Vandag deel ons graag met Mooi Troues se lesers Gerhard en Ilzé se warm kleurige verlowing fotosessie in Pretoria. Die paartjie se liefde is soos ʼn kovalente verbinding!
Ons hou so baie van die verlowing fotosessie. Die kleure is absoluut besonders. Gerhard en Ilzé lyk ook so gemaklik en verlief. Die warm kleure is beslis ʼn illustrasie van die warm liefde wat die paartjie deel. Ons hou so baie van die geboue! Dit gee beslis die Europese gevoel, presies wat Gerhard en Ilzé wou hê.
Paartjies wat ʼn verlowing fotosessie beplan is altyd opsoek na inspirasie. Rol af om te kyk na Gerhard en Ilzé se warm kleurige verlowing fotosessie foto’s en meer te lees oor hulle liefdes reis. As jy ander verlowing fotosessies wil sien, besoek ons verlowing fotosessie kategorie. Daar sal jy tonne verlowing fotosessie inspirasie vind.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons was albei nagraadse studente aan die NWU se Potchefstroom kampus. Ek was besig met my honneursgraad in Mikrobiologie en hy met sy meestersgraad (ook in Mikrobiologie). Aanvanklik het ek nie ooghare gehad vir hom nie en hy het gedink dat ek bietjie van ʼn “snob” was. Soos wat die noodlot dit wou hê het ons albei aan dieselfde projek begin werk. Na baie ure se laboratorium werk en tyd saam deurbring, het ons albei besef dat die ander een toe nou nie so “sleg” was nie. Na twee en ʼn half jaar het ons verloof geraak.
Die groot vraag:
Ons het op die 10de Oktober 2020 verloof geraak by Vista’s @The Feather Hill and Spa in Potchefstroom. Die verlowing was beslis ʼn baie groot verassing – ek het dit glad nie verwag nie. Ons sou net die aand op ʼn gewone “afspraak” gegaan het, maar toe ons daar aankom was daar ʼn pragtige tafel spesiaal vir ons buite in die tuintjie. Daar was “fairy lights” orals in die bome en rondom die tafel. Dit was net ek en Gerhard en dit was vir my so spesiaal gewees. Tot vandag toe kan ek nie onthou wat presies hy vir my alles gesê het nie. Alhoewel hy my al seker vyf keer na die tyd gesê het.
Die verloofring:
Die verloofring is ʼn roos-goud ring met ʼn pragtige morganiet steen in die middel en is omring met kleiner diamant steentjies. Gerhard het self die ring uitgekies – ek het van niks geweet nie. Ek kon nie vir ʼn meer perfekte ring gevra het nie – dit is presies die tipe ring waaroor ek nog altyd gedroom het!
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons troudatum is die 5 de Mei 2022 en ons sal dus ʼn jaar en ʼn half verloof gewees het in totaal.
Hoekom ons mekaar liefhet:
Gerhard:
My gunsteling eienskap van Ilzé is die feit dat sy is wie sy is. Sy is straal net liefde en blydskap uit maak nie saak wat nie. Sy ondersteun en motiveer my veral as ek in my eie vermoëns twyfel. Haar intelligensie en hardwerkende natuur is iets wat ek baie hoog ag. Plus, sy maak vir my lekker kos.
Ilzé:
Twee van my gunsteling eienskappe van Gerhard is sy omgee-hart en onvoorwaardelike liefde. Hy dra my elke liewe dag op sy hande en laat my altyd spesiaal en veilig voel maak nie saak wat nie. Boonop plaas hy altyd my behoeftes bo sy eie en is altyd bereid om my met enigiets te help. Hy is die mees geduldigste mens wat ek ken. Hy is ook nie te sleg op die oog nie.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Die grootste motivering was om die foto’s te gebruik vir ons “onthou die datum”, maar om tog ook gemaklik te raak met ons fotograwe. Nie een van ons hou baie daarvan om in foto’s te wees nie en daarom was dit die perfekte geleentheid om bietjie aan ons “modelling vaardighede” te werk voor die troue.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons grootste inspirasie was die pragtige ou geboue wat ʼn mens in Europese lande kry. Kerkplein in Pretoria se middestad met al sy ou geboue en argitektuur het vir ons hierdie Europese gevoel gegee.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ons het nie regtig enige vrese nie, meer net opgewondenheid. Dit is vir ons ʼn baie spesiale tydperk en ons wil graag hierdie tyd van verloof wees gebruik om mekaar beter te leer ken en om te groei as individue sodat ons elkeen die beste weergawe van onsself kan wees aan die begin van ons huwelik.
Visie vir droomtroue:
Ons trou by The Greenhouse Café in Pretoria. Dit is ʼn baie moderne en pragtige venue, gevul met baie plante en ander tipe “groenigheid”. Ons gaan beslis vir die “minder is meer” gevoel in terme van blomme en dekor. Ons tema is terracotta en ander aardse kleure wat ʼn warm gevoel gaan skep – veral omdat dit ʼn herfs/winter troue is. Dit gaan ook nie ʼn groot troue wees nie, maar meer intiem met slegs 60 van ons naaste familie en vriende.
KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:
Nee, tot dus ver het KOVID-19 geen effek gehad op ons troubeplanning nie. Ons vat dit maar soos dit kom!
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Diensverskaffers:
- Fotograaf: George & Co.
- Fotosessie Venue: Kerkplein in Pretoria
- Verloofring: American Swiss