Wie maak dit op die Gastelys?

Wie maak dit op die Gastelys? Dit is ʼn vraag wat baie toekomstige bruidspare vrae en min antwoorde op kry. By Mooi Troues wil ons julle ʼn paar antwoorde gee op die vraag.

Só! Julle het sopas verloof geraak en sien die wêreld deur opgewonde oë. Dit klink heel eenvoudig. “Ons nooi slegs die mense wie naaste aan ons is”.

Dit mag dalk so eenvoudig klink aan die begin, totdat aanstaande Skoonma en Skoonpa of selfs Ma en Pa met hul eie lysie van gaste kom. Dit word ʼn moeilike situasie, veral om almal gelukkig te hou ten koste van jul eie wense.

Die belangrikste is om te onthou dat dit julle troue is en niemand anders se troue nie, so op die einde van die dag is dit julle eie besluit. Ons sê nie julle moet nie ander familielede en dalk ook vriende se idees oorkyk nie, maar daar moet altyd ʼn gesonde balans wees tussen ander se wense en julle wense.

Hieronder volg ʼn paar wenke om in gedagte te hou wanneer julle met jul gastelys begin.

Begroting:


Dit sal die belangrikste element wees. Dit sal bepaal watter tipe venue julle na opsoek is en hoeveel gaste die venue spasie kan onthaal. Julle sal min of meer moet besluit wat julle begroting vir die troue sal wees.

ʼn Begroting gaan dit soveel makliker maak om uit te werk hoeveel gaste genooi kan word.

Hou ingedagte dat nie slegs die venue en spyseniering die begroting beïnvloed nie, maar ook ander kostes soos stoele, tafels, blomme, dekor, uitnodigings, programme, vermaak en dan die grootte van die onthaal lokaal waar julle gaan trou. As julle ʼn begroting het kan jul rondom dit begin beplan.

Wil julle kinders nooi?


Hierdie besluit is ʼn baie persoonlike besluit vir paartjies om te neem en dit is nie altyd maklik nie.

Geen kinders:

Hou by julle besluit en skryf op die uitnodiging, “Ongelukkig Geen Kinders” of as dit slegs kinders is van onmiddellike familie, “Kinders Slegs By Uitnodiging”.  Julle kan ook dalk sê kinders onder ʼn seker ouderdom nie die troue kan bywoon nie.

Kinders welkom:

Vra dat gaste wanneer hul RSVP julle laat weet hoeveel kinders saam kom.  Maak reg vir die kleintjies deur oulike partytjie-sakkies op te maak om hulle besig te hou.  Julle kan ook ʼn aparte area in die onthaalsaal uitsit vir die kinders of (indien die onthaal lokaal so iets het) ʼn kamer waar ʼn kinderoppasser na hulle kan kyk en vermaak.  Dit sal die ouers van die kinders die gerusstelling gee dat hul kinders veilig is en dat hul ook hulself kan geniet.

Ander se gastelyste:


Hierdié is ʼn saak wat versigtig benader en hanteer moet word. Onthou dat julle ouers trots en opgewonde is oor hul kind se troudag en dat hul graag vir almal wil wys. En nie deur foto’s nie, maar as genooide gaste.

Daar gaan moontlik ʼn punt kom waar ouers na vore gaan kom met ʼn gastelys van hul eie – wees gereed hiervoor.

Praat vooraf met albei ouerpare en verduidelik rustig dat julle slegs mense nooi met wie julle gereeld in kontak is en wie aktief betrokke is in julle lewens.

Indien julle wel wil hê jul ouers moet ook hul eie deel moet hê in jul gastelys, gee vir elke ouerpaar ʼn limiet op hoeveel gaste hul mag nooi en hou daarby.

Metgeselle:


Baie eenvoudig. Indien die persoon nie in ʼn lang-termyn verhouding is nie, nie verloof of getroud is nie, kan hy of sy alleen opdaag. Dit hang alles van julle verhouding met die persoon. Indien julle wil hê die persoon moet ʼn vriend saambring, dan kan julle so sê in die uitnodiging.

Maak verskillende gastelyste:


Belangrikste gaste:

Hierdie is die mense wat die troue sal bywoon maak nie saak wat julle besluit sal wees nie. Dit is mense wat vir julle mees belangrik is en het oor die algemeen ʼn direkte impak op jul lewens.

Moontlike gaste:

Hierdie is mense wat moontlik op die gaste lys kan kom. Indien iemand RSVP dat hulle dit nie kan maak nie, nooi dan iemand van die “B-lysie”.  Bly binne julle begroting.

Werk Kolegas:


Moet glad nie verplig voel om julle werk kollegas te nooi nie. Indien julle begroting dit toelaat, (en julle eintlik ʼn verhouding met hulle het buite werk-omstandighede) nooi hulle. Wees net versigtig dat julle uitnodiging aan hulle nie ongemaklik reaksies lok by ander kollegas nie.

Artikel Krediet:

  • Artikel Geskrewe: Mooi Troues
  • Foto’s: Pexels en Adobe Stock