Hannes en Britte het beide hul persoonlikhede in ag geneem toe hulle op ʼn venue en styl vir hul groot dag besluit het. Die natuur en wild is waar Hannes op sy gelukkigste is, en Britte is lief vir blomme, plante en ʼn boheemse styl. Toe Britte hierdie industriële-sjiek venue met ʼn “Groenhuis-kapel” op Facebook raaksien, was haar soektog verby! Hulle kon uiteindelik hul boheemse sjiek troue begin beplan en visualiseer. Donker kleurige blomme en dekor, pragtige Persiese matte én natuurlik die paartjie se persoonlike styl, het hul prentjie ingekleur. Elke klein detail, vanaf Britte se styl van trourok tot die onthaal se tafel-dekor, is noukeurig gekies om by die algehele styl aan te pas.
Hannes en Britte se troudag is werklik die toonbeeld van tydlose boheemse dekor. Hierdie spesiale dag het al in Oktober 2019 plaasgevind, maar sal steeds vandag en nog vir jare wat kom, jou asem wegslaan!
Let op na die details van hierdie troue, en laat dit vir jou inspirasie wees om jou éie boheemse sjiek troudag te beplan.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons was ʼn hele skoolloopbaan saam, maar het mekaar nooit opgemerk totdat ons saam by Aardklop begin kuier het nie. Ons het dadelik ʼn konneksie gehad en oor en weer begin kuier. Die volgende jaar op 4 Februarie 2011, het Hannes my gevra om sy meisie te wees en ons liefdesreis het begin. Ek het al die jare vir Hannes gevra dat die dag wat hy besluit om my te vra om te trou, dit asseblief op kamera vasgevang moet word. Ek het nooit gedink hy sal dit onthou nie, maar tot my verbasing het hy amper agt jaar later, ʼn skelm fotosessie gereël en my gevra om te trou.
Die Verlowing Tydperk:
4 Oktober 2018 het my wens waar geword – Hannes vra my om te trou! Omdat die 4de “ons” datum was en ons aan my ma se kant van die familie ʼn tradisie het om in Oktober te trou, het ons dadelik ons datum vasgemaak vir 4 Oktober 2019. Ek het vir baie jare lank idees en prentjies bymekaargemaak vir ons groot dag en daarom het ons besluit om die troue self te beplan. ʼn Jaar om ʼn troue te beplan het op daardie stadium nie baie lank geklink nie, maar die opgewondenheid het die dae soms lank laat voel!
Paartjie se styl:
Die hele idee agter ons troue se styl is boheems met ʼn tikkie sjiek. Ek het my rok so laat ontwerp dat dit plein, maar met baie detail is. My ring (wat Hannes ontwerp het) pas ook by die styl. Hannes se Damascus-staal ring en sy pak is ook uniek in die opsig. Dit het die styl van ons troue mooi uitgebeeld met die verskillende kleure en teksture.
Merkwaardigste Oomblikke:
Britte:
Die dag het aangebreek. Oomblikke voor ek en my pa by die kansel afstap, het ek besef dat vandag word my drome waar. Toe die deure oopgaan en ek vir Hannes sien en weereens besef dat ek met my beste maat gaan trou en die res van ons lewens gaan saam spandeer, was vir my die kosbaarste oomblik.
Hannes:
Ek is nie sommer ʼn tranerige man nie, maar die opbou binne die kapel was emosioneel en toe die bruidsmeisies begin inloop, was ek naby aan die rand. Toe my bruid uiteindelik instap, kon ek nie die waterwerke stop nie! Hier kom my bruid en dit gebeur – ons trou.
Finansiële Aspekte:
Ons is baie geseënd met betrokke ouers wat ons gehelp betaal het aan ons groot dag. Ons begroting was ongeveer R200 000 en ons het sover as moontlik daarby probeer hou. Alhoewel ons albei uit groot families uit kom, wou ons steeds graag ʼn intieme troue hê. Dit was ook ʼn uitdaging om by die begroting te hou, so ons het slegs 100 gaste onthaal.
Foto’s is een van die grootste herinneringe van jou troudag, maak seker jy begroot genoeg daarvoor. Moenie skaam wees om vriende en familie om hulp te vra vir selfs die kleinste goedjies nie.
Wittebrood:
Bali was ons wittebrood bestemming. Wat ʼn belewenis! Drie nagte in Ubud wat binnelands in die woud geleë is en 7 nagte in Kuta wat teen die kus geleë is. Dit is so ʼn kultuur-ryke land en die mense is só vriendelik. Daar is ook so baie om te doen op die mooi eiland. Snorkel in die helder blou water, ʼn aktiewe vulkaan, Mount Batur, uitklim om die sonsopkoms te kyk en baba seeskilpaaie red deur hulle die see vry te laat, is maar net ʼn paar van ons hoogtepunte.
Venue & Dekor:
Ek het op Facebook gesoek vir venues en die oomblik toe ek Lieu de Grace se blad oopmaak en die “Groenhuis-kapel” sien het ek geweet ons móét gaan kyk. Toe ons daar aankom, het ek en Hannes dadelik besef dat dít die venue vir ons is. Hannes is baie lief vir die natuur en wild en ek is mal oor blomme, plante en boheemse styl met diep donker kleure.
Eerste Dans:
Ons eerste dans was baie pret! Toe die deure oopgaan om ons as Mnr. en Mev. Claassen te verwelkom, het ons dadelik die dansvloer geopen met ons eerste dans. Danslesse was ʼn moet vir ons en ons is glad nie spyt daaroor nie. Toe ons die liedjie-keuse vir die instruktrise gee, was sy baie opgewonde! Dit is nie ʼn algemene genre waarop paartjies hul eerste dans doen nie. Die liedjie waarop ons gedans het, is Meiko – Stuck on You.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Dames:
Moenie dat enigiemand jou drome en idees afwys nie. Dit is jou groot dag en dit moet vir jou en jou toekomstige man spesiaal wees. Geniet die klein goedjies van die beplanning. Op die groot dag, vat jou man eenkant en laat alles net insink, want dit gaan so vinnig verby. Onthou, alles en almal is daar vir julle en julle spesiale dag.
Kêrels:
Moenie teveel stres nie, veral nie oor die toesprake en bedankings nie; Dit gaan vinnig verby. Geniet elke oomblik en onthou, jy kan nooit té veel vir jou vrou sê sy lyk mooi op die groot dag nie!
- Fotograaf: Shanay Greene Photography
- Blomme: The Bloom Event
- Bruidegom-pak: T Strydom Designs
- Dekor: The Bloom Event en Lieu De Grace Venue
- Gaste Geskenke: Lesley van Vollenstee
- Grimering: Cheney Kloppers – Shades of You Makeup Studio
- Hare: Pure Serenity Hair Studio
- Huweliksbevestiger: Sebastiaan van Dyk
- Juweliersware: Lovisa
- Trouring: Carat Jewellers & Kappetijn Knives
- Troukoek: Beatrice Mann
- Musiek: Blast Entertainment
- Platejoggie: Blast Entertainment
- Skoene: Steve Madden en Tread and Miller
- Skryfbehoeftes: Helena Huyser
- Trourok: T Strydom Designs
- Venue: Lieu De Grace Venue
- Paartjie se verblyf: Lieu De Grace Venue
- Huwelik kontrak: Rousseau Rousseau Law
- Wittebrood plek: Bali – Indonesië