Pieter & Bianca se Rustieke Plaastroue

Ons deel vandag Pieter en Bianca se rustieke plaastroue in die Weskus by Schaftplaas met ons lesers.  Die paartjie se lekker gesellige plaastroue was ʼn groot makietie saam met familie en vriende.  Hulle troue was in die buitelug onder ʼn tent gehou, so jy kon nogsteeds die uitsigte van die plaas om jou geniet.  Bianca het pragtig gelyk op haar troudag en die hand-ruiker vol Proteas is so mooi.  Pieter het ʼn donker pasgemaakte pak aangehad wat ʼn meer formele element inbring tot die plaastroue se gevoel.

Schaftplaas is ʼn unieke trou venue tussen Langebaanweg en Hopefield waar jy die egte gevoel van die plaaslewe kan ervaar in die Weskus, slegs so 90 minute se ry vanaf Kaapstad.  Dit is die ideale trou venue vir paartjies wat in die Weskus wil trou en opsoek is na ʼn regte plaastroue!  Schaftplaas het ook baie oulike verblyf opsies beskikbaar op die plaas vir die paartjie en ook van die gaste.  Hier sal jy verwelkom word deur baie vriendelike en professionele Weskus gasvryheid.

Hul trou dekor was baie oulik gedoen en het so mooi ingepas by die hele gevoel van die ligging van die trou venue.  Die rou hout tafels met die sagte wit en groen elemente lyk so mooi onder die buite tent.  Proteas vorm deel van die blom ontwerpe op die tafels en staan so mooi uit op die tafels.  Elke gas kry ook ʼn beskuit pakkie as geskenk om dankie te sê dat hul die troue kon bywoon.  Wat ʼn oulike idee.

Bianca en Pieter het ʼn heerlike wittebrood geniet na Namibië en die land plat gereis.  Om meer te lees oor Pieter en Bianca se plaastroue in die Weskus en hul liefdesreis as paartjie, rol af.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het in ʼn plaaslike kroeg ontmoet op die 25ste Maart 2016 laat die aand.  Ek het besef net daar en dan dat Pieter my trouman is.  Ek het sy nommer gevra en ons het regdeur die nag op Whatsapp kommunikeer.  3 Weke later is ons gekuis.  Op 9 November 2019, het ons vir die eerste keer vandat ons saam is na die Cederberge vertrek waar Pieter my in die Stadsaal groot gevra het om te trou, my antwoord? JA!

Die Verlowing Tydperk:


Ons is op 9 November getroud en het beplan om op die 29ste Augustus 2020 te trou, maar ons planne is in die wiele gery toe ons bestemming 3 maande voor ons datum op ons kanselleer.  Ons het toe maar als van vooraf begin beplan en op Schaftplaas afgekom, waar tannie Alet ons gehelp het om ons groot dat te bewaarheid.

Trou Begroting:


Ons het 100 gaste by ons onthaal gehad.  Ek en Pieter het besluit om sonder ʼn begroting te werk, want maak nie saak hoe groot of hoe klein jou begroting is nie, daar kruip altyd iets nader waarvan jy vergeet het.

Ons advies:

Moet nie in die begroting vaskyk wanneer jy trou nie, ook nie wie kom, wat die tannie gaan sê oor jou plastiek blomme ens nie, dit is julle dag, julle smaak en hulle het al hulle beurt gehad.  Geniet dit soos julle dit wil hê!

Merkwaardigste Oomblikke:


Pieter:

Toe Bianca in die paadjie afgestap kom en ek haar vir die eerste keer sien, sy het asemrowend gelyk, soos ʼn regte ‘Wonderwoman-bruid’.

Bianca:

Daar was ʼn oomblik waar ek en Chanel besig was om met die fotos klaar te maak net voor die seremonie, waar ons buite was.  Pieter het ewe skielik om die draai gekom, waarna Chanel, met haar klein figuurtjie probeer het om my groot pof rok weg te steek.  Toe ek hom in sy pak sien, hare netjies geskeer, baard gekam en skoene gepolitoer, toe kry ek weer van voor af vlinders in my maag, my hart wou uit my borskas spring en ek kan steeds voel hoe my wange warm geraak het.  Die gedagte dat hy oor 15 min my man gaan wees het my brein oorgeneem.

‘Nie-so-perfek’ oomblikke:


Die dag was te kort, ons wens ons kon langer kuier, meer eet, meer foto’s neem en meer lag.  Verder was alles perfek.  Indien enigiets skeefgeloop het, weet ons nie eers daarvan nie.

Vermaak:


Ons het vir Louis van Lill, ʼn bekende in die Weskus gevra om by ons “pre-drinks” ons gaste te vermaak met sy eie musiek wat hy geskryf het, daarna het hy ook platejoggie gespeel op die dansbaan, waar ons heerlik op sy musiek gedans en gesing het.

Paartjie se styl:


Ons hou albei van die swart das voorkoms, daarom het Pieter vir hom ʼn swart troupak laat pasmaak.  My trourok was ʼn droom wat al van kleindag met my saamkom en ek is só dankbaar dat tannie Jemien Compion dit vir my kon bewaarheid.

Ons trouringe het ʼn storie … Ek het in 2018 vir Pieter se 30ste verjaardag ʼn familie – seëlring laat maak.  Hy dra sy familie trots daagliks met hom en dit was vir my een van sy mooiste eienskappe, daarom het ons dit ook gebruik as sy trouring.  As klein dogtertjie kon ek my altyd verkyk aan my ma se verloofring, ʼn millennium ontwerp met slegs een steentjie in die middel, ek wou so ʼn ring hê.  My ouma het vir my ʼn geelgoud “solitaire” ring nagelaat voor sy afgesterf het en daarvan het ek slegs die steentjie gebruik en vir Pieter gevra om vir my ʼn ring soos my ma sin te laat maak.

Spesiale Tradisies:


In die Du Toit huishouding is daar een baie belangrike tradisie.  Jy kan nie jou eerste maaltyd daar eet en net huis toe gaan nie.  In die Du Toit’s se huis is dit ʼn semi-verpligting om ʼn ‘shot’ witblits uit ʼn horinkie te drink terwyl jy op een been staan, en daarna moet jy nog kan fluit.  Indien jy nie kan fluit nie, moet jy maar sterk staan, dan word nr2 al gegooi.

Die Besluitnemingsproses:


Pieter het 5 “trouslawe” gehad en ek 3.  Alle groot besluite was deur ons twee geneem, waar die fyner details het ons met ons strooimeisies en strooijonkers bespreek.  Ons families het elk ook ʼn voorstel ingesit om ons groot dag ʼn realiteit te maak.  Bv. Pieter se ma het beskuit gebak en verpak waar ons as geskenkies vir ons gaste gegee het, waar my ma konfyte voorberei het vir ons brood tafel.  My pa het vir ons 2 afslaankap voertuie gereël en Pieter se pa het elke dag vir 2 dae lank die venue kom help opstel.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Ons advies aan die paartjie:

Neem ʼn foto saam met elke tafel, so mors jy nie tyd om met elke gas apart ʼn foto te neem nie.  As julle met elke tafel ʼn foto het kan julle 2 keer deur die aand by die fotohoekie gaan vir nog fotos met enkele gaste, maar geniet die aand, jy gaan die oom of tannie weer Sondag in die kerk sien.

Advies aan die bruid:

Wees kalm en rustig op die dag van jou troue, as jy jaag kom daar foute.  Dit is jou dag, maak dit vir jou perfek, nie jou gaste nie, hulle tyd sal kom.

Advies aan die bruidegom:

Jou vrou mag van niks weet wat skeefloop nie.  Jy is in beheer van die strooimeisies-en jonkers, hulle is daar om jou te help.

Venue & Dekor:


Ons is albei baie lief vir die winter en waar ons vandaan kom beteken winter fynbos.  Proteas, sagte groene, pienk en bruin. Ons moes het oral gesoek vir ʼn venue wat die natuur inkorporeer met ons liefde vir fynbos, en het op Schaftplaas afgekom, ons moes natuurlik ons datum skuif, maar dit het ons darem nie gepla nie, die bal was aan die rol.

Tannie Alet het so baie dekor tot ons beskikking gehad, dat ons eintlik gesukkel het om te kies.  Ek self is ʼn minimalis en het ʼn paar goedjies gekies en die res in haar en Hayines se hande gelaat.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons kan nie net een kies nie, maar as ons moet gaan op wat ons weggeneem het, sou dit tannie Alet van Schaftplaas en ook Chanel Farrel wees wie ons fotos geneem het.  Sonder ʼn venue en ʼn fotograaf is ʼn troue nou eenvoudig maar net ʼn braai, en ek kan by my huis ook braai.

Schaftplaas en hul personeel, was vriendelik, professioneel en het ons dadelik soos familie laat voel.

Chanel het ons so op ons gemak gehad en het lekker met haar fotosessies met ons gelag en gesels.  Sy is energiek, gedrewe en weet beslis wat sy doen.  Ons kon nie vir beter vra nie.

Wittebrood:


Ons is albei gaande oor Namibië.  Albei van ons het meermale as Namibië kinders besoek en het ook albei familie daar.  Ons planne om Bali toe te gaan moes “op wag” geplaas word a.g.v. Covid, daarom het ons besluit om vir 2 weke na hierdie besonderse mooi en skoon land te reis.  Dit was pragtig.  Hulle het na baie lank reën gekry en die wêreld was groen.  Ons het plekke gaan besoek wat ons laas as kinders gesien het, familie gaan groet en kos probeer wat mens nie in R.S.A. kry nie.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was op Christina Perri se “A Thousand Years”, die viool weergawe.  Schaftplaas het met swart sand die dansbaan opgekikker met ʼn groot hart, ʼn “P+B” was in die middel uitgelê.   Ons het geen spesiale roetine gehad nie, net gedans asof tyd stilstaan.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: