Juan & Althea se prentjie mooi reënerige troudag

Juan en Althea se prentjie mooi reënerige troudag is definitief een wat jy nie moet mis nie.  Baie paartjies is skrikkerig dat dit reën op hul troudag.  Hierdie paartjie se troue sal jou laat uitsien dat dit reën.  Dit hoef nie altyd sonskyn weer te wees om ʼn gesellige troue te hê nie.  Geniet die reën en gaan saam met dit!

Wanneer die kom by trou dekor elemente het alles so mooi saamgetrek.  Althea vertel dat sy baie hou van gedroogde blomme.  Dit is een van die elemente wat vir ons só mooi uitgestaan het.  Die kombinasie van gedroogte en vars blomme.  Hulle het dié balans perfek reg gekry.  Die spierwit dekor elemente soos die potte en kerse gee die tafel ʼn baie luukse gevoel.  Dan is daar die roes-, vuil pienk-, en beige tiksels kleur wat die wit elemente breuk.

ʼn Baie oulike idee is die twee koeke op elke tafel.  Dit vorm nie net deel van die troudekor nie, maar is ook ʼn heerlike soetigheid vir nagereg.  Hierdie is ʼn baie oulike idee vir paartjies wat hul tafel dekor net bietjie meer wil opkikker.

Dit maak ons harte altyd bly as paartjie trou inspirasie gekry het vanaf Mooi Troues.  Althea het Mooi Troues se Instagram blad gevolg en vertel sy het oulike idees daar gevind.  Klik hier om ons op Instagram te volg.  As jy opsoek is na diensverskaffers vir jou troudag, besoek ons trougids.  Hier sal jy baie oulike diensverskaffers vind vir jou troue.

Althea en Juan het ʼn heerlike plaaslike wittebrood in die Tuinroete geniet.  Wil jy meer lees oor die paartjie se mooi reënerige troudag?  Rol af om meer te lees.

Paartjie se Liefdesreis:


Nadat Juan my vir 6 maande op sosiale media “gestalk” het, het hy moed bymekaar geskraap om uiteindelik ʼn skuif te maak. Hy het my nommer by ʼn vriend op die dorp gekry wat saam met my in die selgroep was en vir my ʼn WhatsApp boodskap gestuur op ʼn Sondagmiddag.

Die WhatsApp boodskap was kort en kragtig … 2 weke later, op Valentynsdag, in ʼn bloedige warm Citrusdal, kom verras hy my met verlepte blomme en ʼn sweet-stres gesig.  Met 10 minute in, was hy klaar skottelgoed!  Na ʼn “date night” met pizza en bier, het ons albei seker geweet dis neusie verby!  Langafstand het sy tol geëis en na 3 jaar het ons uiteindelik verloof geraak.

Ek het ALLES vermoed!  Ons besluit om Tafelberg te gaan stap.  Juan met sy eie sak (wat hy nooit doen nie, ons vat altyd net een!) en veiligheid skoene wat my lekker vies gemaak het vroegmôre, want wie stap met “safeties” en nie tekkies nie!  Die stappie was lank en warm.  Bo gekom en ek “help hom toe soek” vir ʼn lekker plekkie waar hy die vraag kan vra (haha!).  Met my omdraai slag was die verloofring klaar uitgepluk en die traantjies klaar vlak!  Ek sê ook toe sommer na hy vra: “Jy moet op jou knieë gaan voor ek ja sê!” (shame, die arme siel …) Soete, soete herinneringe!!

Die Verlowing Tydperk:


So om en by 10 maande.  Ons wou nie lank verloof wees nie, want wat is die punt om dan verloof te raak?!  Ons het alles self gereël met baie hulp van my ma en ons trouvenue se koördineerder, Martina.

Trou Begroting:


Ons het nie noodwendig ʼn vaste troubegroting gehad nie, maar wel besluit wat elkeen van ons gaan betaal en dit so min as moontlik gehou (ons het vir ons eie troue betaal met spaargeld!).  Ons het redelik by ons begroting gehou en nie onnodig geld spandeer op “nitty gritty” goed nie.   Op die ou end het ons so R120 000 spandeer, alles ingesluit.  Ons het 60 gaste by ons onthaal gehad.

Advies:

Kyk waar jy kan spaar.  Jy hoef nie “brand names” te kry net om vir ander te bewys en te sê dis by ʼn la-di-da plek gekoop nie.  Soms is die goedkoper opsie net so goed soos die duurder opsie.  My trouskoene was spotgoedkoop en as mens daarna kyk, lyk dit net soos enige ander “fancy” skoen.  ʼn Mens kan ook met min, baie doen.  Wees net slim en kyk maar orals vir klein goedjies soos kamerjassies en geskenkies vir mense by plekke waar mens nooit gedink het jy sal regkom nie.  En span jou familie en vriende in.  Almal vra altyd en bied altyd hulp aan.  Moenie huiwer om te vra nie.  Dit was vir ons so lekker om ons naastes in te sluit by van die goedjies.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir Juan was dit die oomblik toe ons ons geloftes aan mekaar voorlees gedurende die seremonie.  Dit is mos waaroor ʼn troue gaan.  Die samekoms en eenwording van twee persone wat trou aan mekaar beloof voor God en naaste familie en vriende . Ons wou iets doen wat persoonlik is en wat ons altyd sal koester en dus het ons ons eie geloftes geskryf.  So deur die trane en snikke kon ons darem iets uiter.

Vir my?  Seker om te dans in die reën!  So teen die einde van al ons foto’s het ons in die gietende reën en modder lekker gedans en behoorlik nat geword.  Ons gaan dit mos later droog dans, dan nie?

Indien julle enige diensverskaffers of inspirasie van Mooi Troues gekry het, spesifiseer asseblief.


Ek volg Mooi Troues op Instagram en kyk gereeld na foto’s en trou inspirasie.  Ek kan nie iets spesifieks uitsonder nie, maar het verseker baie idees daarvan af gekry. Dankie Mooi Troues!!

Paartjie se styl:


Ons wou anders wees!  Nie “weird” anders nie, maar net anders.  Ek het prentjies versamel van hoe my ideale trourok moet lyk.  Na ʼn paar aanpassessies, het ek geweet ek gaan nie tevrede wees met ʼn “kooprok” nie.  Ek het wel baie idees gekry van watter styl trourok by my liggaamsbou gaan pas en dit het gehelp met dié proses.  Ek het by dieselfde vrou wat my sussie se trourok gemaak het, gaan aanklop.  Met ʼn prentjie in die hand en ʼn vinnige skets van Elmarie, was ek tevrede en gesê kom ons “go for it”!

Met Juan se troupak het ons ook rond gery en aangepas, maar niks het reg gepas nie, omdat hy ʼn groter liggaamsbou het wat nie by spoggerige boetieks kon regkom nie. Hy wou nie ʼn swart of vlootblou troupak gehad het nie.  Ons het toe op die perfekte pak in Woolworths afgekom en als binne een dag gekoop.  Sy broek moes wel bietjie ingewerk word, maar nietemin!

Met die trouringe het ons ou goud gehad van Juan se pa en kon ons vir my ʼn trouring laat gaan maak (what a bargain!).  Dit het op die ou end my verloofring so mooi gekomplimenteer!  Juan was maklik. Hy wou ʼn swart ring gehad het en ek bestel toe sommer vir hom een aanlyn en ʼn silikoon trouring omdat hy met masjiene werk.

KOVID-19 se uitwerking op jul troudag:


Eintlik glad nie.  Ons het van die begin af besluit om ons half  “blind” te hou vir KOVID-19, want trou sal ons trou op die 15de Mei 2021.  Met 2 of 50 gaste!

Die Besluitnemingsproses:


As ek ʼn idee gehad het of iets moois gesien het, het ek vir Juan gewys en hy het altyd gesê : “Oeh, dit lyk mooi.”  Hy het baie van die besluite in my hande oorgelaat, maar op groot besluite, soos die gastelys, het ons mooi oor gedink en besluit.  My ma was baie betrokke en omdat ons min of meer dieselfde styl en idees het, kon ek baie op haar knoppie druk.  Sy het presies verstaan wat ek wil hê en dit was vir my so ʼn groot plesier en voorreg om hierdie troue so saam-saam met haar te reël.  Ook my sussie het ʼn groot aandeel gehad en ook sommer soms my goed laat verstaan as iets leliks is, of nie gaan werk nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Op die ou end is dit seker maar die hele pakkie wat saamwerk!  Ons kan niemand uitsonder nie.  Almal het bygedra tot ons spesiale dag!

Venue & Dekor:


Juan was eintlik die een wat lankal sy ogie op hierdie trouvenue gehad het.  Ek was bietjie skepties.  Ek wou iets meer modern en oop gehad het, maar op ons troudag het dit GESOUS!  Toe het die klipperigheid van die venue dit lekker snoesig gemaak.  Ons wou dit naby die Kaap en Malmesbury gehad het, omdat dit naby is vir verskaffers en my ouerhuis.  Ons het na min trouvenues gaan kyk en met die Kalkoonde was dit vir ons so gerieflik, omdat dit ʼn pakket gehad het wat alles ingesluit het.  Só die keuse was baie maklik op die ou end met die kos en meeste troudekor wat ingesluit was.

Ons wou gegaan het vir die natuurlike kleure (roes, vuilpienk, beige).  Ek is mal oor die gedroogde tendens, maar wou dit nie laat oordonder het nie.  Ons het gedroogde elemente ingebring, maar nie te veel nie.  Ons het op elke tafel twee koeke gehad wat deel gevorm het van die dekor.  So om en by 10 koeke kan ek verseker sê my ma is ʼn yster.  Sy wou selfs roeskleur servette maak omdat ons nie die perfekte kleur kon kry nie.  Ek het haar gelukkig gebriek, anders sou sy veels te hard werk. (haha)

Spesiale Tradisies:


As ʼn mens dit nou ʼn tradisie kan noem …  al ons kinders het die kousband gegooi op Snotkop se “Hoe lykit, hoe lykit!”(ek en djy naked)

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek sal nie sê dis iets wat verkeerd geloop het nie, maar dit het verskriklik gereën op ons troudag!  Van begin tot einde.  Die weer het goed saamgespeel, tot so 5 dae voor die troue wat ons fotograaf laat weet het … “Altie, dit gaan sous Saterdag!”  Ek het sommer begin huil en bid, maar toe later myself reggeruk, want wie is ek nou om vir die Here te besluit vir reën of nie!  Dit het so hard gereën op die venue se dak, dat mense nie die toesprake gehoor het nie … oeps!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Vir die Kêrels:

Moenie geld spandeer om vir ander iets te bewys nie.  Maak jou wittebrood eerder lekkerder en gee meer geld daarop uit.

Vir die dames:

Moenie te veel gewig verloor voor jou troue nie!  Jy gaan dalk ʼn paar maande na die troue na jou troufoto’s kyk en 10kg swaarder wees en in ʼn depressiewe toestand verval! (haha, seker nie so erg nie!)  Wees eerder gesond en voel goed oor jouself as om diëte te volg en nog by die troue reël ekstra stres op jouself sit nie.  Ek sal ook sê dat jy nie moet geld spandeer op onnodige goed nie.  Blomme, fotograaf en grimering is van die goed wat jy kan laat waai.  Maar sny by ander dinge (selfs jou trourok!).  Ek het myne laat maak om weer verhuur te word.  Wat maak ek nou met ʼn gekoopte trourok in my kas?!

Wittebrood:


Met ʼn begroting in gedagte, het Juan maar Budget Getaways en ander webtuistes dopgehou.  Ons wou met die Tuinroete langs en by verskillende plekkies oorbly.  Ons het vir 2 aande in McGregor gebly, 2 aande in Wildernis en 2 aande in Jeffreysbaai.   Ek sou langer in Wildernis wou oorbly, omdat dit naby mooi plekke is waarheen jy kon ry. Ons het gaan stap, paragliding gedoen en ook gaan Segway!  Oh en natuurlik BAIE geëet.  Dink die helfte van die begroting was vir etes (haha!)  Dit was vir ons ʼn plesier om in ons eie land te kon wees en die mooi en lekker ervaar.  Ons het nie sleg gebly of eet by enige plek nie.  Hoekom wil jy nou op ʼn vliegtuig klim as jou eie see en natuur mooier is?! (en ook KOVID-19 het ons nie toegelaat nie!)

Eerste Dans:


Ons het “gego with the flow!”  Met die liedjie keuse het ons besluit op Leah en Joe se “Jy is nooit alleen“.  Dis net ʼn lekker goed voel liedjie en kan dit vir ewig saam met ons dra, want in die huwelik is nie een van ons ooit alleen.  Ons het mekaar.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: