Armand & Danielle se warm kleurige selfdoen troue

Vandag by Mooi Troues deel ons Armand en Danielle se warm kleurige selfdoen troue met ons lesers.  Die paartjie het by die mooie Sweetfontein Boutique Farm Lodge in die Noord-Kaap getrou.

Die paartjie het dadelik verlief geraak op die trou venue nadat hulle eintlik ʼn ander venue se kontakbesonderhede gesoek het op Sweetfontein Boutique Farm Lodge se webtuiste.  Hulle was so beïndruk met dié venue.  Almal by die venue was so vriendelik en professioneel.

Armand en Danielle se warm kleurige selfdoen troue is in die hande van Sweetfontein Boutique Farm Lodge  geplaas.  Hulle het beslis hulself oortref met die hele venue se dekor, blomme en die troukoek.  Alles het so mooi mekaar komplimenteer en die hele atmosfeer was so warm soos die liefde tussen Armand en Danielle.  Die paartjie se verblyf was ook by Sweetfontein Boutique Farm Lodge.  Alles was net so perfek by Armand en Danielle se warm kleurige selfdoen troue.

Rol gerus af en lees meer oor Armand en Danielle se warm kleurige selfdoen troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Armand was my matriek gewees, ek as Gr. 8 natuurlik so verlief op die mooi matriek seun.  Jare later het een van my beste vriendinne met Armand se boetie uitgegaan en so het ons mekaar beter leer ken.  Ons was vir lank net vriende tot een aand wat ons saam gedans het, wat die vonke tussen ons opgevlam het.  Armand het een oggend wakker geword en net gevoel vandag is die dag.  Hy en een van sy beste vriende is toe weg om eerste haar pa te gaan vra.  Hy het ʼn ja gekry en dadelik gery om die ring te gaan haal wat hy al maande terug uitgekies het.  By goeie vriende het Armand op sy knieg gegaan en die groot vraag gevra.  Sewe maande later het ons getrou.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir 7 maande verloof gewees.  Ons het alles self gereël.  Jan Sauer, eienaar van Sweetfontein, het basies alles vir ons gedoen op die venue self.  Van kos tot dekor tot ruikers vir strooimeisies.  Fantastiese persoon, hy het ons so mooi gehelp en bygestaan.

Finansiële Aspekte:


Ons het nog altyd gepraat van ‘n klein troue en net naaste vriende en familie wat ons wil nooi.  Ons gastelys het by 120 mense plus gedraai, want wie nooi mens nou en wie nie.  As gevolg van KOVID-19 het ons egter toe ons droom troue gehad waar net naby vriende en familie daar was, ons was op die ou einde 60 mense by die troue, platejoggie en al ingesluit.  Ons begroting vir die troue was min of meer R100 000 waarby ons glad nie gehou het nie, ons het nie eers mooi kop gehou hoeveel geld uit gegaan het nie.  Ons het alles so goedkoop as moontlik probeer doen en nie oorboort te gaan met massa blomme ensovoorts nie.  My raad sal wees hou dit klein en eenvoudig, met lekker kos, lekker musiek en ʼn mooi rok natuurlik.

Merkwaardigste Oomblikke:


Armand

Om uiteindelik as een gesin saam ʼn lewe te begin met die vrou van my drome.

Danielle

Ons het gaan foto’s neem in die veld en op pad terug was dit net ek en Armand wat met die bakkie terug gery het, ons gevolg was toe al terug gevat.  Ek onthou net die ongelooflike gevoel van vrede in my hart om net vir ʼn klein oomblikkie alles saam met my man in te neem en te besef dis ons trou dag, die dag waarvoor ons nog heeltyd gewag het.

Paartjie se styl:


Eerlik het ons nie regtig ʼn spesifieke styl gehad toe die rok ensovoorts uitgekies was nie.  My ring het ek altyd gesê moet asseblief net nie baie groot wees nie en eerder iets klein en fyn.  Armand het my asem behoorlik weggeslaan met my ring.  Ek wou al van dat ek kan onthou ʼn troue gehad het met donker kleure, vlootblou en wynrooi.  Dit was nog altyd my droom en omdat ons troue in April was het dit al bietjie koeler begin raak en die kleure so lekker warm gevoel gegee.  So die pak en Armand se ring het hy self gekies.  Enige meisie het seker haar droom trourok in haar kop en ek was so gelukkig met my rok.  Niks was ongemaklik nie en ek kon lekker saam met my gaste partytjie hou na die tyd.

Die Besluitnemingsproses:


Albei families was betrokke.  Ons albei het saam finale besluit bespreek en besluit.

Venue & Dekor:


Danielle se ma bly in De Aar en sy wou haar graag betrokke gewees het by die troue.  Ons het heel toevallig op Sweetfontein se blad afgekom, eintlik opsoek na ʼn ander venue se kontak besonderhede.  Ons het een naweek afgery en het altwee dadelik verlief geraak op die pragtige venue.  Die hele gevoel rondom die plek het verseker ons harte gewen.  Soos al van tevore genoem ons wou graag ʼn warm gevoel gee met donker kleure vir die dekor.  Dit was my enigste vereiste dat die kleure gebruik moes word.  Jan Sauer en sy span het die dekor gedoen en wow, ek kon nie glo dis my troue nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons venue, Sweetfontein was verseker ons gunsteling.  Behalwe vir die pragtige venue was hulle net uitstekend.  Die personeel is vriendelik en baie professioneel.  Hulle kos was uit die boeke en alles rondom die venue was net uitsonderlik – die dekor, verblyf, blomme, ruikers en die kapel waar ons getrou het.  Ons kon nie vir beter gevra het nie.  En dan ons fotograaf, Elidiese Strydom van DC Photography.  Haar warm en vriendelike persoonlikheid het almal op hulle gemak laat voel en hulle het elke oomblik in pragtige foto’s vasgevang.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


My raad vir bruide is net om elke oomblik te geniet, want die dag gaan so vinnig verby, moenie die dag om wens omdat jy stres oor klein goedjies nie.  Neem elke oomblik in.  En iewers op die trou aand, vat net 5min saam jou man en neem alles saam in, waar dit net julle twee is, voor die aand om is.

Wittebrood:


Ons wittebrood was ʼn geskenk van Armand se broer en sy verloofde om vir die week Jeffreysbaai toe te gaan en ons het dit so geniet.  Ons het probeer om elke dag ʼn nuwe plek te sien of aktiwiteit te doen.  Wat vir ons seker die meeste uit gestaan het op ons reis was Stormsrivier-mond toe.  Ons het die staproetes gestap en gaan roei op die mooiste plek.  Elke dag was net een groot avontuur saam.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Diensverskaffers:

    [endsection]