André & Désirée se elegante selfdoen plaastroue

Elke sekonde van enige bruidspaar se groot dag moet gekoester word.  In dié artikel van Mooi Troues deel ons die elegante selfdoen plaastroue van André en Désirée.  Hul liefdes verhaal het begin oor sosiale media wanneer Désirée ʼn vriendskap versoek gestuur.  Kort daarna het dié bruidspaar verlief en verloof geraak.

André en Désirée is albei sot oor plaaslewe, dus was dit ʼn moet om ʼn trou venue te vind wat dit sal verteenwoordig.  Dié elegante selfdoen plaastroue was op ʼn perdekraal trouvenue gehou, wat oor die 200 perde besit.  Dit maak dit so uniek en perfek vir pragtige trou fotos.  André en Désirée se gekose trou venue se onthaal saal was destyds ʼn melkstal wat omskep is in ʼn Franse styl onthaal area. Dié trouvenue se onthaal skep ʼn plaaslike atmosfeer gekombineer met elegansie.

Al André en Désirée se gaste was ontvang met soveel liefde en gasvryheid.  Dié elegante selfdoen plaastroue bied vir die gaste ʼn ou rustiek plaaslike gevoel wat gekomplimenteer word met die elegansie van die trou dekor en natuurlik die pragtige bruidspaar.

Rol nou af en geniet André & Désirée se elegante selfdoen plaastroue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek, Désirée, het eendag op Facebook gesien dat ek en André baie gemeenskaplike vriende het, daarom het ek vir hom ʼn “vriend versoek” gestuur.  Hy het aanvaar, ons het begin gesels en kort daarna het ons vir ons eerste koffie afspraak gegaan.  Dis toe dat ons besef het dat hy op ʼn plaas groot geword het, waar ek jare by ʼn vriendin gekuier het, wie se ouers ook op die plaas bly en werk. Ons het in al daardie jare mekaar nooit gesien nie.

André het een naweek ʼn wegbreek vir ons gereël Graskop toe.  Ons het die dag na al die watervalle in die omgewing gaan kyk.  By een van die watervalle het hy gesê hy dink ons moet piekniek hou. Hy het ʼn kombers uit gegooi op die gras en dis toe dat hy op sy knie voor my staan en my vra om te trou.

Die Verlowing Tydperk:


Ons sou vir ʼn jaar en 4 maande verloof gewees het toe ons sou trou, maar a.g.v. KOVID-19 moes ons 6 dae voor ons troue uitstel omdat dit vlak 5 grendeltydperk was.

Ons het beplan om 10 maande daarna te trou, maar moes weer uitstel a.g.v. KOVID-19 reëls.

ʼn Jaar na ons oorspronklike datum het ons uit eintlik getrou.

Ons het nie ʼn trou beplanner gehad nie.  Ons het verkies om ons spesiale dag self te beplan.

Trou Begroting:


Ons wou graag die hele troue onder R 100 000 hou, maar omdat ons 2 keer moes uitstel was daar ongelukkig baie ekstra kostes.

Ons oorspronklike gastelys het 120 gaste ingesluit, maar a.g.v. KOVID-19 moes ons die gaste minder maak. Ons het op die ou einde 80 gaste onthaal.

Ons advies aan ander paartjies in terme van kostes besparing sal wees om dit so eenvoudig as moontlik te hou. Soms is minder meer.  Dis nie nodig om duisende rande aan blomme te spandeer nie. Pluk ʼn paar blare langs die pad!  Spandeer minder op kos, daar bly soveel kos na die tyd oor.  Daar waar julle op blomme en kos bespaar het kan julle eerder ʼn videograaf huur om julle spesiale dag vas te vang.

Merkwaardigste Oomblikke:


Désirée:

Die merkwaardigste oomblik vir my was toe ek by die kansel afgestap het en my man se gesig gesien het.  Dit was beslis die lang wag werd.

Nog ʼn merkwaardige oomblik was toe almal by die onthaal was en ek net kon sit en elke oomblik inneem.  Dis daar waar mens besef hoe kosbaar sulke oomblikke is.

André:

Die beste deel van die dag was vir my om die eerste dans met my vrou te deel en ter selfde tyd te sien hoe perfek alles uitgedraai het, en hoe ons in oorvloed geseënd is met almal in ons lewe. Dit was op daardie punt dat ek geweet het dat hierdie eintlik die begin was van ewige vreugde en opregte liefde.

Paartjie se styl:


Ek, Désirée, het eendag ʼn foto van ʼn pragtige rok gesien waarop ek my hart verloor het.  Dit was ʼn trourok wat Anel Botha ontwerp het.  Die rok se prys was bietjie bo my vuurmaak plek.  Daarom het ek, my ma en my hoof strooimeisie eendag stad toe gery om rokke te gaan pas.  Geen van die rokke het kers vas gehou by die trourok wat ek graag wou hê nie.  Baie mismoedig het ons by die laaste winkel ingestap en die eerste rok wat my strooimeisie gesien het was amper op die druppel soos die rok wat ek graag wou hê.  Ek was gelukkig om my droom trourok te vind.

My man het nie ʼn spesifieke styl gehad nie.  Hy wou net gemaklik wees en netjies lyk.

My ringe was volgens my smaak ontwerp deur ʼn juwelier in Sandton.

My man is ʼn plaas bestuurder, wat beteken hy werk hard met sy hande.  Daarom het ons besluit om sy trouring by ʼn ketting winkel te koop.

Die Besluitnemingsproses:


Beide ek en my man het die besluite geneem.  Ons het wel baie raad en hulp van ons vriende en familie aanvaar.

Gunsteling Diensverskaffers:


Michelle van Frost Industries Photography en Annelia Smit van Love and I Photography and Videography is 2 dinamiese dames wat goed saam werk.  Hulle het sprankelende persoonlikhede en het beslis almal op hulle gemak gehad tydens die foto sessies.

Die platejoggie, Hendroe en Nelia Lombard van Colorful Events is beslis ook ʼn paartjie wat weet wat hulle doen.

Dan laaste maar nie die minste nie is Elmari Greyling van Something Decadent Handmade by Elmari.  Hierdie dame het ʼn absolute liefde vir troukoeke bak.  Definitief die beste troukoek wat enige iemand ooit sal proe!

Vermaak:


Ons het slegs ʼn platejoggie gehad.  Die trouvenue het wel perdekarre en ʼn springkasteel vir die kinders gehad, terwyl die volwassenes verversings geniet het.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Désirée se advies aan die dames:

Dis jou spesiale dag.  Reël dit soos jy gedroom het.  Dit gebeur net een keer.

André se advies aan die kêrels:

Bruidegom, jy het jou hoof strooijonker gekies, moenie te veel dinge self probeer doen nie, dis waarvoor hy en jou gevolg daar is, geniet die dag net ten volle.

Venue & Dekor:


Ons het Perdekraal, buite Ermelo, gekies.  Die plaas het meer as 200 perde wat die trouvenue baie uniek maak.  Die onthaal saal was ʼn ou melkstal wat hulle omskep het in ʼn pragtige Franse styl onthaal area.  Dis ʼn plaas styl met ʼn kombinasie van elegansie.

Omdat die saal soveel karakter het, het ons besluit om die dekor so eenvoudig as moontlik te hou.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ons dag het absoluut seepglad verloop.  Daar is niks wat ons aan ons dag sou wou verander nie.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID-19 het ʼn groot deel van ons beplanning belemmer.  Om vir ʼn hele jaar te moes uitstel was hartverskeurend.

Eerste Dans:


Ons het ʼn eerste dans gehad. Ons het die dans vloer oop gemaak met Roan Ash se Darling.  Die lirieke is vir ons beide spesiaal.  Ons het geen roetine of danslesse gehad nie.  Ons het net in die oomblik geleef.

Wittebrood:


A.g.v. KOVID-19 was dit nie vir ons moontlik om met wittebrood te gaan nie.


[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]