Ettiëne & Liza se boheemse sprankel troue

Paartjies wat besig is om hul troue te beplan en opsoek in na Bosveld sprankel trou inspirasie sal Ettiëne en Liza se troue baie geniet.  Boheems styl vir troue is tans baie gewild en in dié inskrywing sal jul sien hoe om die boheems bietjie op te tower met sprankel elemente.

Nes die sprankel en bosveld kontrasterend is van mekaar, só is die keuse van Ettiëne en Liza se trouvenue.  Liza wou altyd iewers in die Kaap trou en Ettiëne hou baie van die bosveld, Mooiplaas bied die perfekte kombinasie van altwee!  Liza vertel: “Dit is ʼn stukkie Kaap in die hartjie van die bosveld.” Dié paartjie se troudag het seepglad verloop, te dankie aan die bestuurderes van Mooiplaas en haar span.  Ettiëne en Liza sal Mooiplaas beslis aanbeveel vir enige bruidspaar!  Mooiplaas is ʼn Kaaps-Hollandse styl trouvenue in die hartjie van die Bosveld in Modimolle, Limpopo.  Mooi Troues se lesers kan hul blad besoek op Mooi Troues se aanlyn Trougids vir meer inligting, klik hier om meer te sien van Mooiplaas.

Die paartjie vertel dat hul dinge heelwat anders as gewoonlik gedoen het vir hul troue.  Hulle het byvoorbeeld ʼn “blomme-outjie” gehad i.p.v. strooimeisies wat in die trougang afgeloop het.  Hulle wou hê almal moet hul self geniet en het nie ʼn styf formele atmosfeer gehad nie.

Ons lesers kan asseblief nou rustig afrol en Ettiëne & Liza se boheemse sprankel troue geniet.  Onthou asseblief om dié troue wyd-en-syd te deel.

Paartjie se Liefdesreis:


Ettiëne en ek het vir ʼn geruime tyd op Facebook en Whatsapp gesels voordat ons uiteindelik 4 jaar gelede by ʼn Wimpy in Kemptonpark ontmoet het.  Toe ek hom die eerste keer sien het ek in my hart geweet hys die een vir my wat liewe Jesus vir my uitgekies het.  Ons het dadelik gekliek en so lekker gesels.  Daardie dag, 25 Julie 2017, was die eerste dag van die res van ons lewensreis saam. In die eerste 4 jaar het ons in ons eerste plekkie ingetrek, 2 viervoet kinders bygekry en soveel mooi herinneringe gemaak.

Ons verlowing was vir my die mooiste dag!  Ek het niks vermoed nie.  Dit was Ettiëne se 21ste verjaardag.  Ek het vir hom ʼn partytjie gereël saam met familie en vriende.  Intussen het hy ons verlowing op dieselfde aand beplan sonder dat ek iets agtergekom het.  Almal het buite rustig gesit en kuier toe ek met ʼn slim plan in die huis geneem en geblinddoek is.  Toe neem hulle my weer buite toe en haal die blinddoek af.  Daar staan Ettiëne se niggie met ʼn bordjie wat se “volg die lig na my hart”.  Die ander gaste het ʼn tonnel gevorm met brandende kersies wat hulle doodgeblaas het soos ek afstap.  En daar aan die einde het Ettiëne vir my gestaan en wag.  Met trane in sy oë het hy afgesak op een knie en my gevra om sy vrou te word.  Natuurlik het ek dadelik JA gesê!

Die Verlowing Tydperk:


Ons verlowing was op 8 Junie 2019 en ons het beplan om op 25 Julie 2020 te trou, omdat ons juis 3 jaar gelede op daardie dag ontmoet het.  Ongelukkig moes ons uitstel, weens Kovid, soos baie ander paartjies.  Ons het ʼn nuwe datum gekies, 22 Mei 2021.

Ons het na 2 venues gaan kyk.  Ettiëne het van die bosveld gehou en ek van die Kaap.  Mooiplaas was ʼn kombinasie van altwee,’n stukkie Kaap in die hartjie van die bosveld en ons het sonder twyfel dadelik van die plek gehou.

Die troubeplanning het ek self gedoen.  Die bestuurder van Mooiplaas, Marlize was egter baie behulpsaam met raad.  Sy het presies geweet wat gaan werk en wat nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Liza

Vir my was die grootste oomblik toe ek voor die kapel se deur staan en besef my troudag is uiteindelik hier.  Om my lewe saam met die liefde van my lewe, Ettiëne, verewig saam te spandeer. Toe die deure oopgaan en ek afstap na hom. Die trane wat oor sy wange geloop het toe hy my in my trourok sien.  Dit was vir my so spesiaal.  En natuurlik toe ons die troubeloftes lees het alles ʼn werklikheid geword.  Uiteindelik was ek mev. Van Staden.

Ettiëne

Die grootste oomblik was toe Liza die paadjie van die kapel afstap met die pragtigste rok wat ek nog ooit gesien het.  Ek kon die trane net nie keer nie.  Toe ek haar trouring aan haar vinger sit was vir my baie spesiaal.  Nou was sy uiteindelik my vrou.

Ons eerste dans was net so merkwaardig.  Om in mekaar se arms te dans as man en vrou met al jou familie en vriende om jou in ʼn kring was ongelooflik mooi en spesiaal.

Trou Begroting:


Ons het nie ʼn vaste begroting gehad nie.  Omdat ons die troue weens Kovid moes uitstel, het ons beter beplanning gedoen en besluit om liewer ʼn meer intieme troue te hou met die helfte minder gaste.  Oorspronklik wou ons 150 uitnooi maar het slegs 70 uitgenooi. Dit het beteken dat baie van ons uitgawes, soos dekor en kos, baie verminder kon word.

Ons advies is om slegs mense te nooi wat na aan jou hart is en saam met wie jy jou spesiale dag kan geniet.  Dit moenie gaan oor getalle of net om die venue vol te kry nie.  Dit kos jou onnodig baie meer.

Bespaar deur self van die dekor te maak.

Vra die regte mense om deel van jou gevolg te wees.  Met hulle hulp maak hulle ook jou las ligter.  Moenie mense kies wat jou meer gaan laat stres nie.

Die Besluitnemingsproses:


Al het Ettiëne meeste besluite aan my oor gelos, het ons met byna alles saamgestem.  Dit was maklik om dinge te besluit en te reël omdat ons geweet het wat ons wil hê.  Omdat ek iemand is wat dinge beplan to die laaste detail, het ek definitief meer van die finale besluite geneem.

Ons vriende en familie was nie vreeslik betrokke by enige van die beplanning van die troue nie, juis omdat ons op die dag van die troue almal wou verras het met hoe dit sou lyk.

Paartjie se styl:


Ek het nog altyd van elegante klere gehou en het ʼn prentjie in my kop gehad wat ek wou hê.  Ons eerste stop was Whimsical Bridal in Pretoria.  Ons kon 3 rokke kies om aan te pas.  Die ivoor meermin styl Enzoani rok wat my ma se keuse was, was pragtig.  Growwe kant bo en sagte gaas onder met ʼn sleep aan die rok.  Die rok het my soos ʼn handskoen gepas en was my nommer een keuse.

Ettiëne wou eers ʼn wynrooi pak gedra het.  Maar by die winkels het sy oog ʼn Houtskool grys pak gevang en hy het geweet dis wat hy wou dra.  Met ʼn wit hemp daarby en wynrooi das het hy pragtig gelyk.

Ons Trouringe

Ek het besluit om my verloofring te gebruik as my trouring omdat ek absoluut mal is oor my verloofring.  Dit is ʼn roosgoud ring met die mooiste fyn diamante detail by.  As ek ʼn pandjie bysit sou dit die mooi van die ring heeltemal wegsteek.

Ettiëne het ʼn swart “hammer” Tungsten ring wat ʼn baie elegante styl afgee gekies.  Aan die binnekant het ek gegraveer “Veraltyd Joune”

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad wat die hele aand vermaak verskaf het met lekker musiek waarop almal die hele aand kon dans.

Ons seremoniemeester vir die aand was Chris Else.  Aangesien hy ʼn sanger is het hy ook vir ons ʼn liedjie of twee gesing om ons aand spesiaal te maak.

Die gaste het die fotohoekie wat ons gehad het vreeslik geniet en pret gehad met al die verskillende “props”.

Spesiale Tradisies:


Ons het geen spesiale tradisie gehad nie.  Inteendeel, ons het heelwat dinge bietjie anders gedoen as gewoonlik.   Plaas van blommemeisies, het ons byvoorbeeld ʼn blomme “outjie” gehad,  en die mense was gaande daaroor.  Ons wou niks styf en baie formeel gehad het nie.  Ons wou net hê almal moes ʼn lekker gemaklike tyd hê en dit geniet.  Veral na ʼn stresvolle jaar van Kovid.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Gelukkig het net ʼn paar klein goedjies skeefgeloop.  My kousband het afgesak voordat die kapel deure moes oopgaan.  Die fotograaf se assistent kon my gelukkig gou help daarmee.

Ek het ook natuurlik Ettiëne se verkeerde hand gevat toe ons ringe moes aansit en dit nadat ons voor die tyd gesê het ons gaan seker maak dis die linker hand.  Almal het lekker daaroor gelag.

As ek een ding kon verander het sou dit wees om selfs meer tyd aan die fotos te spandeer.  Die tyd gaan so vinnig verby en voor jy weet is dit donker en het jy nie by al die foto idees uitgekom nie.

Venue & Dekor:


Ons venue was Mooiplaas buite Bela-Bela.  Ek wou altyd iewers in die Kaap trou en Ettiëne is Bosveld mal.  Mooiplaas was die perfekte kombinasie van altwee!  Dit is ʼn stukkie Kaap in die hartjie van die bosveld.  Ons was dadelik verlief op die plek en het geweet dis hier waar ons wou trou.

Ek het nog altyd gehou van sagte kleure omdat dit my persoonlikheid so mooi uitbeeld.  Ek hou egter ook baie van roosgoud en enige iets wat blink omdat dit so elegant lyk.
Ettiëne het gesê hy laat die troudekor aan my oor.  Ek het al die mooi Pinterest idees wat ek al jare lank op my foon gestoor het as inspirasie gebruik saam met ons persoonlikhede en dit waarvan ons hou.

Daarom het ek besluit op sagte kleur blomme soos ligte pienk, wit en perske rose en asters en wit orgidees wat die sagte kant uitbring saam met die sagte pienk tafelloper wat alles mooi komplimenteer.  Roosgoud elemente het alles mooi bymekaar bring.  Aangesien die saal van die venue ʼn baie hoe dak het, het ek besluit om pampas gras in te bring vir hoogte op die tafels sodat dit daardie “wow” faktor gee en ook omdat dit die bosveld so mooi komplimenteer!  Ons het ook gedroogte blomme ingebring omdat dit so mooi lyk saam met die sagte kleure wat ons gekies het. Dit was ʼn regte boheemse bling troue!

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons gunsteling diensverskaffers was beslis Yolanda en haar span van iCelebrate Flower & Decor wat vir ons die blomme en dekor gedoen het en ons dag soos ʼn sprokie laat voel het.

En natuurlik ons venue Mooiplaas.  Saam met die bestuurder, Marelize, en haar span het hulle gesorg dat alles op ons groot dag seepglad verloop.  Ons sal hulle beslis aanbeveel vir enige bruidspaar!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Dames:

Moenie stres oor jou spesiale dag nie.  Jy beplan maar dinge gebeur soms anders.  Wees rustig en geniet dit.

Spandeer geld op ʼn goeie fotograaf!  Fotos is al wat jy gaan oorhê na die tyd.

Neem die oomblik in, want die dag gaan so vinnig verby!  So dans tot jou voete seer is en eet tot jou maag wil bars en lewe net vir die oomblik!

Mans:

Hou maar ʼn sneesdoekie byderhand.  Maak nie saak hoe jy jouself voorberei nie, as jou vrou vir die eerste keer by daardie trougang afstap, aggenee dan is dit net trane!

En manne, luister vir jou verloofde as sy vir jou sê om jou trouskoene uit te loop voor die tyd!  Dit gaan julle baie pyn spaar!

Kovid 19 se uitwerking op jul troudag:


Kovid 19 het ʼn groot effek op ons troudag gehad.  Ons sou oorspronklik die 25 Julie 2020 trou (ons was so bly toe die datum nog oop was omdat daardie dag vir ons soveel betekenis het, omdat ons 3 jaar gelede op daardie spesifieke dag ontmoet het).   Ons moes toe op die ou einde ons troue aanskuif met byna ʼn jaar.

Die voordeel daarvan was dat ons ekstra tyd bygekry het om alles mooi te beplan en geld bymekaar te maak om vir ons sprokiestroue te betaal.

Eerste Dans:


Ons het die week voor die troue besluit op die liedjie “Nothings gonna stop us now” , die liedjie het toevallig op die radio gespeel, ons het vir mekaar gekyk en geweet dis die gepaste een.  Ons altwee hou baie van dans en het dus nie vir lesse gegaan nie.

Die aand voor die troue het ons gou op die liedjie geoefen, maar met die troue het ons net die oomblik geniet en gedans soos dit kom.  Dit het gevoel of ons op ʼn wolk dans met al ons familie en vriende wat in ʼn kring om ons staan met vonkel-stokkies.

Wittebrood:


Ons wou oorspronklik Thailand toe gaan vir ons wittebrood, maar met die pandemie het ons besluit om dit liewer plaaslik te hou.  Umhlanga Cabanas buite Durban was ons keuse.  Warm strande waar ons net lekker kan ontspan.   Ons het dit vreeslik geniet en elke dag iets anders gedoen.  Plekke verken, geswem, rondgery en baie kere net op die strand met ons tone in die sand gesit en luister hoe die branders breek.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]