Liaan & Suanne se gesellige troue in die Robertson Vallei

Liaan en Suanne se gesellige troue in die Robertson Vallei was ʼn kombinasie van Herfskleure- en ʼn Boheemse trou tema.  Omring deur die prentjie mooi landskappe van die gebied was hul gewaarborg vir die perfekte agtergrond vir hul troudag.  Die paartjie het pragtig gelyk op hul troudag en jy kan sien hul het elke sekonde van hul troue geniet en het ʼn lekker makietie gehad saam met familie en vriende.

Hul troudekor bestaan uit skakerings van herfskleure en tikseltjies swart.  Die rou hout tafels met die goue Tiffany stoele werk perfek saam met die tikseltjies swart elemente wat in die trou dekor gebruik is.  Swart brode en die lang maer swart kerse trek jou aandag.  Die herfskleurige uitgedroogde blom ontwerpe gemeng met die helder vars blomme trek die Boheemse tema in by die trou dekor.

Suanne en Liaan se troukoek is so oulik met die paartjie en hul vierpoot kinders wat deel vorm van die troukoek se versiering.

Robertson en die omliggende gebiede is ʼn populêre trou bestemming in Suid-Afrika.  Met fantastiese trou diensverskaffers in die gebied, kan jy nie verkeerd gaan nie. Besoek Mooi Troues se Trougids vir al jou trou diensverskaffers. Rol af om meer te lees oor Liaan en Suanne se gesellige troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Dit het alles begin as studente op die Noordwes-Universiteit se PUK kampus.  Ons was altwee op die universiteit se JOOL komitee en het so ontmoet.  Na JOOL het Liaan my nommer gevra en ons het begin gesels.  Ons het op ʼn afspraak gegaan en ons gedeelde liefde vir diere, reis en mekaar ontdek.  Die res is geskiedenis!  Na 5 jaar saam het Liaan my gevra om te trou op ʼn strand in Bali.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 2 jaar verloof en het self die troue beplan.  Dit het ons kans gegee om te spaar vir die troue wat ons graag wou gehad het.

Trou Begroting:


Ons begroting was R100 000 vir die hele troue.  Al die klein goedjies ook ingesluit.  Ons het al ons uitgawes en die hele begroting in Excel sigblad beplan.  Ons het 80 gaste genooi, maar was op die einde toe 60 mense in totaal.  My advies sal wees om ʼn lys van al jou beplande uitgawes te maak voor jy begin beplan, maak seker julle het al die onverwagse uitgawes ook, sodat niks onverwags opduik nie.

Soek rond vir trou verskaffers en produkte, en oorweeg al jou opsies.  Moet nie net op die maklikste en vinnigste opsie besluit nie, want jy kan verseker goedkoper weg kom as jy nog bietjie soek. Maak gebruik van Aanlyn inkopies uitverkopings en wag vir “Black Friday” aanbiedings as jy kan.  Bepaal wat vir julle belangrik is en moenie gedruk voel om onnodige ekstras by te sit nie.

Ek dink ook jy moet bereid wees om jou visie vir die troue bietjie aan te pas om jou begroting te pas.

Die Besluitnemingsproses:


Ek het ʼn groot deel van die beplanning gedoen, maar het altyd saam die besluite geneem.  Ons het baie dieselfde styl so dit was maklik om saam te stem.  Liaan het natuurlik meer na die koste kant van dinge gekyk.  Ons familie het vreeslik baie gehelp met ons groot dag, maar dit was vir ons belangrik dat al die groot besluite ons sin was.

Merkwaardigste Oomblikke:


Ons het besluit om ons verlengde trou geloftes voor die troue vir mekaar te lees.  Ons wou nie mekaar sien voor die groot oomblik nie, so ons het buite sig van mekaar gestaan en dit gelees.  Dit was baie spesiaal en ons albei se gunsteling oomblik.

Paartjie se styl:


Ons het van die begin af geweet dat ons troue nie heeltemal tradisioneel gaan wees nie en wou unieke details by sit om dit ons troue te maak.  Ons wou ons trou uitrustings eenvoudig en uniek gehou het.  Liaan se troupak was heeltemal swart en dit was ʼn maklike manier om stylvol te lyk.

Dit het ook mooi by die swart aksente in die troudekor en ons trouringe gepas.  My trourok was ʼn spesiaal aangepaste ontwerp van Nupt Bridal.  Ek wou pêreltjies iewers op my tourok gehad het en ons het toe besluit om dit op die moutjies te sit.  My trourok was eenvoudig, maar ook so bietjie sexy.

Ek kon nie besluit of ek ʼn meermin styl, of A-lyn wil hê nie, toe doen ons meermin styl en ek huur toe a mooi romp by Du Preez by Design wat ek kon afhaal.

Liaan het my trouring laat maak by Elri Diamonds van fotos wat ek hom gewys het en ek is mal daaroor. Vir sy trouring het ek ʼn vriendin van skool ingespan (Makespace Studio) en ons het saam die ontwerp lewe gegee.  Sy trouring is swart, om by myne te pas en het sterretjies reg rondom die band gegraveer.  Die sterretjies is morsekode vir “love”.  Ek het toe ook sterretjies in my hare gedra vir die troue.

Vermaak:


ʼn Baie talentvolle familie vriend, Almur Marais, het gesing en ons gaste vermaak op die dag en ook die aand voor die tyd.

Gunsteling Diensverskaffers:


Al ons verskaffers was verseker wonderlik!  Maar as ons een moes kies sou dit ons fotograwe wees – Adeline en Nelius van Foto Asylum Photography.  Hulle styl was wat my laat besluit het om hulle te gebruik, maar hulle persoonlikhede is definitief wat hulle so spesiaal maak!  Hulle het ons dag so mooi vasgevang en verseker die uniekheid van die dag ook verstaan en weergegee in die fotos. Flourish, wat ons trou blomme gedoen het, was ook pragtig.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Vir die bruide sou ek sê vat jou tyd, doen jou navorsing en geniet dit!  Dit is nie veronderstel om stresvol te wees nie.  Ek het dit baie geniet.  Maak seker jy het genoeg tyd om dit rustig bymekaar te sit.

Aan die bruidegom, dokumenteer jou begroting en uitgawes, dit help vreeslik om ʼn skatting van jou uitgawes te hê.  Probeer só min as moontlik te los vir die oggend van die troue, sodat mens rustig kan regmaak en nie gejaag voel nie.

Eerste Dans:


Ons kan nie regtig vasdans nie, so dit was belangrik vir ons om ʼn mooi uitgewerkte roetine te hê.  Ons het eerste ons liedjie gekies.  Albei van ons was dadelik oortuig dat ons ʼn Matthew Mole liedjie gaan gebruik.  Die woorde van al sy liedjies is so mooi en gepas.  Vir die liedjie het ons besluit op “Let me love you“, want dit was nie so stadig nie en het gemaak dat ons ʼn paar los dans stappies tussen in kon maak.  Ons het toe die dans uitgewerk van YouTube video’s af.

Venue & Dekor:


Ons het ʼn kortlys van trou venues gemaak en het toe oor ʼn naweek af Kaap toe gegaan en almal besoek.  Atila Trust Farm het uitgesteek vir ons, want die venue was al klaar baie mooi en het nie veel dekor nodig gehad nie.

Daar was ook baie dekor ingesluit by die prys en daar was genoeg slaapplek vir 70% van ons gaste, waarvan baie van ver af gekom het.  Nog altyd het ek van warm kleure gehou en het toe besluit op boheemse herfs kleure vir die trou dekor.

Ek het Pinterest gebruik vir idees en het ook gevind dat hierdie kleurskema veelsydige opsies het en dat dit my nie baie beperk het nie.  Ek kon maklik verskillende kleure inkorporeer sonder om dit deurmekaar te laat lyk.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Alles was perfek.  Ons sou net graag video’s van ons trou geloftes en die heildronke wou gehad het.

Wittebrood:


Ons het net vir 5 dae in die Kaap agtergebly, want ons moes weer begin werk.  Die plan is om te spaar vir ʼn fantastiese oorsee vakansie in 2023.  Dalk Disney World, of selfs die rugby Wêreldbeker in Frankryk, ons besluit nog.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]