Petri & Elmé se mooi troue in Robertson

Ons deel met julle die inskrywing van Petri en Elmé se mooi troue in Robertson.  Die Robertson-vallei is ʼn populêre trou bestemming vir paartjies van regoor Suid-Afrika.  Omring deur die mooiste landskappe, fantastiese wyn en vele meer, maak dit die gebied populêr onder paartjies wat op trou staan.

Die talentvolle professionele trou fotograaf, Lucille Scheepers het elke oomblik van die paartjie se troue so mooi vasgevang.  Julle trou foto’s is só ʼn belangrike deel van jul troue en is definitief ʼn belegging en nie net ʼn uitgawe nie.  Dit is iets waarna jy jare na jou troudag nog kan kyk en die dag weer herleef.

Die paartjie het pragtig gelyk op hul troudag.  Elmé se trourok trek onmiddellik mens se aandag.  Die detail op die bo-kant van haar rok en ook op die rante van haar trourok is so mooi. Elmé se strooimeisies het net so mooi gelyk in hul sagte pienk rokke.

Hul trou dekor het uit groen, wit, en silwer elemente bestaan met ʼn tikseltjie goud.  Dit gee ʼn vars en moderne gevoel aan die trou dekor.  Omdat Petri vir ʼn plaas werk, wou hul graag die plaas element deel maak van die troue.  Daarom het hulle die goue Peer wat ook die gas se naam op het as deel van die tafel dekor gemaak het.  Rol af om meer te lees oor Petri en Elmé se mooi Robertson troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Vroeg in Januarie 2020 het Elmé sak en pak Barrydale toe getrek (vanuit die Oos-Kaap), waar sy haar nuwe loopbaan as onderwyseres (en later skoolhoof) by Lemoenshoek Primêr begin het.  Petri het al ʼn paar jaar voor dit nes geskrop op Die Vlakte waar hy sy passie vir boerdery uitleef.  Petri is ʼn boer in murg en been.  Hy het al lankal gebid vir die regte dame aan sy sy.  Petri se bure op Die Vlakte, Elzie en Coenraad, was die eerste mense wat Elmé in Barrydale ontmoet het.

Elzie en Elmé kom oorspronklik van dieselfde tuisdorpe (Somerset-Oos, in die Oos-Kaap).  Elzie kon nie wag om vir Elmé te vertel van die jong boer, Petri, wat ook op Die Vlakte bly nie.  So het Elzie ook vir Petri ʼn foto van Elmé gestuur om vir hom te wys hoe die nuwe jong blonde juffrou op die dorp lyk.  Maande het verby gegaan, Covid-19 het getref en die kans vir ʼn ontmoeting was maar skraal.

Interessante ontmoeting:

Een reënerige middag in Augustus 2020 het Elmé besluit om gou by die OK winkel te stop na skool.  Petri was ook toevallig op dieselfde tyd daar.  Hulle was albei heel onskuldig besig met inkopies toe hulle mekaar tussen die koeldrank en skyfie rakke gewaar.  Dit was sowaar “liefde met die eerste oogopslag” met maskers en al.

Hulle het aanhou gesels en lag tot by die betaalpunte.  Elmé het weg gestap met vlinders in haar maag en Petri kon nie wag om vir haar ʼn boodskap te stuur nie.  “Uiteindelik” het hy vir haar per Whatsapp gestuur oomblikke na die ontmoeting.

Die volgende naweek het hulle hul eerste afspraak gehad in Barrydale en Elmé het gereeld by hom op die plaas gaan kuier.  Haar kolle-hond, Rosie, was dadelik tuis op die plaas.  Een jaar later, op die 21ste Augustus 2021, het ʼn romantiese helikopter rit oor Tafelberg verander in ʼn onvergeetlike verlowing.  Petri het op die aanloopbaan op sy knie gegaan en vir Elmé gevra om te trou.  Dit was beslis haar maklikste en vinnigste JA.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 6 maande verloof en het ʼn trou beplanner gehad, Charlize Fernhout.

Trou Begroting:


Ons het ʼn trou begroting gehad en het net-net by hom gehou.

Ons advies vir ander paartjies is om mooi seker te maak hoeveel fondse beskikbaar gaan wees vir elke aspek die troue.  Dit is baie maklik om te oor spandeer en dit eers later te besef.  Kry iemand om jou te help met die begroting en finansies, soos ʼn Trou beplanner.

Merkwaardigste Oomblikke:


Sjoe!  Ons hele troudag was vir ons ʼn sprokie.  As ek/ons ʼn oomblik moet uitsonder, sal dit wees toe ek by die paadjie afstap en die liefde van my lewe voor die kansel sien.  Die eerste oomblik toe ons mekaar sien en in mekaar se oë kon kyk as bruid en bruidegom.

Paartjie se styl:


Ons wou beide dit baie elegant en klassiek hou.

Petri het van die begin af geweet dat hy ʼn swart pak wil dra, met swart das en wit hemp.  Hy het dit sy “John Wick look” genoem.

Ek het ook van die begin af geweet dat ek ʼn elegante trourok soek wat reg-af is en my liggaam komplimenteer.  Die Robyn Roberts “Farrah”-rok was beslis die wenner tussen almal wat ek aangepas het.  Ek was mal oor die lang sleep met fyn kant detail.  Ek het soos ʼn moderne prinses gevoel.

Vermaak:


Ons het ʼn verskeidenheid welkom-drankies gehad.  Die Saggy Stone “beer on tap” was heerlik op die warm dag.  Daar was ook ʼn gin-bar en ys baddens met yskoue siders.

Ons het ʼn platejoggie gehad, DJ Anker.  Hy het beslis nie teleurgestel met sy rook masjiene en ligte nie.  Almal het heerlik gedans en sy musiek kombinasie was presies wat ons wou gehad het.

Gunsteling Diensverskaffers:


Definitief JVS Film Productions, ons videograaf.  Jaco is werklik uitstekend in wat hy doen, en ek sal hom 100% aanbeveel vir alle toekomstige bruidspaartjies.  Hy het elke spesiale oomblik van ons troue op ʼn kreatiewe manier vasgevang.  Ek en Petri het beide trane gehad toe ons die Trou Hoogtepunt Film vir die eerste keer kyk.  Dit het gevoel asof ons die troue weer herleef.  Dit is iets wat ons veraltyd sal kan hou en nog eendag vir ons kinders wys.

Venue & Dekor:


The Key Venue was die eerste en enigste trou venue wat ons na gaan kyk het.  Ons het van die begin af geweet dat dit is waar ons wou trou.  Ek en Petri is altwee plat op die aarde, sag-geaard en natuurliefhebbers.  Ons wou dit graag skoon, elegant en natuurlik hou.  Die trou blomme en -dekor was alles groen, wit en silwer.

Die wit blomme, bloekom (eucalyptus) blare en groenigheid het alles bygedra tot die natuurlike en elegante effek.  Petri boer met appels en pere.  Ons wou graag ʼn element van die plaas deurbring na die dekor.  Gedurende Maart het hulle Bosch-pere geoes.

Die goudbruin peer het ons besluit om op elke gas se onderbord te sit en hulle naamkaartjies aan die steeltjies vasgemaak.  Dit was spesiaal om iets van die plaas op ons tafels te hê.  Ons is mal oor liggies!  Die liggies oor die plafon was ʼn moet.  Dit het mooi gelyk saam met die P&E liggie-letters.  Toe dit donker word het die onthaal saal lewendig geword met die liggies.  Dit was ongelooflik mooi!

Die Besluitnemingsproses:


Ek en Petri het die besluite geneem.  Dit was ons droom troudag, alles presies net soos ons dit wou gehad het.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Ons advies is dat jy nie op jou senuwees moet wees nie.  Geniet net elke oomblik en neem dit in.  Almal se dit altyd (want dit is so waar) – dat die dag en aand baie gou verby gaan.  Ons is spyt dat ons nie meer foto’s saam met gaste geneem het nie, aangesien baie van ons gaste van ver af kom en ons hulle nie gereeld sien nie.

Ander advies sal ook wees om net jou aand ten volle te geniet, en in die oomblik te leef.  Dans baie, moenie vergeet om te eet nie en kuier lekker saam met jou gaste.

Eerste Dans:


Ek en Petri het ʼn paar keer in ons sitkamer gedans op die liedjie voor die troue, maar ek en Petri het beslis nie danslesse nodig gehad nie.  Ons sokkie van natuur baie lekker saam.  Albei van ons is mal oor “Old school oldies en classics”.  Ons eerste dans was op “You’re my first love” van New Romance.  Dit is baie gepas, want Petri was my eerste kêrel, en eerste liefde!

Wittebrood:


Ons kon beide nie te lank af kry by die werk nie, ons het ʼn kort wittebrood geneem en vir drie aande na Aquila Private Game Reserve gegaan naby Touwsrivier in die Wes-Kaap.  Dit was presies wat ons nodig gehad het, die stil wegbreek na ʼn rustige plek in die natuur.  Ons het die spa die meeste geniet en het elke aand vir ʼn paartjies massering gegaan.  Ons het die dae spandeer langs die swembad, met skemerkelkies en net mekaar se teenwoordigheid geniet.  Verder het ons die oggend en laat-middae wildritte baie geniet.  Ons sou niks daarvan wou verander nie.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]