesse gehad nie, ons albei hou van vas dans, so ons het net gedans.
Wittebrood:
Ons het op Jongensfontein besluit. Die natuurskoon en rustigheid wat daar heers is so perfek vir ons gewees. Dit is asof net ons twee bestaan het omdat dit afgesny van die buitewêreld is. Ons het baljaar op die rotse en in die gety poele, by Skulpiesbaai lang ente op die strand gestap en elke oggend op ʼn ander strand koffie gedrink. Ook het ons klein stofpadjies verken en na staaltjies van die plek geluister. Ons kon kwaliteit tyd die heeltyd gee aanmekaar, met niks of niemand wat ons steur nie.
Venue & Dekor:
Ons wou altwee bitter graag by die see trou. So het ons soektog begin vir die perfekte trou venue by die see, langs die Tuinroete omdat ons beide baie lief is vir die Tuinroete. Daar was ʼn paar venues op die kortlys, maar kon nooit self gaan kyk omdat ons in Bloemfontein bly. My peetma het aangebied om na Seeplaas by Grootbrak te gaan kyk en op haar aanbeveling het ek die venue bespreek voor dat ons hom gesien het.
Die eerste keer wat ek daar in loop het ek in trane uitgebars, en net geweet hierdie is ons trou venue. Met die rustiek, ruim, lig gebou en groen gras op die see was dit perfek. Ons troudekor was baie eenvoudig, want die venue het klaar soveel atmosfeer geskep. Met wit breekgoed, “dawn” tafellopers oor die tafels, wit kerse in glashouers en fynbos wat die natuur van buite in bring. Dan nog die pragtige, klein feetjie liggies die hele saal vol met die rustiek gevoel van die saal wat dit alles mooi afgerond het.
- Fotograaf: Klara Design & Photography
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: SeePlaas Restaurant & Gallery
- Blomme: All Flowers Mosselbaai
- Bruidegom-pak: Awerbuchs Bloemfontein
- Grimering + Hare: Hair at Lola
- Huwelik kontrak: Van der Walt & Van der Walt Inc
- Huweliksbevestiger: Danie Goosen
- Juweliersware: Oorbelle – Miladys
- Platejoggie: Disco & Sound
- Paartjie se verblyf: SeePlaas Guest House
- Strooijonkers bykomstighede: Awerbuchs Bloemfontein + YDE
- Skoene: JC skoene – Exact
- Strooimeisie-rokke: Shein za
- Trourok: Besters’ Bridal Boutique (maar het hom oor gekoop van ʼn vorige bruid op Facebook)
- Trouring: JC se ring – Carins Jewellery Design
- Troukoek: Juanita T Delicious Cakes