Zack & Megan se Romantiese Troue

Met ʼn huppel in ons stap deel ons Zack en Megan se Romantiese troue in prentjie mooi Swellendam met jou op Mooi Troues.  Ons het ook voorheen die paartjie se Industriële verlowing fotosessie in Wellington met julle gedeel.  Klik hier om daarna te kyk.  Megan en Zack se troue kan beskryf word as romanties, klassiek en tydloos.

Hulle het by die pragtige Joubertsdal Country Estate getrou.  Dié trou venue bied nie net ʼn fantastiese trou venue nie, maar ook prentjie mooi uitsigte.  Omring deur die mooiste natuurtonele en regte plattelandse gasvryheid kan jy nie verkeerd gaan by hierdie pragtige trou venue nie.

Die paartjie het gehou by ʼn neutrale kleurplate vir hul trou dekor.  Met skakerings van witte en tikseltjies groenigheid en aarde kleure om dit interessant en modern te hou.  Die ligte kleure het so mooi uitgestaan op die hout tafels.  Met die wit stoele wat die dekor op die tafel saamgetrek het regdeur die hele trou venue.  Die dubbel volume trou venue met die rou hout balke het só mooi gepas by alles.

Hulle talentvolle en professionele trou fotograaf, Klara Design & Photography het elke liewe oomblik so mooi vasgevang in foto’s wat tyd veraltyd vries.  Megan en Zack se trou foto’s sal soveel gelukkige herinneringe terugbring as hul weer daarna kyk.

Die talentvolle troukoek bakker, Samantha Liang Cake Artistry het hulle pragtige wit troukoek ontwerp.  Ons is mal oor die simplistiese gevoel van die troukoek en die fyn detail waarmee die koek mee bedek is.  Dit is ʼn ware kunswerk.

Viljoen Juweliers is gebaseer in Worcester met kliënte regoor Suid-Afrika. As jy opsoek is na ʼn juwelier wat die perfekte verloofring of trouring vir jou kan maak, dan hoef jy nie verder te soek nie.  Met meer as 70 jaar se kennis en ʼn passie vir mooi juweliersware is jy in goeie hande.

Rol af om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis en hul romantiese troue in prentjie mooi Swellendam.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar ontmoet in die eerste week van ons eerstejaar op Stellenbosch.  Hy van die Vrystaat en ek al die pad van Dubai af.  Ons het gekuier as goeie vriende en teen die einde van die jaar is ons offisieel saam. Vyf jaar later is hy besig om sy meesters klaar te maak en ek in my tweede jaar van werk.  My man het my op Spier wynplaas se brug gevra om te trou.  Dit was heeltemal spontaan en hy het die hele romantiese verlowing in minder as 10 ure beplan.

Die Verlowing Tydperk:


Ek het altyd gedroom om my troue op die 24ste September, ons ‘anniversary’, te hou.  Dit sou so poëties gewees het om aan te hou om ons spesiale datum te vier.  Toe ons in Julie verloof is, was 2 maande om ʼn troue te reël heeltemal te kort en om meer as nog ʼn jaar te wag, heeltemal te lank.  Daarom is ons 8 maande later in Maart 2022 getroud.  Ons het hierdie tyd gebruik om self ons troue te beplan.  Ons het kwotasies ingetrek en vergelyk, ons het Pinterest en tydskrifte deurgesoek vir nuwe idees en verskaffers se Instagram profiele in diepte ondersoek.

Trou Begroting:


Ons het begin om te kyk na die tipiese kostes verbonde aan elke deel van ʼn troue.  Daarna het ek gesoek vir droom verskaffers wat ʼn produk kan lewer volgens my standaard en kwotasies begin insamel.  Ons het hierna geprioritiseer en gekyk waar dit nodig was om ons begroting per item minder of groter te maak volgens die belangrikheid.  Daarna soos die kostes bygekom het ons alles geboek op Excel.  Ons het deposito’s en die betaling skedules ook daarop gehad om seker te wees ons weet wat moet wanneer betaal word.

Die Besluitnemingsproses:


Albei was betrokke by die trou reëlings.  Ons het items verdeel – byvoorbeeld het ek die trou dekor, kos, koek en fotograaf gereël, terwyl my man die musiek, dominee en wyn gereël het.  Albei van ons was baie betrokke in die proses van die ander en het op die ou einde saam gestem oor alles.

Ons albei se ma’s het gehelp met kreatiewe idees en selfs tuis-gemaakte ‘touches’ bymekaar gesit.  Hulle albei het ons toegelaat of volle beheer te hê oor ons troue, maar was daar om te steen waar ons gesukkel het met idees of tyd.

Merkwaardigste Oomblikke:


Een van die hoogtepunte van die dag vir my, behalwe om saam my ma en vriendinne reg te maak, al ons gaste op hulle netjiesste te sien en die geloftes tussen man en vrou te maak, was om die dansvloer te open.  Ek en Zack het op ʼn baie sentimentele liedjie gedans wat toe ʼn ‘flashdance’ met familie en vriende geword het.  Dit was pret en het almal op die dansvloer gekry!

Vir my man het die groot oomblik bymekaar gekom toe ons van die kerk af by die trappe afstap en almal ons bedek met blomme.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

Lig mense in oor die planne van die dag sodat hulle kan help deur die verloop van die troue.  Stel spesifieke mense aan om te help waar jy dink daar moeilikheid kan kom. Mees belangrik is dat jy totaal in die oomblik is en die kort dag inneem.

Bruidegom:

As jy ʼn verskaffer vind wat jy van hou en binne jou begroting pas, bespreek hulle so gou as moontlik, want as jy weer kyk is hulle gevat.  Maak seker alles is in plek voor die groot dag sodat jy saam met familie kan geniet – moet nie iets los vir die trou dag nie.

Vermaak:


As vermaak vir die gaste terwyl ons as paartjie fotos gaan neem het, het ons ‘lawn games’ gehad wat ons gaste kon geniet saam met ons canapés, bier en gin.  Later in die aand na ons toesprake het ek en Zack die dansvloer geopen met ʼn rustige langarm, en daarna het ons liedjie oorgegaan in ʼn ‘flashmob’ wat die partytjie aan die gang gekry het.  Ons platejoggie het heel dag ook musiek gespeel wat gepas het by elke fase van die troue.

Spesiale Tradisies:


Ons het die gewone troukoek sny en blomme ruiker gooi gedoen wat baie lekker was.  Die ‘flashmob’ is ʼn jong familie tradisie van my man se kant.

Paartjie se styl:


Ons hele troue was eenvoudig, klassiek en romanties.

My trourok was soos ʼn prinses elegant.  Dit was eenvoudig ivoor, outyds met ʼn stukkie kant, en het perfek gepas by my ma se tydlose sluier.  My trouring, soos my smaak oor die algemeen, was ingetoë en fyn.

My man se pak was ʼn netjiese, knap donker houtskool kleur.  Sy wit boutonniere het sy sak vierkant doekie en das mooi bymekaar getrek.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons was waarlik beïndruk met al ons verskaffers en ek sou nie anders gekies het as ons dit alles oor moes doen nie.

Mare Bosman, wat ons grimering gedoen het, se finale produk was uitstekend.

Klara, ons trou fotograaf, het ons goed op skedule gehou en daar is nie ʼn foto waarvoor ons verlang nie.

Ons platejoggie, Arno, was ʼn WENNER.  Hy het ons dansvloer aan die gang gehou en ons groep mense perfek gelees.  Hy het elke liedjie van goeie kwaliteit gespeel en nie een ‘cue’ gemis nie.

Almal uiters vriendelik en was goed betrokke met beplanning van relings voor die dag.

Venue & Dekor:


Joubertsdal was héél bo op ons lys vandat ek hom per geluk gevind het op Google Maps.  In my opinie is die mooiste vorm van natuur, die berge self, en Swellendam het net van die mooiste, groenste berge.  Joubertsdal se kerkie en onthaal geriewe was snoesig en ruim.  Ons was mal oor die mooi buite en binne geriewe asook die subtiele Marokkaans tema wat deur trek in party hoekies.  Die sagte wit dekor wat ons beoog het sou mooi pas by die plaas gevoel.

Eerste Dans:


Ons het die vloer geopen op Lumineers se ‘Stubborn Love’.  Dié liedjie is vir ons ʼn simbool van ons liefde en is van die begin af ‘ons liedjie’.  Die liedjie begin bietjie stadiger, wat ʼn uitdaging kan wees, maar later tel hy darem ʼn lekker ritme op.  Ek en my man dans lekker saam, maar ons het nogsteeds die geleentheid gebruik om ʼn les by ‘Learn to Dance with Carryn & Neil’ in Oakdale by te woon.  Sy het vir ons gehelp om die stadige dele te vul en om op ʼn goeie afronder te besluit.

Wittebrood:


Ons was na die plek waar wyn 8 000 jaar terug begin het, ʼn plek van eeue oue geskiedenis en hartige kosse.  Georgië, ʼn klein Eurasiese land in die Kaukasus, is ʼn regte versteekte juweel en ons kan dit definitief aanbeveel vir enige paartjies wat opsoek is na ʼn unieke bestemming.  Dit is bekostigbaar teenoor die ZAR en Suid-Afrikaners het nie ʼn visum nodig nie.  Die mense daar is vriendelik en ons het altyd veilig en welkom gevoel.  In Georgië kan jy uitsien om die lekkerste kosse en wyne te proe, hulle is bekend daarvoor.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]