Heinrich en Clarissa het ʼn streng begroting gehad om hul droom van ʼn naweek troue by die see saam familie en vriende ʼn werklikheid te maak. Die paartjie het beslis nie ʼn tekort aan inisiatief, kreatiwiteit en beplannings-vaardighede gehad nie! Met die hulp van familie en vriende, asook Heinrich en Clarissa se kreatiwiteit, kon hul ʼn asemrowende naweek troue saam 50 spesiale gaste geniet. Alhoewel Heinrich en Clarissa op minimalistiese dekor gefokus het, het hul seker gemaak dat ʼn duidelike tema regdeur die dag gesien kan word. Volgens hulle, is dít die geheim om ʼn selfdoen troue steeds die ‘wow’-faktor te gee.
Dit is beslis nie ʼn eenvoudige taak om ʼn selfdoen troue só elegant en professioneel te laat lyk nie. Dus deel ons graag Heinrich en Clarissa se Tsitsikamma naweek troue, gevul met waardevolle wenke om ʼn selfdoen troue suksesvol te beplan.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons liefdesreis het begin toe vriende my nommer vir Heinrich stuur en sê dat hy my moet uitvra. Hy het my gekontak en ons het eers bietjie op Whatsapp gesels, maar kort daarna het hy my gevra vir koffie. Ons het by ʼn klein restaurant ontmoet en het só lekker gekuier dat ons daarna elke dag met mekaar gesels het en mekaar al hoe meer begin sien het. Ons was albei mal verlief vanaf die eerste oogopslag.
My en Heinrich se eerste ontmoeting was in 2018, waarna ons ʼn jaar later in 2019 verloof geraak het. Heinrich het my verras met ʼn naweek by die luukse Wild Horses Lodge naby Sterkfontein dam. Hy het my die middag gevra om te trou terwyl ons piekniek gehou het by ʼn uitkykpunt oor die dam. Dit was verskriklik romanties, gemaklik en spesiaal.
Die Verlowing Tydperk:
Ons aanvanklike plan was om slegs ʼn paar maande verloof te wees en dan te trou. KOVID-19 het egter ons planne bietjie in die wiele gery en ons moes ongelukkig die troue uitstel. As gevolg daarvan was ons op die ou einde omtrent ʼn jaar verloof.
Ons het alles self beplan vir ons naweek-troue in die Tsitsikamma woud en soveel as moontlik self probeer doen om kostes te spaar.
Finansiële Aspekte:
Ons totale begroting was R100 000 vir ʼn naweek-troue. Ons wou graag die geld aanwend vir kwaliteit tyd saam met ons familie en vriende, eerder as op dekor en fieterjasies. Daarom het ʼn groot deel van ons begroting gegaan om ʼn deel van ons gaste se verblyf te betaal. Ons het getalle tot 50 beperk om dit te kon regkry. Die idee was om alles baie eenvoudig te hou, maar tog ʼn duidelike tema te hê sodat alles steeds mooi lyk.
Die grootste uitdaging was die feit dat ons venue baie ver van alles af is. Ons moes alles moes inhuur van Plettenbergbaai af. Die vervoer van die items soos stoele en tafels het ʼn groot deel van ons begroting geneem. Maar, met baie beplanning en mooi besin oor wat werklik nodig is, kon ons ver kom en nie oor ons begroting gaan nie.
Hoe ons kostes bespaar het:
Om verder kostes te bespaar, het ons baie aspekte van die troue self gedoen. Ons uitnodiging was ʼn video wat ons self gemaak het. Die video is elektronies uitgestuur, so dit het ons niks gekos nie. Ons het self ons konfetti sakkies, geskenkies vir die gaste, kerk-bladjies en plekmatjies gemaak. Ons het ook ons familie en vriende gevra om te help; My pa het byvoorbeeld die boog vir die woud gemaak. Dit was ook later by die venue gebruik vir foto’s met die see in die agtergrond. Heinrich se ma het die klokkies vir die woud gemaak. My ma en sussie het die blommemeisie rokkie gemaak. My vriendin het my hare gedoen en my sussie het my grimeer. Dieselfde vriend wat my nommer aanvanklik vir Heinrich gegee het, het ons getrou.
Ons het geweet dat as ons met baie liggies gaan (kerse en fairylights) ons baie verder sou kom met ons begroting as wat ons blomme sou kies. Dit het verskriklik mooi op die lang tafels gelyk.
Merkwaardigste Oomblikke:
Omdat ons in die pragtige Tsitsikamma woud getrou het, was dit beslis die absolute stilte tussen die hoë bome, die reuk van die dennenaalde en die besonderse uniekheid van ons venue. Die feit dat ons werklik net ons naaste vriende en familie genooi het om dit met ons te deel, het die hele naweek verskriklik spesiaal gemaak. Almal het stories gehad van hulle staproetes die oggend, die vorige aand se kuier by die lapa en almal was in goeie luim oor die seelug, die mooi venue, die heerlik kos en die samesyn. Daar was ʼn atmosfeer van lag en gelukkig wees en niks was styf of formeel nie.
Die feit dat dit ook nie gereën het nie, was natuurlik ʼn groot verligting en hoogtepunt, want dit het vooraf nogal angstigheid veroorsaak!
Paartjie se styl:
Ons wou graag alles stylvol, maar tóg moeiteloos-gemaklik laat lyk om in te pas met die woud-tema. Heinrich en my seuntjie het min of meer in dieselfde kleure aangetrek – diep blou baadjies, met beige broeke en bruin leer skoene. My rok was ʼn eenvoudige snit met rowwe kant vir die bolyf.
Vir my trouring het ek gehou van die idee dat ek nie elke dag dieselfde ring hoef te dra nie. Daarom bestaan myne uit 4 los witgoud pante met klomp klein diamante wat op verskillende maniere gestapel kan word. Vir dae wat ek nie al 4 wil dra nie, dra ek net die hoof diamantring of soms met 1 pant by.
Ons het elkeen vir mekaar boodskappe in die ringe laat graveer.
Gunsteling Diensverskaffers:
As gevolg van KOVID-19 en die feit dat ons so ver van ons venue af woon, was dit verskriklik stresvol om die logistiek van die troue bymekaar te kry en selfs om te weet of die troue wel gaan plaasvind met die provinsiale grense wat toe was.
Ons venue vereis dat mens alles self reël en regmaak op die dag en ons het niemand in die area geken wat kon help met blomme, opstel van die tafels en stoele ens. nie. Ons sou van familie en vriende gebruik maak, maar ons was nooit regtig doodseker wie dalk later sou kanseleer as gevolg van KOVID-19 nie. Die onsekerheid van alles het baie druk op ons gesit en 1 maand voor die troue het ons toevallig op Mercia Baker van Meraki Gastehuis afgekom. Sy het totale beheer geneem om die blomme wat ons nie kon kry nie te bestel en al die logistiek vir ons oor te neem. Sy is verseker die persoon wat die heel meeste vir ons uitstaan.
Ons fotograaf, Ewald Stander, was ook fantasties!
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Die Vrydagaand voor die troue het dit verskriklik gereën en ek glad nie slaap nie! Ek was ongelooflik bang dat dit op die dag in die woud sou reën. Ek was dus baie moeg die volgende oggend – alles verniet, want ons het perfekte weer gehad die hele Saterdag!
Ons platejoggie het per ongeluk die verkeerde liedjie gespeel toe ek by die woud moes instap, maar dit is darem vinnig reggestel. In die opgewondenheid en stres van alles, het ons ook vergeet om ons lofsang liedjie te sing.
Venue:
Ons wou verskriklik graag ʼn onvergeetlike naweek-troue saam met ons geliefdes by die see gehad het. Ek en Heinrich woon in Bloemfontein en ons het so ver soos Durban en selfs Sodwana gery om na opsies te kyk. Omdat dit so ver is, wou ons ook graag op ʼn langnaweek trou, maar die venues wou dit glad nie toelaat nie. Dit was ʼn groot gesukkel om ʼn venue te kry wat ons sak pas én ons toelaat om op ʼn langnaweek te trou. Ons het na ʼn baie lang soektog op Misty Mountain Reserve in die Tsitsikamma afgekom. Dit is egter nie ʼn strand venue nie, maar omdat dit op ʼn krans geleë is, was daar ʼn pragtige see uitsig. Dit is werklik asemrowend! Toe ons eers die woud beleef, het ons besef dat dit die perfekte, spesiale en unieke venue is wat ons harte begeer het.
Ons kon ook bekostigbare verblyf naby vind vir almal, so alles het perfek uitgewerk.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Heinrich se raad:
Handel so veel as moontlik, so vinnig as moontlik af; Moenie wag vir die laaste minuut nie, want die takies hoop op!
Clarissa se raad:
Nooi slegs die mense wat werklik op ʼn daaglikse basis aktief deel is van jul lewens. Moenie sleg voel om getalle minder te maak nie.
Vermaak:
Ons het van DJ Dayne-Lee gebruik gemaak en hy was baie professioneel. Hy het die klank in die woud opgestel en ook al sy toerusting later na die venue verskuif.
Eerste Dans:
Ons het letterlik ons heel eerste dans ooit op die troue gehad! Ek en Heinrich het nog nooit voorheen saam gedans of eers geoefen nie. Ons gunsteling liedjie is “For You” van Liam Payne en Rita Ora en ons het hierdie liedjie in ons video-uitnodiging gebruik en ook weer om die dansbaan te open.
Wittebrood:
Heinrich het die hele wittebrood beplan en ons het by die ongelooflikste plekke gebly. Ons eerste aand was by Trogon House & Forest Spa- ʼn glas huis tussen die bome. Die res van ons wittebrood was by The Alexander in Knysna Heads.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf: Ewald Stander Fotografie
- Venue: Misty Mountain Reserve
- Blomme: Mercia Baker van Meraki Guesthouse
- Bruidegom-pak: Truworths Man
- Dekor: Flower-It
- Grimering: Elmarie Opperman @ Perfection
- Hare: Chrisna’s Cutting Lounge
- Huwelik kontrak: Evert Kleynhans
- Huurdienste: Events and Tents
- Juweliersware: HDL
- Musiek: DJ Dayne Lee
- Paartjie se verblyf: Misty Mountain Reserve
- Strooijonkers bykomstighede: H&M
- Skoene: Edgars
- Trourok: Julie Wedderburn
- Trouring: Jewel Craft Bloemfontein
- Troukoek: Eendstop
- Wittebrood plek: Trogon House