Waldo & Doreen se Stylvolle Troue in Pretoria

Ons deel graag Waldo en Doreen se stylvolle troue in Pretoria met julle op Mooi Troues.  Die paartjie vertel dat hul by Mooi Troues inspirasie gekry het vir hul trou styl.  Die paartjie het in KwaZulu-Natal ‘n wittebrood gehou, ons lesers kan hier klik om meer van die plaaslike wittebrood bestemmings te lees wat ons al besoek het.

Trourok:

Doreen het so beeldskoon gelyk in haar pragtige trourok van Timeless Bridal Couture.  ʼn Bruid het soveel meer selfvertroue en voel goed op haar troudag as sy ʼn trourok aanhet wat so mooi is.  Ons is gaande oor die vloeiende onderdeel van die rok en die detail aan die bo-kant asook die oop rug.  Prentjie mooi!  Timeless Bridal Couture is geken in Pretoria en regoor Gauteng as kenners in die trourok bedryf.  Met ʼn groot reeks trourokke om van te kies, kan jy nie verkeerd gaan nie.  Waldo het self baie dapper gelyk in sy troupak en so ook die strooimeisies en strooijonkers.

Troudekor:

Vir hul troudekor het hulle gegaan vir meer simplistiese, maar baie stylvolle elemente.  Ons hou van die aarde kleure wat so mooi inpas by die Wit, Groen en tikseltjies Goue elemente van die trou dekor.  Wit blom ontwerpe in sagte neutrale kleur potjies langs die lang maer kerse in dun goue kersstaanders werk perfek saam.  Dit staan so mooi uit op die hout tafels.  Deurskynende stoele is gebruik, wat jou aandag op die tafel hou en ʼn moderne element tot die trou dekor skep.  Die talentvolle trou bloemis en dekor stilis, Love Beloved het die paartjie se trou dekor asook blom ontwerpe gedoen.  Love Beloved is uiters talentvol en kan enige troue in ʼn sprokies troue verander.  Met jare se ondervinding en ʼn professionele span sal Love Beloved seker maak jou troudag is presies wat jy ingedagte gehad het.

Rol af vir meer foto’s van Waldo en Doreen se stylvolle troue in Pretoria en om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Doreen:

Ons het mekaar baie toevallig by ʼn mandjiedans ontmoet.  Ek en my vriendin was op pad huis toe en het met sleutels in die hand gestaan toe Waldo en sy vriende daar opdaag.  Ek het toe vir my vriendin gesê: “Wel dit lyk of hulle kan dans.”  Ons het toe ʼn rapsie later gebly en aan die einde van die aand het Waldo my gevra of hy my vir ontbyt kan vat.  Hy skeduleer toe op Outlook vir ons ʼn ontbyt afspraak en ek lees toe die tyd verkeerd en sê nee.  My vriendin wys my toe dat ek die tyd verkeerd gelees het en toe voel ek soos ʼn pampoen toe ek hom bel en sê, ekskuus ek kan blykbaar nie tyd lees nie, maar ja, ons kan daai tyd vir ontbyt gaan.  Die res is natuurlik geskiedenis.

Waldo:

Ek het Doreen verras en vir ons ʼn spesiale staproete in die Magaliesberge geboek (ons hou baie van stap en die buitelewe so dit was darem baie lekker).  Toe ons daar kom het ek by elke hoogtepunt gesê ons moet nog hoër en nog hoër, want ek het die mooiste uitkykpunt gesoek.  Toe ons uiteindelik by die mooiste uitkykpunt kom het ek op een knie gesak en die groot vraag gevra. Dit was een van die beste avonture van my lewe!

Die Verlowing Tydperk:


Waldo en Doreen:

Ons was verloof van 27 Junie 2021 tot 19 Februarie 2022 en het nie ʼn troubeplanner gehad nie.  Ons het saam begin dink aan ʼn gevoel en kleure wat ons op ons troudag wil hê en van daar navorsing begin doen en diensverskaffers begin soek.  Instagram het ons baie gehelp.  Ons het baie van Instagram-profiele gebruik gemaak.  Dit skep ʼn mooi portefeulje van diensverskaffers se werk en waartoe hulle in staat is.  Dit het die beplanningsproses baie vergemaklik.

Die Besluitnemingsproses:


Waldo en Doreen:

Ons het al die finale besluite saam geneem.  Met sommige van die goed het Doreen wel die navorsing gedoen en dan ʼn hele paar opsies vir my voorgehou.  Dan sou ons saam gesels en kyk wat die beste pas en saam besluit.  Ons wou van die begin af hê ons beide moet so betrokke as moontlik wees, want dit is tog ons al twee se dag.  Waldo het ook ʼn goeie oog en ʼn paar keer het hy baie goed raakgesien wat ek nie eens sou opmerk nie.  Dit was heerlik om dit so saam-saam te beplan.  Ons het ook vir vriende en familie vir insette gevra of vir hulle gewys wat ons besluit het, sodat hulle ook deel van die dag en die beplanning voel.

Merkwaardigste Oomblikke:


Doreen:

Daar was soveel ongelooflike oomblikke!  Die gereedmaak die oggend saam met ons ouers en die bruidsmeisies was baie spesiaal.  Daai oomblik waar jy voor die kapel staan voordat die deure oopgaan en jy die eerste keer jou aanstaande man en al die gaste sien is so merkwaardig.  Dan natuurlik voor die kapel wanneer julle mekaar die eerste keer sien – geen woorde nie!

Nog een was ons troukoek.  Met die roomys-koek het ons ʼn rapsie meer gesukkel om hom te “sny” as wat ons antisipeer het.  Dit was soveel pret om te sien hoe die gaste dit saam met ons geniet het.  Dit is iets wat ons altyd sal bybly.

Waldo:

Definitief toe Doreen by die kapel ingestap het en ons eerste dans!

Paartjie se styl:


Waldo en Doreen:

Ons styl was baie eenvoudig en het gegaan vir ʼn romantiese elegante gevoel.  Ons wou hê dit moet tydloos wees.

Die trourok het ons by Timeless Bridal Couture gekry.  Baie van my vriendinne wat al getroud is, is ook deur hulle gehelp en ek het geweet hulle pryse is kompeterend en hulle diens fantasties.  Elke passing het seepglad verloop.  Met die kies van jou rok, laat hulle jou werklik ook soos ʼn prinses voel.

Waldo se troupak het ons by London Royal gekry.  Ons was by baie plekke en het vreeslik navorsing gedoen omdat ons ʼn grys somerspak gesoek het.  Dit het ook uitdagings gebied i.t.v. die olyfgroen en goud, want ons was bang die kleure sou bots, maar ons het dit oorbrug deur toe vir hom net leer bykomstighede te kry.  London Royal se pryse met maatwerk en alles ingesluit en hulle diens was net die heel beste.

Waldo het my trouring laat maak by Poggenpoel Jewellers en ek het syne by ʼn klein juweliers winkeltjie in die Shelly Centre by Shelly Beach gekoop.  Dit was ʼn baie toevallige “find”, maar dit was perfek.

Gunsteling Diensverskaffers:


Waldo en Doreen:

Al ons diensverskaffers was net absoluut fantasties.

  • Van die trourok en troupak, tot die dekor maatskappy (LoveBelovedStudio).
  • Ons trouskryfbehoeftes (Maake Atelier en Zani designs) het so mooi die gevoel van ons troue vasgevang.
  • Ons grimering- en hare span (Studio S Hairstyling en Beautiful Change), Simoné en Corné, is die lieflikste mense om mee saam te werk.
  • Die trouvenue (Rolling Waters) – Leandi en haar span is net ongelooflik! Alles het seepglad verloop. Goed waaraan ek en Waldo nie eens kon dink nie het hulle vir ons uitgedink en reggesit.  Die troukoek (WhiskAway) was dié lekkerste en Leandi se span het dit sommer vir ons mooi opgemaak, want ons moes die tyd mooi uitbeplan dat dit nie smelt nie.
  • Die spyseniering (Laughing Chefs) – WOW! Lekkerste troukos ooit!
  • Dan ons troufotograaf (Lief photography) – Karla is die wonderlikste mens om mee saam te werk. Ek dink die foto’s is vanselfsprekend.  Die moeite wat sy doen en haar oog vir ʼn mooi foto is net iets besonders.
  • Die bruidsmeisies se rokkies en my japon wat deur Ronel (Mrs. Rose) gemaak is, was ook so ʼn moeitelose proses.  Ons het nie vir een passing gegaan nie en alles het perfek gepas.  Ronel het soveel moeite gedoen om vir my verskillende materiale te stuur waaruit ons kon kies.
  • Die mans se dasse (His apparel) was ook perfek.
  • My trouskoene het ek by BluBetty gekoop en ek het soveel komplimente ontvang, ek kan dit definitief aanbeveel.

Venue & Dekor:


Waldo en Doreen:

Ons het geweet ons wil naby die huis trou, so Pretoria was maar ons area waarin ons gesoek het.  Ons het toe ʼn klomp venues op Google gesoek en ʼn lys gemaak van dié wat die mooiste vertoon.  Natuurlik het ons ʼn streng begroting gehad so daarna het ons ʼn BAIE omvattende Excel-sigblad opgestel waar ons vergelyk het wat alles by die verskillende venues ingesluit word en wat nie. Ons het toe die venues gesorteer volgens goedkoopste na duurste en begin afsprake maak.

Die venue wat ons op die ou einde gekies het was in die top-5 van ons Excel-lys en ons het sommer op die ingewing van die oomblik ʼn Vrydagmiddag na werk gou na hom gaan kyk. Ons was totaal verlief, want die moderne industriële styl is net fantasties.  Ons het toe besluit ons kan nie die eerste venue boek nie en nog afsprake met ander venues gereël.  Die tweede venue waarna ons gaan kyk het was egter so teleurstellend teenoor die eerste een dat ons net daar besluit het ons kanselleer al die ander afsprake en boek die eerste venue.

Ons dekor maatskappy het Doreen op Instagram opgespoor.  Ons het sommer daar ook na Coreen se werk gekyk en was dadelik verlief.  Sy het onmiddellik ons styl gesnap en geweet wat ons wil hê en dit presies op die dag weergegee.

Trou Begroting:


Waldo en Doreen:

Ons begroting was baie beperk so ons moes mooi werk om binne daardie raamwerk te bly.  80 Gaste was onthaal by ons troue.  Ons het maar baie goed op wens lysies gestoor en toe met Black Friday ʼn hele paar winskopies gekry.  Ons het ook by verskeie van ons diensverskaffers afslag gekry op goed, wat baie gehelp het.  Van die begin af het ons besluit om dit eenvoudig te hou.  Mense raak te vinnig vasgevang in klomp onnodighede wat by ʼn troue moet wees.  Eenvoud is altyd beter.

Het jul inspirasie van Mooi Troues gekry?


Ek het definitief by Mooi Troues inspirasie gekry vir ons styl en gevoel waarvoor ons gegaan het.  Ek het hier ook gesien wat nodig is op ʼn troue en wat minder nodig is.  Mooi troues bied regtig die mooiste inspirasie en is ʼn wonderlike bron wanneer jy troue beplan, maar ook na die tyd om na nog mooi verhale te kyk.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Doreen:

Kyk mooi waar jy kan spaar.  Moenie vasgevang raak in onnodige goed wat mense jou laat dink jy moet kry op jou troudag nie.  Bly mooi binne jou begroting en maak seker jy het een.  Wees ook slim wanneer jy wel iets bietjie duurder wil koop.  As jy kan, beplan dit só dat dit oor Black Friday is.  Glo my, dit help ongelooflik baie.  Kyk ook mooi dat jy nie al die bekende groot verskaffers gebruik nie.  Daar is baie onbekende plekke wat nou begin naam maak wat net so fantasties is.  Hou ook by eenvoud.

Waldo:

Kyk na jou begroting en bly daarbinne.  Kyk waar jy ʼn geldjie kan spaar deur iets goedkoper te kry.  Doen navorsing en soos ons met die groot besluite gemaak het – stel ʼn Excel-sigblad op.  Dit maak die vergelykings makliker.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Waldo en Doreen:

Daar het nie een ding verkeerd geloop nie.  Alles was só perfek. Selfs die roomys-troukoek wat ons so uit gestres het dat dit gaan smelt en nie mooi gaan lyk nie ens. het so perfek uitgedraai.  Ons het ʼn fantastiese span mense gehad wat saam met ons gewerk het en ons ondersteuningstruktuur van vriende en familie het almal saamgekom om ons te help om die perfekte dag te hou.

Vermaak:


Waldo en Doreen:

Daar was ʼn platejoggie gehad wat vir ons musiek by al die verskillende gedeeltes van die troue gespeel het.  Ons het ʼn speellys voor die tyd opgestel en aan hulle gestuur.  Ons het gespesifiseer waar hy wat moet speel en dit was perfek!

Wittebrood:


Waldo:

Ek het dit as ʼn totale verrassing vir Doreen beplan.  Ek het geweet omdat alles so deurmekaar is met Kovid dat ons nie regtig oorsee wil gaan nie.  Die stres met al die inentings en sertifikate ens. is net te veel.  Ek het toe begin dink aan al Doreen se gunsteling plekke.  Sy is mal oor die Wildtuin (of Safari’s), die Drakensberge en die see.  So ek wou toe al drie in bietjie meer as ʼn week inpas.

Ek het toe besluit KZN bied vir ʼn mens al drie opsies.  Ons was eerste na die Champagne Castle Hotel toe (Drakensberge) en daarna na Rhino Ridge Safari Lodge (Safari) en om af te sluit het ek vir ons by Kosi Forest Lodge (See) bespreek.  Al drie plekke was nie vreeslik ver uitmekaar nie so ons het nie onnodig baie tyd op die pad spandeer nie.  Dit was ook elke keer ʼn avontuur om na die nuwe plek te ry en te sien hoe opgewonde en nuuskierig Doreen is.  Ons het ook die mooiste mooiste plekke in SA gesien en soveel fantastiese ervarings gehad.  Dit is regtig nie nodig om ver te gaan vir ʼn wonderlike wittebrood nie.  Suid-Afrika het so baie om te bied en hierdie ervaring het dit net weereens bevestig.

Doreen:

Wow!  Wat ʼn ongelooflike avontuur.  Waldo het alles ʼn groot verrassing gehou.  Ek het nie geweet van die een plek na die volgende waar ons gaan nie.  Hy het al my gunsteling ervarings ook in een wittebrood ingepas en dit was net wonderlik.  Ons het regtig die beste tyd by al drie die plekke gehad en almal se diens en gasvryheid was net iets anders om te beleef.  Suid-Afrika is wonderlik en ek sal regtig ’n Suid-Afrikaanse wittebrood aanbeveel.  Moet ook nie baie aktiwiteit beplan nie.  Dit is vreeslik lekker om net saam te ontspan en te gesels en tyd te spandeer.  Die lekkerste vir my was dat ons nie heeltyd by te veel plekke moes wees of te veel goed moes doen nie.

Eerste Dans:


Waldo en Doreen:

Ons eerste dans het ons gedoen op dieselfde liedjie waarop ons die eerste keer gedans het die aand by die mandjiedans toe ons ontmoet het.  Dit is vreeslik “cheesy”, maar die gaste het dit so geniet.  Ons het glad nie geoefen of vir ʼn dansles gegaan nie.  Ons het dit werklik net “ge-wing”.  Die liedjie was “Escape” van Enrique Iglesias en wat ʼn lekker ou treffer.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: