Hanres en Monique se stylvolle troue omring deur die mooiste landskappe sal jou aandag onmiddellik trek. Salt ʼn Pepper Photography het seker gemaak dat elke oomblik van die stylvolle troue vasgevang word in die mooiste foto’s. Een van die belangrikste dele van jou troudag is definitief jou trou foto’s. ʼn Professionele troufotograaf, soos Salt ʼn Pepper Photography, sal jou foto ervaring stresvry maak en elke spesiale oomblik vasvang in ewige herinneringe.
Monique het beeldskoon gelyk in haar prentjie mooi trourok met soveel fyn detail. Hanres het self baie dapper gelyk in sy pasgemaakte troupak. Die bruid se handruiker het bestaan uit die mooiste spierwit orgideë, wat so mooi saam met haar rok gevloei het.
Omring deur die mooiste natuurtonele as agtergrond van die paartjie se troue. Die troudekor elemente was ʼn kombinasie van Swart, Wit en Brons elemente. Daar was twee lang tafels met hang ligte bo die tafels. Met die dubbel volume van die vertrek en die natuurlike lig en prentjie mooi uitsigte het alles net so mooi saam getrek. Orgideë was weer die voorkeur wanneer dit kom by blom ontwerpe op die tafels.
Monique en Hanres se stylvolle troue was nie net mooi nie, maar ook ʼn gesellige kuier saam met familie en vriende. Hulle is albei lief vir reis en het hul wittebrood geniet in die Maldives! Enige bruidspaar se droom wittebrood bestemming. Rol af om meer te lees oor Hanres en Monique se stylvolle troue.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het mekaar in 2012 as studente ontmoet by die woonstelblok waar ons gebly het. Hanres het tuinstoele by my kom leen vir ʼn gemeenskaplike braai.
In 2019 het ons verloof geraak by Beck’s Lodge in Karongwe Portfolio. Gelukkig het die man in hierdie geval die leiding geneem en ʼn bosveld verlowing beplan. Ons beide is lief vir die natuur en wou graag in die Kaapse wynlande trou.
Die Verlowing Tydperk:
Ons het nog al die jare vandat ons ontmoet het gesê dat wanneer ons verloof raak is dit om te trou. Ons wil nie vir jare verloof bly nie.
Die oorspronklike plan was om 2 Mei 2020 te trou, maar die troue was 2 keer daarna geskuif. Ons het uiteindelik op 30 April 2021 die “Ja”-woord gesê.
Ons het teen ʼn trou beplanner besluit om die reëlings meer persoonlik en eenvoudig te hou. Sonder die invloed van ʼn trou beplanner – ons het geweet wat ons wil hê en om daardie kostes op ander idees te spandeer.
Trou Begroting:
Ons het nie op ʼn spesifieke begroting gewerk nie.
Dit was ʼn kwessie van prioriteit. Al ons belangrikste visies wat ons gehad het vir ons groot dag het ons uitgewerk. So het ons besluit watter kostes ons sal kan aangaan en wat ons sou los. Met dié dat ons troue met ʼn jaar uitgestel was, kon ek lekker aan die fyner besonderhede en ekstra goedjies dink om die dag ekstra spesiaal te maak vir ons en ons gaste. Ons het besluit op ʼn klein, intieme en persoonlike troue. Te danke aan Kovid kon ons dit ook makliker so reël. Daar was 36 gaste in totaal en ons sou dit nie anders verkies het nie, behalwe vir 3 goeie vriende wat in die buiteland vasgekeer was.
Ons raad aan ander paartjies is om te doen wat ons gedoen het – beplan jou eie troue en hou dit intiem/klein. Spaar daardie ekstra geld wat aan ʼn trou beplanner sou gaan. Kry vir jou ʼn persoon wat jy ʼn vaste bedrag kan betaal om op die troudag te koördineer, met diensverskaffers te praat, en wat seker maak al jou planne en reëlings verloop glad.
Paartjie se styl:
Ons styl is modern, minimalisties en altyd iets uniek – weg van die norm.
Berta was nog altyd een van die bruid se droom-ontwerpers en gelukkig was daar op daardie stadium ʼn verspreider van Berta-rokke in die land. Deur die verspreider het ons toe ook vir Diaan Daniels ontmoet wat die bruidegom se handskoen-pas troupak gemaak het.
Die trouringe was beide unieke roosgoud ontwerpe wat Werner Matthysen vir ons ʼn realiteit gemaak het van slegs ʼn paar foto-idees en ekstra aanwysings af.
Vermaak:
Carol Thorns het Cello gespeel tydens die diens in die kapel – waarna sy in haar “bubble” geklim het en buite die kerk vir ons ongelooflike musiek gemaak het. Sy staan ook bekend as “Girl in the bubble” – wat ʼn goeie manier om te self-isoleer in die pandemie so tussen al die gaste!
The Morning After was ons musiek- en sanggroep wat by Carol oorgeneem het na die verwelkomingsdrankies. Ons het hulle in Parys by van ons beste vriende se troue gesien en van daardie oomblik af het ons geweet ons sal nie beter kry nie.
Net jammer die aandklok-reël het hulle te vroeg laat ophou speel!
Spesiale Tradisies:
Om rede ons beperkte tyd gehad het om alles in te pas as gevolg van die aandklokreël wat nog ter sprake was, het ons die tradisies tot ʼn minimum gehou. Ons het wel ons eie spesiale idees ingebring onder andere om ons trouringe in ʼn mooi boksie rondom die kerk te stuur tydens die diens sodat ons gaste dit kon seën. Saam met die ringe was daar pienk sout gewees om die spreekwoordelike “Sewe Sakke Sout” wat ons al saam opgeëet het te simboliseer.
Die koek was ook gesny tydens die kanapees – ons wou al die formaliteite vroeg afhandel sodat ons net ʼn lekker tyd saam met mekaar en ons gaste kon deurbring voor die aandklokreël in werking getree het.
Merkwaardigste Oomblikke:
Ons kan eenparig saamstem dat die hele dag een groot hoogtepunt was. Maar toe ons trou koördineerder se man met ons musiekgroep gereël het dat sy ʼn liedjie saam met hulle sing, het ons almal hoendervleis gehad en nie geweet dat daar sulke talent in Suid-Afrika wegkruip nie.
Marlé (van TMN Events) het ons aand vir ons afgesluit met 4 Non Blondes se “What’s Up”. Eerlikwaar ʼn stem wat selfs vir Adele onder die tafel sal in sing. Die hele venue het stil geraak en almal wat wakker was het nader gestaan om te kyk waar kom hierdie stem vandaan. Dit was regtig vir ons ʼn eer gewees.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Bruid se advies:
Sit bietjie tyd op sy en beplan jou eie troue. Jy spaar baie geld so – en dit is ʼn meer persoonlike ervaring vir die bruidspaar asook vir die gaste.
Daar was konstant vir my gesê “dinge sal verkeerd loop en net julle sal dit weet, ontspan” – ek het besluit om die raad te vat en almal verkeerd te bewys. As jy van dag een af jou eie troue beplan het jy net soveel meer beheer oor die uitkoms. ʼn Organiseerder wat jou help met alles op die dag is al wat nodig is om dit perfek af te rond.
Maak seker jou trou skoene is gemaklik en uitgeloop op die dag van die troue. Moet nie onnodige duur of hoë skoene kry indien mens dit nie regtig eers agter die rok kan sien nie. Laataand dans almal in elk geval kaalvoet!
Bruidegom se advies:
Wees teenwoordig met die troubeplanning en maak seker jy lewer jou insette sodat die aand al jul verwagtinge oortref.
Laastens het ons ook besluit om nie strooimeisies of strooijonkers te hê nie. Ons was by ʼn troue van vriende wat dit so gedoen het en dit hou reëlings ongekompliseerd en verhoed onnodige ekstra uitgawes.
Dit laat al die gaste “gelyk” voel en sodoende kan paartjies ook bietjie meer spandeer op die gaste deur die loop van die aand om dit vir almal spesiaal te maak.
Gunsteling Diensverskaffers:
Dit is ʼn moeilike keuse – al ons diensverskaffers was eerlikwaar die beste wat daar is.
- Carol Thorns het die mooiste Cello gespeel tydens die diens asook tydens die verwelkomingsdrankies.
- Bosjes se diens en kos was uit die boonste rakke – nie een klagte nie!
- Ons musiekgroep – The Morning After – het sonder ʼn voorafgestelde liedjie lys die gaste ongelooflik gelees en die heel aand op hul voete gehou! 3 Mans in netjiese pakke wat met outydse mikrofone en hul eie instrumente liedjies na-maak dat jy twee keer moet kyk of dit dalk die oorspronklike liedjie is was speel.
- Salt ʼn Pepper Photography is by verre die beste video- en fotografie opsie vir enige troue.
- TMN Events het seker gemaak die dag verloop glad – hulle het ook alles opgestel en seker gemaak almal is gelukkig. Inteendeel het hulle meer gedoen as waarvoor ons gevra het. Ek sal hulle keer op keer voorstel!
- Sweet Lion Heart was ons keuse vir die koek – hulle het ons moderne troukoek visie – met sterk lyne en unieke kleure – ʼn realiteit gemaak. Selfs die gesoute karamel koek kon nie beter gesmaak het nie.
Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:
Ons kon nie meer gelukkig gewees het nie. Dit was waarlik die perfekte dag.
Nie eers die ysige -3 grade Celsius temperatuur met die laaste laat-aand foto sessie kon ons laat kla nie!
Ons sou absoluut niks wou verander nie.
Venue & Dekor:
Die bruid is ook ʼn fotograaf – teen die tyd wat ons verloof geraak het, het sy ʼn idee gehad oor hoe meeste van die hoof trou lokale in die Kaap omgewing lyk en werk rondom troues. Ons het geweet ons wil graag op ʼn wynplaas trou. Die week na ons verlowing het ons die Sondag middagete by Bosjes gaan eet sodat die bruidegom die venue net kon sien en goed keur. Ons het die eerste datum vasgemaak wat hulle beskikbaar was vir ʼn troue, al was dit op daardie stadium bietjie langer as ʼn jaar se wag nog. Ons sou graag binne ʼn korter tydperk wou trou.
Die inspirasie agter die dekor was eenvoudig – minimalisties, elegant en modern. Ons het probeer weg beweeg van die tipiese pastel- en natuurlike kleure af.
Ons fokus was meer op die speling van lig in die vorm van kerse op die tafels, feetjies-ligte in ons orgideë-bakke en hangende gloeilampe, weg van die idee van tafels vol blomme en blare.
Besluitnemingsproses:
Die bruid het al die navorsing gedoen en planne/idees in plek gekry vir die groot dag. Die bruidegom het alles goed gekeur en sy insette gelewer soos ons gevorder het met die reëlings.
Ons wou die dag ʼn groot verassing hou vir vriende en familie so ons het slegs van die “raamwerk” idees en planne met hulle gedeel.
Gelukkig is ons styl en idees baie dieselfde as paartjie. Dit was dus maklik om beide van ons gelukkig te hou met die keuses en reëlings.
KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:
Ongelukkig, ja. Ons was van plan om 2 Mei 2020 te trou. Al ons planne was goed op dreef totdat ons van die virus begin lees het in November 2019. Ons het die trouplanne in Januarie 2020 op ys gesit, want ons het gevoel dat iets nie reg is nie. Die troue was toe geskuif na 1 Augustus 2020. Toe dinge nie vinnig beter begin lyk nie, het ons besluit om dit sommer net aan te skuif na die eerste opening wat Bosjes in 2021 gehad het.
Gelukkig het ons toe so mooi tussen die tweede en derde “vlaag” getrou. Sonder enige verdere verskuiwings, behalwe vir die vroeë aandklokreël wat op daardie stadium 12uur was.
Ons was ook gelukkig genoeg dat al ons diensverskaffers – asook die verblyf in die area wat ons vir die gaste bespreek het – al 2 kere saam met ons die datums kon skuif sonder ekstra kostes of moeite.
Eerste Dans:
Ons het Taylor Swift se “Lover” gekies as ons liedjie om die dansvloer te open. Ons het nie voor die tyd vir lesse gegaan nie. Spesifiek het ons ʼn Wals gekies omdat ons beide gemaklik daarmee was.
Ons het lank terug toe ons mekaar ontmoet het saam vir danslesse gegaan by Arthur Murray om op daardie stadium die dansvloer te open vir die bruid se 21ste.
Wittebrood:
Ons reis graag deur die wêreld en het al besef dat daar geen rustiger en ontspannend vakansie is as ʼn eiland vakansie nie. Die Karibiese Eilande sal altyd ons eerste keuse wees, maar Kovid het toegang soontoe onmoontlik gemaak.
Met die hulp van ons fantastiese reisagent (Tammy – ATW Travel) het sy vir ons ʼn oor-die-water wittebrood-villa bespreek in die Maldives by Lily Beach. Dit is ʼn top-klas bestemming vir enige wittebrood en ons sal dit hoog aanbeveel.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf+ Videograaf: Salt ʼn Pepper Photography
- Venue + Paartjie se verblyf: Bosjes
- Blomme: Flora Mystique
- Bruidegom-pak: Diaan Daniels Couture
- Dekor + Huurdienste + Koördineerder + Tente: TMN Events
- Gaste Geskenke: Journey Leather
- Hare + Grimering: Ultiglamour – René Ferreira
- Huwelik kontrak: Invia Gemeente
- Huweliksbevestiger: Theo Geyser
- Juweliersware: Swarovski
- Platejoggie + Musiek: The Morning After
- Skoene: Loriblu bijoux
- Skryfbehoeftes: Paper Moon
- Trourok: Berta
- Trouring: Werner Matthysen
- Troukoek: Sweet Lion Heart
- Vermaak: Carol Thorns- That Girl in The Bubble
- Vervoer: DTrack Tours
- Wittebrood plek: Lily Beach Resort and Spa at Huvahendhoo, Maldives