Hier by Mooi Troues wil ons graag met ons lesers meer deel oor Conrad en Anomi se sitrus verlowings fotosessie. Die paartjie is so spontaan en is al vir 10 jaar saam. Hulle bied soveel inspirasie met hierdie sitrus verlowings fotosessie aan paartjies wat besig is om hul eie verlowing fotosessie te beplan.
Conrad en Anomi het die verlowing fotosessie gedoen om te gebruik in hulle huis asook vir die trou uitnodigings. Hulle wou ook hierdie fotosessie doen om hul verlowing te vier. Dit is ʼn bitter oulike idee. Hierdie tipe verlowing fotosessies is ook ʼn perfekte manier vir paartjies om gewoond te raak voor die kamera voor die groot dag. Dit kan jou ook meer op jou gemak sit sodat jy weet wat om te verwag en om seker aspekte vroegtydig te verander indien daar enige veranderinge sou wees.
Rol gerus af om meer oor Conrad en Anomi se sitrus verlowings fotosessie te lees en geniet hul foto’s.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons is ʼn tipiese hoërskool paartjie. Conrad en my broer was vriende en dis hoe ek Anomi ontmoet het. Na ʼn lang oproep een aand was ons smoorverlief. Ons was vir 10 jaar in ʼn verhouding tot Conrad die groot vraag gevra het.
Die groot vraag:
Ons het al baie die gesprek gehad en natuurlik het Anomi baie skimpe gegooi maar die tyd en fondse was nooit reg nie. Op ons 10 jaar herdenking het Conrad se ma asook vele ander mense gesê dit is nou tyd. Conrad moes alles fyn beplan omrede Anomi ʼn groot nuuskierige agie is. Conrad moes die verrassing binne twee weke reël want hy wou my graag op Oujaarsdag vra. Sy beste vriend het ʼn plaas in die Mara vallei net buite Nelspruit. Dit is hier waar ons jaarliks bymekaar kom vir die Nuwejaar-partytjie. Hy en my broer is ʼn dag voor die tyd plaas toe om te gaan “visvang” maar eintlik om die perfekte uitkykpunt te soek.
Op die dag het Conrad en vriende gereël dat Anomi en haar skoonsussie omstreeks 9:00 op die plaas moes arriveer. Die plan was om daardie oggend vroeg op te staan want die uitkykpunt moes nog ontbos word. Die oggend beplanning het toe nie so goed uitgedraai nie want die vorige aand het dit gereën en die oggend was die plaas oorsak met mis. Boonop dit het Anomi hulle ʼn uur vroeg arriveer. Daar was toe groot geskarrel om alles betyds reg te kry. In Conrad se guns het die mis gelig en dit was ʼn mooi sonskyn dag. By 10:00 was daar gereël dat beide ons ouers ook plaas toe kom waarna hulle in die bos naby die uitkykpunt moes wegkruip. Anomi is toe soontoe gelok, haar aandag afgetrek. Met die kameras gereed, het ek haar toe gevra en deur die trane van blydskap het sy ja gesê.
Hoekom ons mekaar liefhet:
Conrad:
My gunsteling eienskap van Anomi is haar opregtheid, omgee vir haar medemens, liefde en besorgdheid en spontaniteit.
Anomi:
My gunsteling eienskap van Conrad is dat hy altyd die beste in my sal uitbring, nie ʼn oomblik verby laat gaan om nie ʼn grappie te vertel nie en sy omgee vir ander.
Die verloofring:
Tydens my hoërskool jare het ek vakansie werk gedoen by ʼn juweel winkel, Violet & Rose, en Goudsmid waar ek my kennis opgedoen het oor juweliersware. Ek het dus al lank al geweet watse tipe steen, snit en metaal ek wil hê. Met my skimpe het ek baie foto’s aangestuur aan Conrad, asook sy Ma. In Desember 2020 het hy Melissa by Violet & Rose genader met Anomi se voorbeelde. Sy het toe ʼn ring ontwerp uit haar persoonlike kennis van Anomi se voorkeure en hulle vriendskap. Soos altyd was Melissa ʼn regte ster want sy het die ring binne twee weke klaar gehad. Dit is ʼn minimalistiese ontwerp met ʼn maisonnette peer-snit steen en roosgoud pand.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons het besluit om die fotosessie te doen om ons verlowings tydperk te vier asook vir die doel om die foto’s te gebruik vir ons huis en trou uitnodigings.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons kom altwee van die Laeveld streek, ʼn area ryk aan sitrus boerderye. Ek het die inspirasie gekry vanaf Pinterest waar ʼn paartjie piekniek hou in die lemoenboord. Dit het vir my baie uniek gelyk en ek het dadelik geweet Savannah is die perfekte fotograaf vir hierdie visie. Gelukkig was toegang tot ʼn lemoenboord nie ʼn probleem nie aangesien een van ons vriende op so plaas bly. Ons is beide plat op die aarde mense en hou nie van te veel formeel wees nie. Ek het ʼn kaasbord en ons gunsteling wyn voorgesit en Savannah het gesorg vir die stilleering van die foto’s.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Diensverskaffers:
- Fotograaf: Savannah Greeff Photography
- Verloofring: Melissa Skinner van Violet & Rose Jewellery Co.