Neil en Natacha is albei baie lief vir die buitelewe en is van mening dat die plaas-lewe in hulle bloed is. Dit sou dus glad nie gewerk het as dié paartjie ʼn verlowing fotosessie in die stad gedoen het nie! Hulle bewys weereens hoe belangrik dit is om ʼn verlowing fotosessie by jou eie unieke persoonlikheid en styl aan te pas. Neil en Natacha het sorgeloos tussen pragtige proteas poseer terwyl hul fotograaf die spesiale tyd in hulle lewens vasgevang het. Natacha het egter nie toegelaat dat die mooi omgewing al die aandag steel nie! Sy het ʼn mosterd-kleur bloes gekies en het perfek ingepas by die rooi proteas. Die paartjie se keuse van uitrustings het ook bygedra om ʼn lewendige en liefdevolle atmosfeer tussen die proteas te skep.
Rol af vir ʼn pragtige fotosessie tussen Pretoria se mooiste proteas!
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Gedurende ons heel eerste ontmoeting het ek, Natacha, met Neil se skool-vriend uit gegaan. Ons het so paar maande na skool opgebreek. Slegs 3 dae nadat ons opgebreek het, het Neil my gekontak vir ʼn afspraak, sonder dat hy geweet het ek en sy vriend is uit. Ons het nog nooit weer terug gekyk nie! Ons was presies 6 jaar en 1 maand in ʼn verhouding voor ons verloof geraak het.
Die Groot Vraag:
Ons het verloof geraak in die Drakensberge, toe ons by Dragons Peak Bergoord ʼn Helikopter rit geneem het. Neil het alles so mooi beplan en ek het van niks geweet nie. Na 6 jaar se afwagting het ek op gehou om dit te verwag!
Ons het op die rit gegaan (saam ander mense wat daar was) en ek was toe so op my senuwees oor die hoogtes dat ek nie eers opgelet het op ander goed nie. Ons het op ʼn plat berg gestop en net daar gaan hy op een knie af en vra my om te trou. Dit was een van die spesiaalste oomblikke van my lewe. Dit was ongelooflik om tussen al die berge en te vlieg – ʼn pragtige belewenis. Daarna het ons ook gaan ‘zip line’ wat net so lekker was. Ek het die heeldag in die wolke spandeer – letterlik en figuurlik! Daarna het ons lekker sjampanje gedrink en mooi foto’tjies geneem.
Hoekom ons mekaar liefhet:
Natacha: My gunsteling eienskap van Neil is dat hy sy skoene totaal en al kan volstaan as die man en broodwinner van ons huishouding en verhouding. Ek is mal daaroor oor hoe hy die Hoof van die huis is, maar dit steeds met respek doen. Daarby, is sy liefde vir ons Hemelse Vader net verstommend.
Neil: My gunsteling eienskap van Natacha is dat sy altyd in slegte situasies of negatiewe oomblikke mense kan maak lag en altyd positief bly. Ek hou ook van haar sterk persoonlikheid, en natuurlik haar lekker kos!
Die verloofring:
Die verloofring was heeltemal ʼn verrassing! Ek het vir Neil ʼn prentjie gestuur van ʼn verloofring wat ek gesien het toe ons ongeveer 2 jaar saam was. Neil het die ring presies so laat maak! Hy het ook in die binnekant van my ring gegraveer: ‘FOrever you me and GOd.’ Dit sal vir altyd so spesiaal vir my wees en só baie beteken. Ons glo vas dat geen verhouding/huwelik sal gelukkig wees sonder die Here nie.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons het besluit om ʼn verlowing fotosessie te doen vir die fotograaf om ʼn gevoel te kry van ons styl en waarvan ons hou. Sy kon toe ook sien wat is ons sterk punte en swak punte sodat ons mooi foto’s op die troudag kan neem. Ons wou ook baie graag foto’s vir die huis gehad het. Omdat ons nou die troue uitgestel het as gevolg van KOVID-19, gaan ons beslis van die foto’s gebruik maak vir die uitnodigings en om nuwe ‘Onthou die Datum’ kaartjies uit te stuur.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ek wou nog altyd ʼn winter/herfs tipe kleurskema fotosessie doen. Die plaas met die rooi proteas en die mosterd kleure het net so mooi bymekaar gepas. Ek is verlief op die mosterd kleure. Die buitelewe en plaas/bos lewe is in my en Neil se bloed, so dit moes so gebeur dat ons ʼn buite area tipe styl doen.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Natuurlik die stres van die trou beplanning en finansiële bydrae is altyd ʼn ongemaklike situasie. Ek en Neil het ten spyte van ons verskillende smake nogal vinnig ooreengekom van wat ons graag wil hê. Neil het maar ook ingegee met party besluite waar hy gesien het ek het reeds my hart op dit gesit! Ons verwagtinge was beslis om die nuwe reis en liefdesverhaal te skryf met die hulp van die Here en ook om sterker en nader aan mekaar te groei.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons troue was reeds beplan en betaal vir die 3de Oktober 2020. Uitnodigings was reeds uitgestuur, maar toe moes ons uitstel as gevolg van KOVID-19. Die nuwe datum is vir die 27ste Februarie 2021. Ons sal dan presies 1 jaar en 7 maande verloof wees.
Visie vir droomtroue:
Ek en Neil wil beslis op ʼn wildsplaas trou. Ons het ʼn naweek troue ingedagte met familie en vriende wat die hele naweek saam met ons kan geniet. Ons droom van ʼn troue in die bos, lekker geselskap, vars lug, mooi hemele vol sterre en ʼn sagte somer windjie vat waai. Weg van die geraas van die stad en die gejaagde lewe daar buite, met diere in die bos en in die natuur. Ons wil saam lag en kuier soos nog nooit te vore nie met nie te veel verrigtinge nie. En natuurlik in die teenwoordigheid van die Here, wil ons die huwelik bevestiging doen.
KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:
KOVID-19 het ʼn baie groot rol in ons trou reëlings gespeel. My rok was geskeduleer om te arriveer van oorsee op die 8ste Junie 2020. Voor dan moes ek my trou skoene en verkieslik juwele gaan soek. Ons moes in Mei begin het na strooimeisie-rokke, maar natuurlik kon niks van die goed plaasvind nie. Ons moes ook die trou-datum skuif na volgende jaar, as gevolg van al die regulasies. Dank die Here die pryse vir alles het dieselfde gebly! Ons het sover nog nie enige negatiewe terugvoer ontvang nie. Die ergste vir ons was dat ons deur die hele inperking ʼn dieet gevolg het, terwyl almal lekker kon bak en brou. Ons was so teleurgesteld na al ons harde werk en harde oefeninge!
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf: Fern Green Photography
- Fotosessie Venue: Harmonie Proteas