Robert & Telani se Pret Verlowing Fotosessie

Ons deel graag met jou die pret verlowing fotosessie van Robert en Telani by Wolwespruit in Pretoria.  Dié paartjie wou graag natuur én industriële elemente in hul verlowing fotosessie en daarom het hul toe dié bestemming gekies.  Telani en Robert het baie pret gehad tydens hul fotosessie en jy kon sien hulle was op hul gemak met mekaar.

Om die fotosessie nog meer pret te maak het hulle bokse met twee snaakse gesiggies op gehad wat hulle hier en daar geïmplementeer het om ʼn prettige element tot die fotosessie te gee.  ʼn Baie oulike idee!  Geen verlowing fotosessie kan ʼn sukses wees sonder ʼn goeie fotograaf nie.  Besoek Mooi Troues se Trougids vir professionele trou fotograwe vir jou verlowing fotosessie.

By Mooi Troues lê ons altyd klem op die belangrikheid van ʼn verlowing fotosessie.  Daar is baie redes hoekom paartjie verlowing fotosessies doen.  Een van die redes is om meer gemaklik te raak voor die kamera, sodat julle op jul gemak is op jul troudag.  So kan paartjies seker wees hulle het ʼn stresvrye fotosessie en kry pragtige foto’s op hul troue.

Rol af om meer te lees oor Robert en Telani se pret verlowing fotosessie en hulle storie wat gely het tot hul verlowing.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Snaaks genoeg ons was bure gewees en ons pa’s het vroeër jare saam gewerk.  Uiteraard toe ek hoor ons nuwe bure is min of meer dieselfde ouderdom as ek, wou ek nuwe vriende maak.  My jonger broer sê toe hy sal sy rugbybal oorskop sodat ek die nuwe bure kan ontmoet.  Na ons ontmoeting, was ek heel beïndruk met die nuwe buurman. Sy broer was toevallig ook saam my op hoërskool (ja, ek was nog op skool) en so het ek dit reggekry om elke dag ʼn ry geleentheid saam hom te kry en ja!  Ek het die Bybelversie “Love thy neighbor” bietjie letterlik opgevat!

Ons was nege jaar in ʼn verhouding voordat ons verloof geraak het.  Ek het gevoel dis nou omtrent tyd!

Die groot vraag:


Ons het op die 27ste Februarie 2022 verloof geraak – 4 dae voor ons 9 jaar herdenking.  Ons het al daaroor gepraat en ons het al ʼn verloofring gaan laat ontwerp en trou venues gaan kyk.  Snaaks genoeg, die vorige dag het ons die venue waarop ons uiteindelik besluit het gaan besoek.  Ek het by myself gedink ons het die venue, maar ai, waar is my ring, want nege jaar is ʼn lang gewag.

Daardie Sondag, soos oudergewoonte, gaan ons na sy pa om ons Survivor-episode te kyk.  Dié Sondag se episode was toe nou nie die episode wat ek verwag het nie.  Hy het toe die episode so geredigeer dat Jeff Probst sê ‘Telanie, will you marry me?’  Dit was só spesiaal, want ek het altyd gesê ek wil hê hy moet my vra om te trou terwyl ons net soos oudergewoonte sit en Survivor kyk. Wel ja, toe ek opkyk, staan al ons familie daar met trane in die oë.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het beplan om so jaar verloof te wees, want ons wil baie graag op ons 10 jaar herdenking trou – 03/03/2023.  So hoef ons ook net een datum te onthou!

Die verloofring:


Eerstens wil ek net sê ek is MAL oor my verloofring.  Almal wat my ring sien sê net “Wow, dis só jy.”  Ek voel ook dis so ek, want wel, ek het die steentjies gekies en ons het saam die ring ontwerp. Elke steentjie het ook vir my ʼn spesiale betekenis wat ek daaraan geheg het.  So die ring was nie noodwendig vir my ʼn verassing nie, maar wel wanneer hy my sou vra.  Ek moes omtrent drie maande wag voordat hy die groot vraag gevra het.

Wat ook vir my nog ʼn verassing was, was die finale uitkoms van die ring, wat my verwagtinge heeltemal oortref het!

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek hou verskriklik baie van die natuur en ek wou dit iewers doen met die natuur in die agtergrond.  Ook het ek van die idee gehou van die tipe industriële/stad fotos.  Daarom na so bietjie se rondsoek het ek afgekom op Wolwespruit wat altwee agtergronde bymekaar het.

Ons wou graag hê die fotos moet net gemaklik wees, soos wat ons gemaklik is met mekaar en ons liefde vir mekaar uitbeeld en Annelizé van Anne Grace Photography het dit perfek vasgevang!

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: