Jenovaan & Carly se Minimalistiese Troue

Met opgewondenheid deel ons Jenovaan en Carly se minimalistiese troue.  Die paartjie was in die Top 4 van Mooi Troues se Troue van die Jaar 2021 kompetisie. Baie geluk aan die paartjie! Hulle het ‘n fantastiese prys gewen na Sky Villa Boutique Hotel in Plettenbergbaai vir 2 nagte, ter waarde van R 28,650.  Klik hier om meer te lees van dié fantastiese prys

Jenovaan en Carly het hul troudag gevier by Murasie ʼn moderne trou venue geleë tussen Baardskeerdersbos en Gansbaai.  Hierdie pragtige venue is nie net modern nie, maar ook omring deur prentjie mooi natuurskoon.  Dit is die ideale bestemming vir paartjies wat opsoek is na ʼn venue met baie glas en natuurlike lig.  Die eenkant van die venue het die mooiste rou steen muur, wat die perfekte kontras skep met die glas.

Hul trou dekor is minimalisties met die mooiste wit rose op die rou hout tafels.  Tikseltjies groen, roosgoud en swart elemente bring ʼn bietjie kleur tot die tafel dekor en skep ʼn goeie balans.  Die deurskynende stoele pas perfek in by die moderne styl van die paartjie se troue.  ʼn Swart troukoek was ook ʼn fokus punt en die rose op die koek het so mooi ingevloei by die res van hul dekor.

Die paartjie het gegaan vir ʼn swart en wit tema vir hul troue, definitief ʼn klassieke tema wat altyd in die mode sal wees.  Jenovaan het ʼn swart troupak en wit hemp aangehad en het baie deftig gelyk op hul troudag.  Carly was beeldskoon met haar pragtige trourok met ʼn lang sleep.  Die detail op haar trourok se bokant en skouers is pragtig.  Dieselfde detail sal jy ook op die agterkant van haar trourok sien.

Rol af om meer te lees oor Jenovaan en Carly se liefdesreis as paartjie en hulle minimalistiese troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek was in my finale jaar van studie op Stellenbosch en hy het gewerk in my tuisdorp, Genadendal.  Omdat ek nie juis baie rondbeweeg het as ek by die huis was nie, het ek nie geweet wie hy was nie.  Omdat dit ’n baie klein dorpie is, het hy ook net geweet wie ek was deur ‘word of mouth’.  Ons het uiteindelik deur van sy kollegas ontmoet en was aanvanklik nie aangetrokke tot mekaar nie. Nie een van ons het regtig ’n verhouding gesoek of van mekaar gehou nie, maar soos die spreekwoord sê, ‘One thing led to another …’ Ons kon net oor baie dinge saampraat ten spyte van ons groot verskille in persoonlikheid.

Ons was een en ‘n half jaar saam voor hy gevra het om te trou en ek het sonder twyfel “Ja” gesê.  Ek’t ’n voëltjie hoor fluit dat hy daardie Desember (2019) sou vra, maar toe gebeur dit reeds in Junie.  Ons was op ’n naweek wegbreek in Kaapstad en hy het gedurende die Springbok-All Black rugbywedstryd gevra – Iets wat ek nogal nie verwag het nie, want hy’s ’n stoere All Black ondersteuner!  Hy was die vorige aand baie onrustig en het baie verdag goedjies gedoen, maar nooit het ek dit verwag nie.  Die verlowings tydperk was nogal ’n aanpassing omdat ons langafstand was – gewoonlik is dit die opwindendste tyd van die hele proses, maar ons het deurgedruk en dit gemaak werk.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was omtrent 1 jaar en 8 maande verloof.  As gevolg van Kovid-19 kon ons toe eers Februarie 2021 trou, al was die plan aanvanklik September 2020.  Omdat ons so baie tyd gehad het en ek baie vol fiemies is, het ons alles self beplan met die hulp van my susterskind.  Ek het die tonne trou idees gehad en sy het dit almal bymekaar gebring om die dag af te rond.  Nog een van die redes hoekom ons nie ’n troubeplanner wou hê nie, is omdat beide van ons eenvoudig is en baie minimalistiese smaak het – iets wat self gedoen kon word vir veel goedkoper.

Trou Begroting:


Ons het nie regtig ’n begroting gehad vir die troue nie, maar het definitief gespaar waar ons kon.  Daar was nie gaste geskenkies of enige ander tierlantyntjies gehad wat mense in elk geval vergeet of op die tafels agterlaat nie.  Ons was ook ingestel daarop om klein besighede te ondersteun so ver ons kon, omdat ons weet watter impak Kovid-19 gehad het op hulle.

Ons het 100 gaste onthaal en is nie ‘n dag daaroor spyt nie, omdat dit werklik mense is wat op een of ander manier bygedra het tot wie ons is.

Die enigste raad wat ons kan gee is, SPAAR.  Troues kan regtig BAIE duur word.  Indien jy ’n trou begroting het, probeer om selfs minder te spandeer sodat jy nie na die troue skuld het of swaar trek nie.  Moet ook nooit troue hou om ander mense tevrede te stel of te beïndruk nie – trou vir die huwelik, nie die troudag nie.  Julle as paartjie is op julle eie nadat die ligte afgaan.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir Hom:

Dis moeilik om te kies tussen die oomblik toe ek sien hoe sy en haar ma die eerste keer oor die houtbrug aangestap kom en die realiteit finaal insink en die heel eerste soen as wettige getroudes. Maar as ek moet kies, sal dit beslis die soen wees wat die huwelik verseël het.  Ek het nie verwag dat mens ooit die verskil sou kon voel nie, maar ek het!  Dit was ’n oomblik waar God fisies betrokke was.  Natuurlik was daar ander intieme oomblikke in aanloop tot die huwelik, maar niks in vergelyking met die soen na afloop van ons geloftes aan God en onsself nie

Vir Haar:

Die hele dag was vir my een emosionele warboel, omdat die realiteit ingesink het dat my ‘Daddy’ my nie sou ‘weggee’ nie, maar toe ek Jenovaan sien, het die storms in my rustig geraak.  Ek het tuis gevoel en geweet dat ek die regte besluit gemaak het – my pa het van hom gehou en sou beslis ons huwelik goedkeur.  Nog een was toe my broer ons gedurende die toesprake ‘videocall‘ vanuit Amerika.  Hy kon nie die troue bywoon nie, omdat hy voor die troue moes terug keer werk toe.

Paartjie se styl:


Ons is beide baie eenvoudige, minimalistiese mense, maar hou van die verrassingselement.  Ek kon nie regtig ’n trourok kry waarvan ek hou nie en het toe besluit om een te laat maak met inspirasie vanaf twee Enzoani rokke.  So van voor af het my trourok dood eenvoudig gelyk, maar die verrassing was agter in die sleep van kant.  Jenovaan se baadjiepak het ’n ’embossed’ patroon opgehad wat slegs van naby gesien kon word.

Wat die ringe betref, beide van ons hou van roosgoud, so dit het net sin gemaak dat ons ringe van roosgoud sou wees.  My verloofring was ’n eenvoudige, maar pragtige ring met ’n ronde diamant en twee reghoekige aan beide kante.  Die pant is eenvoudig, met klein diamantjies.  Jenovaan is ’n ingenieur en wou hy iets kry wat nie maklik sal krap of skrape uitwys nie.  Titanium Studio het die perfekte swart en roosgoud ring gehad, waarin ek ’n boodskappie in laat graveer het.

Die Besluitnemingsproses:


Ek het altyd gespot en gesê my troue is klaar beplan, ek wag nog net vir die man!  Ek was nooit die tipiese meisie wat haar troudag vanaf 15 jaar oud af beplan het nie, maar toe ek Jenovaan ontmoet, het ek ’n voorgevoel gehad dat hy ‘Die Een’ is.  My Pinterest borde kan daarvan getuig!

Soos voorheen genoem was meeste van die besluite deur my gemaak, maar natuurlik was hy deel daarvan – hy kon sy opinie lewer en noem wat hy graag wou hê of waarmee hy nie saamgestem het nie.  Hy is ’n baie gemaklike mens en ek kon hardloop met my idees.  Hy het gespot en gesê dat hy net sal opdaag op die dag.

Behalwe die kleurskema, was ons baie geheimsinnig met wat ons ingedagte gehad het omdat ons die gaste wou verras, so familie en vriende het nie regtig ’n rol gespeel in die besluitneming nie – juis omdat ek ook klaar my idees gehad het van wat ek wou hê.  My bruidsmeisies het min-of-meer ’n idee gehad van wat ons wou doen.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Die wind het daardie naweek verskriklik gewaai en my sluier amper uit my kop uit gewaai op pad seremonie toe, maar toe ons daar kom, was dit windstil.

In die haas na die seremonie, het een van die bruidsmeisies perongeluk die lêer met my geloftes en die ID-foto’s in verkeerde motor gesit en ons het dit eers besef toe ons by die venue aankom.  Die seremonie moes aangaan daarsonder en my vriend wat dit moes gaan haal het die hele seremonie misgeloop en ek moes my geloftes uit die kop doen.

Ons het ook baie min te ete gekry omdat ons op ’n tydlyn was (Covid-19 het tydsbeperkinge gehad) en ons hou van eet!  Ons moes die aand na die onthaal ons kos eet.  Maar niks was so erg dat ons dit enigsins berou of sou wou verander nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Toekomstige Bruid:

Moenie te veel stres oor dit wat jy dink verkeerd sal gaan nie.  Fokus op dit wat vir jou belangrik is.  Ander mense gaan altyd opinies hê oor ALLES!  Moenie toelaat dat dit jou spesiale tyd ontsuur nie en moenie dinge doen om ander mense tevrede te stel nie.  Geniet net die proses en moenie vergeet hoekom jy trou nie.  Julle is vennote, moenie jou ander helfte uitsluit by besluite wat gemaak word nie.  Maak tyd vir JOUSELF.  Jou gesondheid is belangrik.

Toekomstige Bruidegom:

Ondersteun jou wederhelfte in alles wat julle doen.  Sy is tien teen een 10x so gestres soos jy omdat vroumense mos maar altyd dinge oordink.  Maak tyd vir jouself en jou strooijonkers om te ontspan voor die groot dag.  Jou manne is daar om jou te ondersteun en by te staan deur die hele proses.  Geniet die troue, maar maak seker dat die huwelik die eerste prioriteit is.  Sit God eerste in alles wat jy aanpak en besluit en dinge sal alles in plek val.

Vermaak:


Ons het slegs ’n platejoggie gehad wat musiek gemaak het omdat Kovid-19 nog ’n beperking op die aantal mense by geleenthede geplaas het.  Hy het beide die seremonie en onthaal gedek.

Venue & Dekor:


Jenovaan het regtig vrye teuels aan my verleen ten opsigte van die troue en het vertroue gehad in my besluite.  Ek wou ’n glas venue hê wat die natuur ‘inlaat’.  Hy het saamgestem omdat beide van ons natuurliefhebbers is.  Dit het die soektog makliker gemaak omdat daar nie veel trou venues van glas in die Wes-Kaap is nie.  Baie van die ander venues was of te duur of nie beskikbaar nie.  Toe ek uiteindelik op Murasie afkom, het ek my hart daarop gesit en onmiddelik ’n deposito betaal – sonder dat ons die venue besoek het!

Wat trou dekor betref was minimalisties die trefwoord.  Ons wou regtig nie baie ‘geraas’ maak met die dekor nie, omdat die venue op sy eie beeldskoon is.  Ons trou kleure was wit en swart en omdat die gaste en gevolg almal swart gedra het, was die dekor wit- perfekte representasie van ons Yin-Yang verhouding.

Gunsteling Diensverskaffers:


Al ons verskaffers was regtig baie lekker om mee saam te werk, maar die grotes was definitief die venue (Murasie), die spysenier (Alida Groenewald) en die fotograaf (ReLife Photography).  Tannie Leana van Murasie was regtig ’n fees om saam te werk.  Enige vrae en idees wat ons gehad het, kon ons aan haar rig en sy het seker gemaak dat ons tevrede is op die ou einde.

Die spyseniering het ons verwagtinge oortref!  Ons gaste kon nie uitgepraat raak oor die kwantiteit of die kwaliteit daarvan nie, en hulle is maar ‘tough crowd’ om tevrede te stel.  Tannie Alida het ook gesê dat alles wat oorbly huis toe kon neem, wat nie sommer gebeur nie.

Charles van ReLife Photography het ook ons verlowingsessie gedoen en dit was regtig lekker om met hom te werk.  Ons kon idees uitruil en noem wat ons graag wou hê.  Wat dit selfs beter maak is die feit dat ons glad nie baie lank gewag het vir ons foto’s nie.  Ons het ook die foto’s op drie maniere ontvang-  WeTransfer, ’n USB-stokkie en die trou album.

Eerste Dans:


Ek is glad nie ’n danser nie en het seker die eerste dans die meeste gevrees, my man aan die ander kant is baie meer spontaan en ’n veel beter danser.

Ons eerste dans was op ‘Ek wil vir jou‘ deur Lizandra Winter en Joshua Na Die Reën.  Daarna het ons oorgeslaan na ’n los dans op ‘Plot Twist‘ van Marc E. Bassy.  Dit was my man se keuse, want hy wou iets anders doen, maar dit het ook die ‘plot twist’ van ons verhouding perfek vertel.

Ons het nie vir danslesse gegaan nie, omdat ek gedurende ons verlowings tydperk in Franschhoek gewerk het en hy by die huis in Riversdal.  ’n Dans wat choreografeer was sou te veel moeite en dinkwerk vir my gewees het!  So, die dansery was dus vir die gaste en vir my ’n groot verrassing!

Wittebrood:


Die wittebrood was my man se afdeling en hy wou baie graag Phuket toe gaan vir wittebrood, maar Kovid-19 het ons Durban toe gestuur. Dit het ons die kans gegee om bietjie ons eie land te verken.  Phuket is steeds op die ‘bucketlist’ vir die toekoms.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]