Michael & Micayla se Moderne Elegante Troue

Ons is baie opgewonde om Michael en Micayla se moderne elegante troue met ons lesers te deel.  Hulle het ʼn gesellige winter troue gehad in die Klein Karoo, Oudtshoorn.  Julle mag die paartjie erken van hulle verlowing fotosessie wat ons voorheen op Mooi Troues gepubliseer het.

Ons is totaal en al versot op Micayla se trourok se detail en ook die lag moue.  Michael se statige swart trou pak het perfek ingepas by hulle elegante trou tema.  Hulle trou uitrustings het gelyk asof dit uit die blaaie van ʼn mode tydskrif kan kom.

Wanneer dit kom by hul trou dekor het hulle geen moeite bespaar nie.  Wit en swart was hul primêre kleure met tikseltjies goud tussen in.  Die groenigheid wat vanuit die dak hang gee die trou onthaal ʼn interessante, moderne gevoel.  Die wit en swart vloere het só mooi gepas by hul trou tema.  Rou hout tafels met die swart en wit elemente skep die perfekte balans.  Die glas borde met die goue rant en goue eetgerei gee weer die stylvolle elegante indruk.

Hulle fotosessie was vreeslik mooi gewees.  Die kontras van hulle moderne uitrustings teenoor die uitsigte as hul agtergrond van die plaas in Oudtshoorn.

Die paartjie het ʼn plaaslike wittebrood in die Tuinroete geniet! ʼn Populêre plaaslike wittebrood bestemming vir paartjie.  Mooi Troues het self al ʼn paar oulike wittebrood plekkies in die Tuinroete ervaar.  Klik hier om meer te lees oor ons wittebrood bestemming resensies.

Om meer te lees oor Michael & Micayla se Moderne Elegante Troue en hul liefdesreis, rol gerus af.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Michael woon albei in Kimberley.  Ons het van tyd-tot-tyd in dieselfde geselskap verkeer, maar nooit regtig eers in mekaar se rigting gekyk nie!  Op die regte tyd en plek het hy eendag net my voete onder my uitgeslaan met sy unieke menswees en die manier hoe hy my hanteer het.  Dit was glad nie moeilik om op hom verlief te raak nie!

Desember 2020 het ons vakansie gehou by my ouers se Lodge teen die see.  Michael het ʼn paar dae voor dié dag begin met skimpies en stories dat hy vreeslik graag iets avontuurlustig saam met my wou doen.  Toe het hy een oggend net gesê dat hy ʼn helikopter rit vir ons bespreek het.  Kan nog goed onthou dat dit beurtkrag was, so ek het nie eers kans gehad om hare te was of mooi te maak nie!

Ons het eers vir ʼn lekker ontbyt gegaan en ek kon agterkom dat hy nie met die selfde entoesiasme eet nie, en senuagtig lyk, maar nie daaraan gesteur.  Net langs die lughawe het ons getop vir ʼn lekker G&T by Elvis Brew se padstal en oppad na die helikopter, het hy gesê dat hy die vlieënier se arm gedraai het om oor my ouers se lodge te vlieg!  Ek natuurlik gedink dit was vreeslik cool!

Sal jy met my trou vanuit die vliegtuig:

Toe ons oor die Lodge vlieg het ek niks anders raak gesien as my familie wat gestaan en waai het en dit was wonderlik, maar toe sê die vlieënier hy gaan weer ʼn draai maak oor die lodge en hy vra toe “Maar wat staan daar onder?”  Die vlieënier het die helikopter so gedraai dat ek voel ek moes vasklou om nie uit te val nie en toe sien ek die lewensgrootte 15 meter lank banier op die gras wat se “Micayla will you marry me”?

Die Verlowing Tydperk:


Ek en Michael het Desember 2020 verloof geraak.  Ons was vir ‘n jaar en ʼn half verloof.  Ek en my ma het die troue beplan.

Trou Begroting:


Beide ons ouers het bygedra tot ons trou begroting, en ons het letterlik alles, my trourok insluitend, hieruit gedek.  Dit het ook aansienlik gehelp omdat ons in die winter getrou het met die koste van die trouvenue wat redelik goedkoper was in die lae seisoen as hoë seisoen somer troues.

Ons raad vir ander paartjies is om soveel kwotasies moontlik te kry en seker te maak die verskaffer het voorraad van wat jy in gedagte het. Blomme het ook baie goedkoper uitgewerk deur dit direk by die blommemark te bestel.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die mooiste oomblik van die hele dag was die lang opbou en uitsien na die troue wat uiteindelik gebeur het na so lank se uitstel a.g.v. Kovid.

Die oomblik toe ek afstap na die kapel toe ek sien al my familie en vriende sit en wag, toe ek vir Michael sien en hy vir my was dit net asof alles stil gestaan het, en dit was die wonderlikste gevoel wat daar was.  Ook toe my pa my moes afgee aan hom het ons net albei besef die oomblik het aan gebreek waarvoor ons albei al só lank voor wag.  Die pastoor wat die huwelik ingeseën het met die mooiste boodskap.

Oor die algemeen hoe pragtig al ons troubeplanning gerealiseer het daardie dag en dat daar soveel liefde in die lug was.

Die Besluitnemingsproses:


Ek as die bruid het al die finale besluite geneem nadat ek en my verloofde van my visie vir ons sprokiesdag ingelig het.  Hy was mal oor my idees en het ʼn inset of twee gelewer, maar gesê dat ek moet voortgaan en hom verras!  Ek en my ma het al die trou reëlings getref en alles haarfyn beplan.  Dit was nie maklik omdat die venue in Oudtshoorn was, ek in Kimberley en my ma in George, maar vir meer perfek kon ek nie vra nie!

Vermaak:


Ons seremoniemeester het ʼn tafel speletjie met al die gaste gedoen waarby almal betrokke was.  Dit was ʼn lekker ysbreker.  Later die aand het ek en my bruidsmeisies ʼn spesiale dans vir Michael gedoen om hom te verras en ook skaam te maak.  Ons het maande voor die troue geoefen en ons was vreeslik opgewonde hieroor en die gaste het die vermaak baie geniet.

Paartjie se styl:


Ons styl is baie modern, maar ook elegant.  Ek het daarby gehou in alle aspekte van die troue en ons “look” .  Ek wou anders as die normale bruid wees daarom was ons inspirasie vir ons “look” en foto’s baie Pinterest / Vogue / modern bruidspaar.

Spesiale Tradisies:


Ons het twee sjampanje torings in plek van die normale bottels op die tafels gehad.  Met die instap by die onthaal area het Michael die een toring glase vol sjampanje geskink, en ek het die ander een waarna die glase aan al die gaste by die tafels bedien is.

Ek het ook nie my bruidsruiker gegooi volgens tradisie. Ek het besluit om vir my ouma spesiaal te laat voel en na ʼn kort toesprakie vir haar die blomme te oorhandig op haar gunsteling Elvis Presley liedjie.  Sy het dit só waardeer en was baie emosioneel.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Niks het regtig verkeerd gegaan … alles van eenvoudig perfek.  Ek sou net die familie fotos dalk voor die onthaal geneem het … en natuurlik die sjampanje toring het ek bietjie mee gesukkel … ek was te kort en kon nie lekker bykom nie, met die gevolg dat Michael se glasies by sy toring al vol was en ʼn paar manne my moes kom help.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons gunsteling trou diensverskaffers was beslis ons videograaf Zandre van Cinastage en ons fotograaf Elani van Reflective photography.  Hulle is albei uitstekend in wat hulle doen.  Hulle het presies my styl vas gevang.

Venue & Dekor:


Die trou dekor inspirasie was modern swart wit en goud, baie minimalisties en baie groenigheid .  Ons troue was baie “trendy”, daarom het ons besluit op die swart wit en goue tema.

Die trou venue het ons gekies omdat die onthaal area presies is wat ons wou gehad het, en het mooi in gepas by ons tema.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Maak 100% seker dat die venue wat jy kies perfek is vir dit wat jy in gedagte het met betrekking tot spasie en ete voorsiening.  Maak ook seker dat jou diensverskaffers presies weet wat jy van hulle verwag.  Kommunikasie is baie belangrik, veral met die venue se personeel.

Eerste Dans:


Ons het vir een dansles gegaan, maar ons albei het gevoel dat die “ballroom” danspassies ons soos besems laat voel het.  Ons het toe van liedjie verander en Ben E King se “Stand by Me” gekies.  Die woorde is spesiaal en treffend en ook omdat dit meer “old school” is wat die meeste mense ken.  Ons het ons eie dansie uitgewerk met een of twee spesiale passies en dit was spesiaal!

Wittebrood:


Ons albei vrek oor die Tuinroete, so ons het in die omgewing klomp mooi plekkies besoek.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]