Gideon & Cherine se veelsydige verlowing fotosessie

Paartjies wat dink aan ‘n verlowing fotosessie sal baie inspirasie geniet van Gideon en Cherine se fotosessie.  ‘n Verlowing fotosessie is ‘n baie belangrike element van die trou beplanning.  Paartjies wonder ook altyd oor hul kleredrag …  Cherine deel dat sy seker gemaak het haar en Gideon se uitrustings pas bymekaar.

Die weer het op die dag nie saam gewerk met die paartjie se planne nie, tog het hulle nie dat die weer vir hul afskrik nie.  Hulle het by ‘n plaas in Gauteng hul fotosessie gedoen en gebruik gemaak van al die verskillende liggings wat elk ‘n unieke gevoel tot die foto’s gegee het.

Mooi Troues se lesers kan asseblief nou afrol en Gideon en Cherine se veelsydige verlowing fotosessie en liefdes storie geniet.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het by die diamantmyn in Cullinan ontmoet. Ons gemeenskaplike vriendin het ons aan mekaar voorgestel. Gideon wou nie ophou gesels met my nie maar het heeltyd sy donkerbril opgehad. Ek het gedink dat hy effens arrogant was (donkerbril in die myn?) maar het later uitgevind dat hy sy rooi oë wou wegsteek (hy het glo ʼn rowwe aand gehad die vorige nag). Ons het mekaar weer ʼn maand na dit by die Varsity Cup raakgeloop waar hy vir my sy baadjie geleen het vir die koue. Sedertdien het ons nooit ophou klets nie.

Ons was 7 jaar en 6 maande saam voor die verlowing.

Die groot vraag:


Die verlowing was beslis ʼn verrassing, ek het niks vermoed nie. Gideon se beste vriend en sy vrou (Philip en Michelle Coetzer) het gemaak asof Michelle se jaareindfunksie by Bill Harrops se warmlugballonne sou plaasvind. Ek was onder die indruk dat die Coetzers nie die geleentheid sou kon bywoon weens ander verpligtinge nie en ons in hulle plek sou gaan (min wetend dat Gideon sy hoogtevrees wou trotseer om een van my wenslysie drome waar te maak).

Die oggend van die 17de Desember meld ons reeds 05:00 aan vir ons opwindende dag. Tot Gideon se verdriet is daar teveel wind en ons kan nie vandag opstyg nie.
Gideon dink toe gou op sy voete en span my ma (Carina Kirsten) aan om solank ʼn opmaak fotosessie in my ouerhuis se tuin aan te durf. Ons lyk dan immers so mooi vir ons warmlugballon uitstappie.

Hy het toe sommer net daar op sy knieë beland. Nietemin is ons die volgende oggend weer vroeg na Oom Bill Harrops se plaas om die mooiste sonsopkoms te beleef op ons eie private miniatuur warmlugballon. Ek was oorweldig met emosie.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Gideon is verlief op my omgee hart.

Ek bewonder sy vermoë om altyd homself in iemand anders se skoene te kan sit.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het beplan om vir ʼn jaar verloof te wees.

Die verloofring:


Ek het vir Gideon idees gestuur waarvan ek gehou het. Hy en my ma (wat ongelooflik kreatief is) het saam met Oom Willem Aucamp gewerk om die onbeskryflike ring ʼn realiteit te maak. Die ring het beslis al my verwagtinge oortref. Ek wil nie eers iets bysit soos ʼn troupant nie.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het, as gevolg van die KOVID-19 pandemie wat ons getref het so 3 maande nadat ons verloof geraak het, nie direk na ons verlowing ʼn fotosessie gehad nie. Ons het dit toe nader aan ons troudatum gedoen (12/12/2020). Nadat ons besef het dit sal kan realiseer met verslapping van die inperkings. Ons wou die foto’s hê om die spesiale tydperk in ons lewe te onthou.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons is altwee mal oor mooi aantrek. Ek is so effens “OCD” en hou daarvan as die kleure wat ek en Gideon aan het mekaar komplimenteer. Ons is altwee lief vir die natuur en is altyd opsoek na ʼn nuwe ervaring. Rosemary Hill het net so groot verskeidenheid van agtergronde dat ons nie anders kon as om dit hier te doen nie.

Ons het ook besluit dat die reën en die wolke deel is van ons lewe. Ons het besluit om voort te gaan met die fotosessie ten spyte van die weer omdat ons saam al geleer het om steeds aan te gaan en die beste van iets te maak al is die omstandighede nie altyd in ons guns nie. Altwee van ons mal oor ʼn uitdaging!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons het ʼn ongelooflike span (familie en vriende) wat letterlike elke aspek van hierdie troue ʼn reuse sukses sal maak. Dit gaan die mooiste dag wees! Ons vrese is maar soos elke paartjie in hierdie pandemie dat almal gesond by die troue sal kan opdaag en dat ons wel die troue sal mag hou.

Visie vir droomtroue:


Ons wil graag in die Bosveld trou omdat dit vir ons die mooiste herinneringe van ons kinderjare bring. Ons wil egter ʼn formele, stylvolle, klassieke atmosfeer hê. Hierdie kombinasie is wie ons is – uniek.

KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:


Ons het reeds in die vorige vrae verwys na sekere aspekte waar KOVID-19-19 ʼn impak op die troubeplanning gehad het.

Dit het beslis ongelooflike uitdagings gebring in alle opsigte.

Die prys van blomme en beskikbaarheid, dekor items wat net nie meer ingevoer word nie en mens sit met die helfte van die hoeveelheid kersblakers of messe en vurke, my masker aknee wat ten spyte van die slimste planne net nie wil opklaar nie, onsekerheid oor tafelplasings en verblyf, geliefdes wat oorlede is aan die virus, vriende en familie regoor die wêreld wat nie mag reis of bywoon nie om maar ʼn paar te noem. Ons is egter bitter dankbaar dat ons wel ons troue kon hou op ons oorspronklike datum.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]