Koos & Susan se klassieke troudag in Jeffreysbaai

Met opgewondenheid deel ons Koos en Susan se klassieke troudag in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap met jou.  Koos en Susan was in die Top 4 van Mooi Troues se Troue van die Jaar 2021 kompetisie.  Baie geluk aan die paartjie!  Hulle het ʼn fantastiese prys gewen vir 2 nagte na Walkersons Hotel & Spa in Dullstroom, ter waarde van R 16,430.  Om meer van dié fantastiese prys te lees, klik asseblief hier.

Die paartjie se troudag het ʼn klassieke en stylvolle gevoel gehad. Susan het asemrowend gelyk in haar trourok met ʼn elegante styl detail oor die skouers en rug.  Koos se swart troupak met wit hemp het ʼn formele voorkoms gegee wat perfek is vir die paartjie se klassieke trou styl.  Hulle het ʼn buitelug seremonie gehad onder ʼn deurskynende markies tent.  Die mooiste blom ontwerpe was die agtergrond van die kansel.

Hulle trou venue was so mooi versier met skakerings van bessie-kleure soos  pienke, perse, en wynrooi.  Tikseltjies elemente van swart het ʼn kontras geskep en ʼn dramatiese voorkoms gegee aan hul trou dekor.  Die hooftafel het die mooiste donker tafeldoek met blom patrone op gehad, wat aandag getrek het.  ʼn Lang blom ontwerp het bo die hooftafel gehang, wat só mooi was.  Die rou hout tafels het so mooi gewerk saam met die dekor elemente op die tafel en alles het net so mooi bymekaar ingevloei.

Hul mooi troukoek was drie lae, met die onderste laag versier in ʼn blomme patroon, die tweede met ʼn borrel tekstuur en die boonste laag ʼn onversierd koek en met vars vye, bessies en blomme.

Koos het Susan bederf met ʼn lekker plaaslike wittebrood, wat altyd ʼn treffer is.  Rol af om meer te lees oor Koos en Susan se liefdesreis, trou advies en die mooiste foto’s van hul klassieke troudag.

Paartjie se Liefdesreis:


Stellenbosch was nog nooit so mooi soos Januarie 2015 nie.  Ons was beide studente, dit was die naweek van jool en ons was genooi na ʼn partytjie by ʼn gemeenskaplike vriend se huis.  Die res is geskiedenis.  Koos het in 2015 klaar gemaak met sy studies en in die Paarl by ʼn Ingenieurs Firma gaan werk, ek het in 2019 ook in die Paarl by ʼn Biokinetika praktyk begin werk.

Die liefde het behoorlik geblom in die Boland vir die volgende 5 jaar.

Daar was geen manier dat hy die verlowing van my sou kon wegsteek nie, maar op 4 Junie 2020 het hy dit GOED reg gekry.  Met die hulp van ʼn fotograaf het hulle my letterlik om die (olyf) bos gelei – Inecke Jonker, ʼn bekende fotograaf in die Boland, en ook ʼn baie goeie vriendin van my het my laat verstaan ek moet haar dringend uithelp en ‘model’ speel tydens ʼn fotosessie wat sy moet doen by ʼn wynlandgoed in die Paarl.

Dit was ʼn week aand, dit was in die Kovid tydperk en Koos was by die werk, wat is die kans ons word verloof?  Volgens my moes hy nog ouers vra!  Dit was ʼn prentjie mooi oomblik terwyl ek ‘model’ speel in ʼn olyf boord op die Ex Nihilo wynplaas (Nou bekend as Olijvenkraal).  Lang storie kort, toe ek weer kyk toe staan die man op sy knie.  Alles was prentjie mooi en het al my verwagtinge oortref.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was ongeveer 10 maande verloof.  Na ons verlowing het ons dadelik weg gespring met die beplanning van ons groot dag.

My ma ken my die heel beste en ek het al van kleintyd af gesê dat sy eendag my troue gaan beplan, sy was onmiddelik as my offisiële trou beplanner aangestel.  Met die hulp van die Rosebarn span het ons ʼn ‘mean team’ gemaak!

Inspirasie van Mooi Troues gekry?


Ons het verskeie skakels en foto’s op Mooi Troues se webtuiste gebruik en in ons ‘trou inspirasie boek’ geplak.

Trou Begroting:


Ons het vroeg in die beplannings proses ons begroting vasgestel en het ons goed van ons taak gekwyt om daarby te hou.

My advies aan ander paartjies is om so gou moontlik ʼn trou begroting op te stel, en te besluit waarop jy bereid is om bietjie meer te spandeer.  Almal se behoeftes is anders en dus sal die uitleg van begrotings verskil.  Dit is ook belangrik om tussen 3-5 kwotasies by verskillende verskaffers te kry om ʼn beter idee te kry van kostes.

Merkwaardigste Oomblikke:


Susan:

Ek kry hoendervleis en trane in my oë as ek daaraan dink.  Ek het die voorreg gehad om halfpad ingebring te word deur my broer, hy het my oorgegee aan my pa.  Die oomblik toe ek by my pa inhaak en my toekomstige man sien, dit was onvergeetlik.

Koos:

WOW! Wat kan daardie oomblik top toe my vrou in die kerk ingestap kom!  Dit was ongelooflik.

Dit was vir ons besonders spesiaal om die aand te kon vier saam met die mense vir wie ons die liefste is.

Die Besluitnemingsproses:


Ons is albei baie georganiseerd en het presies geweet wat ons wou hê.  Dit was wonderlik om die beplanning van ons groot dag saam te kon doen en ons is so dankbaar vir die hulp van ons ouers en die Rosebarn-span.

Paartjie se styl:


Stylvol en klassiek!

Susan:

My trourok het my styl en persoonlikheid weerspieël.  Ek het nog altyd geweet wat ek wou hê en ook, nog voor ek my man ontmoet het, geweet wie die ontwerper gaan wees.  Saam het ons besluit op kant met kristal-borduurwerk.  My trourok was elegant, stylvol en baie gemaklik.  Die wasige sluier en sleep van 3 meter het ʼn dramatiese en romantiese gevoel geskep.  Die indrukwekkende sleep het my soos ʼn prinses laat voel.

Koos:

Ek het van dag een af geweet ek gaan in ʼn swart pak trou.  Die tema van ons troue was streng formeel en dus het ʼn swart pak van Carducci perfek gepas.  My troupak was afgerond met ʼn dun swart das en formele swart Polo skoene.

Trouringe:

Ons altwee hou van tydlose mode en wou geen krulletjies en fraaitjies hê wat die ringe aanbetref nie.  Koos het vir ʼn stylvolle Titanium pand gegaan en ek vir ʼn klassieke goue solitaire ring.

Spesiale Tradisies:


Ons troue was 100% tradisioneel!  My pa het my in die kerk ingebring, die gooi van die handruiker en kousband het vir by vermaak gesorg.  Die troukoek is gesny en toe die dansbaan eers geopen is, was daar geen stop aan die partytjie nie.  Trane van blydskap het gerol met die pa en dogter dans.  As bruidspaar het ons seker gemaak om tot die laaste gas af te sien.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Aan toekomstige bruide:

Moenie bang wees om raad te vra by dames wat al deur die proses is nie.  Daar is so baie moets en moenies, elke bietjie advies is kosbaar.  Wat jou trourok aanbetref sal ek definitief aanbeveel om verskillende style rokke te gaan aanpas, al het jy ʼn prentjie in jou kop.  Jy trou net een keer, jy het net een kans om die trourok van jou drome te kies.

Aan toekomstige bruidegomme:

Ondersteun jou verloofde, moenie terug staan en dink sy wil alles reël nie.  Toon belangstelling en lewer insette.

Venue & Dekor:


Die maklikste besluit van die hele troue was om ons trou venue te kies.  Dit was nog altyd ʼn droom om eendag in my grootword-dorp te trou en boonop het The Rosebarn, in Jeffreysbaai, aan al ons behoeftes voldoen.

Die tema van die dag was beslis stylvol en klassiek!  Ons wou graag ons unieke persoonlike stempel gebruik om ons troue spesiaal te maak – van die trou dekor en -blomme tot die kos. Massiewe dahlias (so groot soos my hand) gemeng met rose, ranonkels, anemone en amaranthus in kleurskakerings van bessie, pienk, mauve, wynrooi met swart eetgerei het ʼn romantiese, luukse en dramatiese gevoel geskep.  Die blomme is gekombineer met verskeidenheid van vrugte soos trosse druiwe, granate, pers vy en granadillas.  Hierdie kombinasie het die gaste na hul asems laat snak.

Ek en my ma het honderde tydskrifte versamel en ure spandeer om die mooiste prentjies uit te kies.  Ons het ʼn ‘inspirasie boek’ bymekaar gesit wat ons gehelp het om elke stukkie detail perfek uit te kies.  Vinnig, vinnig het ons albei besef dat kleurskakerings van bessie, pienk, mauve en wynrooi die kleur van die dag gaan wees.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Indien daar iets verkeerd geloop het, het die span dit beslis goed weggesteek van ons.  Alles was so perfek!

Ek sou niks wou anders doen aan ons troudag nie.  Ek wens ek kan tyd terug draai en stop en net elke oomblik van daardie dag weer van voor af inneem en vasvang.

Wittebrood:


Koos was in beheer van die wittebrood reëlings.  Weereens het hy al my verwagtinge oortref.

Ons het ons wittebrood afgeskop in Sun City waar ons in die Cascades hotel gebly het.  Ons het soveel pret gehad, lekker geëet en skemerkelkies langs die swembaddens gedrink.  Dit was ʼn besige 4 dae en ons het nie vir ʼn oomblik stil gesit nie.

Ons eerste toets in ons huwelik was natuurlik toe ons, ons vlug terug Port Elizabeth toe mis.  Moenie bekommer nie, ons het oorleef.

Die tweede stop was by die Botlierskop Privaat Wildreservaat, waar ons in hul Deluxe Tented Suites gebly het.  Dit was ongelooflik!  Die diens, kos en fasiliteite was fantasties.  Hier het ons lekker ontspan, op wildritte gegaan, die spa besoek en Koos het self tyd gekry om vis te vang.

Eerste Dans:


Ons eerste dan was nie onderhandelbaar nie, en so ook nie ons liedjie nie.  Die dag wat ons ontmoet het, het daar ʼn CD in Koos se bakkie gespeel met treffers van Journey, Bruce Springsteen en al daardie legendes.  ‘Don’t Stop Believin’ van Journey‘ was op HERHAAL!   Dit was van dag een af ‘ons’ liedjie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Sonder twyfel ons Videograwe- TwentyTwenty Films.  Hulle was van dag een af uiters professioneel en het ons dadelik gemaklik laat voel en vir baie spesiale oomblikke gesorg.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: