Die vars lug en pragtige blomme wat met Septembermaand gepaard gaan het Alicia se hart oorwin toe sy slegs ʼn klein dogtertjie was. Dus het Alicia en Greg besluit om hul troudag se tema en dekor by die herinneringe van Septembermaand te pas. Hierdie besluit het ʼn pragtige troudag, gevul met pienk rose, vars groen blare en lente-liefde opgelewer. Dié paartjie beskryf hul troudag as klassiek-elegant en ons hier by Mooi Troues stem beslis saam! Alhoewel hulle ʼn ellelange wenslys gehad het, het hulle dit nie oordoen deur té veel uiteenlopende elemente bymekaar te gooi nie. Behalwe natuurlik die paartjie se merkwaardige styl, was die klassieke klip-kapel beslis ʼn fokuspunt van hul spesiale dag. Alle dekor is natuurlik, skoon en sag gehou om by die algehele prentjie aan te sluit.
Rol af vir ʼn pragtige troudag gevul met lente-liefde, asook nog ʼn paar waardevolle wenke!
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het mekaar in Desember 2016 in Parys ontmoet. Nee, nie daai Parys nie – die regte een, met die Eiffel-toring! Ons was albei met vakansie in Europa. Vandat ons mekaar op ons toergroep ontmoet het, was ons onafskeidbaar.
In Julie 2018 is Greg sonder my Engeland toe om die Grand Prix by te woon. Om daarvoor op te maak het hy ʼn wegbreek in die Drakensberge gereël met sy terugkoms in Suid-Afrika. Die aand voor ons vertrek, het ons beplan om my ouers te ontmoet vir aandete. Greg was veronderstel om dié aand my ouers te vra of hy met my mag trou. Op die laaste oomblik moes my ouers kanselleer en ʼn baie teleurgestelde Greg moes maar die ring by die huis los. Met ons terugkoms het Greg uiteindelik sy kans gekry om die ja-woord te vra.
ʼn Week later het hy my verras met ʼn romantiese aand uit. Na lekker gesels, heerlike wyn en ʼn vyf-gang maaltyd het ek myself oortuig dat die aand nie dié aand sal wees nie. Ek het my neus gaan poeier en toe ek terugkom tafel toe, is ek verras met Greg op een knie, ʼn klomp woorde wat nie een van ons kan onthou nie, en ʼn ring in sy hand. Voordat ek besef het wat gebeur, was ek in sy arms. Trane in my oë, sjampanje op die tafel en vreemde mense al om ons wat hande klap en ons geluk wens.
Die Verlowing Tydperk & Besluitnemingsproses:
Ons het 21 Julie 2018 verloof geraak en is op 21 September 2019 getroud. Dus het ons het 14 liefdevolle maande as ʼn verloofde paartjie geniet. Ons het ons troue self beplan met die hulp van Wilri Els. Wilri is ʼn baie goeie familie-vriendin wat die vermoë het om ʼn takkie en ʼn blaartjie in ʼn asemrowende ruiker te verander.
Ek en Greg het ons bes probeer om albei ʼn gelyke sê te hê. Ons het elke keuse saam bespreek en saam gemaak. Daar was redelik baie kompromie, maar ons glo dit is wat mens in ʼn huwelik saam doen. Ons ouers was ook baie betrokke en ons het alles met hulle bespreek opsoek na raad en rigting. Wilri het ook ʼn groot rol hier gespeel. Sy het ons baie gehelp met ons besluite en goeie raad gegee om kostes te spaar én om ons begeertes te vervul. Ons sou ons troue nie sonder ons ouers en Wilri kon óf wou beplan nie.
Paartjie se styl:
Ons sal sê ons styl was klassiek-elegant. My trourok was geïnspireer deur ʼn moderne en romantiese weergawe van ʼn tradisionele prinses-rok met die sagte skynsel van blinkertjies. Greg se pak was vlootblou met ʼn sagte pienk tartan das.
Greg se ring was meer tradisioneel: witgoud met ons voorletters en troudatum aan die binnekant gegraveer. My ring was weer romanties met baie klein diamante op my twee troupante.
Merkwaardigste Oomblikke:
Daar was nie een oomblik uit ons hele dag wat nié spesiaal was nie! Om vroeg wakker te word met my blommemeisies en die oggend saam met hulle, my strooimeisies, my ouma, my ma en aanstaande skoonma te spandeer terwyl ons klaarmaak het vir die grootste dag van my lewe, was die perfekte begin van my dag.
Dit was vir my vreeslik spesiaal om my ma en aanstaande skoonma by my te hê om my te help om my trourok aan te trek; Dit is iets wat ek altyd in my hart sal koester. Dan was daar die oomblik toe my pa my vir die eerste keer in my trourok gesien het; Ek sal vir altyd daardie uitdrukking op sy gesig onthou.
Om van die bruidskamer na die kapel te stap is nie baie ver nie. Voordat ek my kon kry was al wat ek kon sien daardie asemrowende klip kapel wat lyk as of dit uit ʼn sprokiesverhaal kom. Die gedagte dat al ons gaste daar binne sit en wag om die begin van ons huwelik saam met ons te deel, was skielik vir my bietjie oorweldigend. Toe staan ons skielik by die groot deur van die kapel. Die oomblik toe my strooimeisies begin instap, het ek geweet dít is alles nou my en Greg se realiteit – ons gaan uiteindelik trou!
Greg skerts altyd dat sy merkwaardigste oomblik was toe ons die register geteken het, want toe was hy verlig dat hy nie ʼn “weghol bruid” gehad het nie. Iets baie spesiaals vir Greg is ook toe ons vir die eerste keer uiteindelik tyd alleen saam spandeer het. Ons het ʼn glasie sjampanje in die Rolls Royce geniet terwyl ons die berg op is om ons foto’s te neem met sy panoramiese uitsig oor die Hartbeespoort dam.
Spesiale Tradisies:
Ons troue het begin met ʼn verwelkoming van Classique Strings se mooiste musiek terwyl ons gaste by die kapel ingestap het. Vandat ek ʼn klein dogtertjie was, het ek en my pa altyd gedroom daar sou ʼn strykkwartet op my troue wees. Hulle het gespeel totdat ek en my gevolg reg was om by die kapel in te stap. Terwyl ek ingestap het, het hulle Cannon in D gespeel – ʼn regte droom wat waar geword het.
Hulle het toe aanhou speel toe almal by die kerk uitgestap het, asook terwyl almal canapé’s en drankies geniet het tydens ons fotosessie.
Toe dit tyd was vir die gaste om by die onthaalarea in te stap, het my nefie verskeie Skotse gunstelinge op die doedelsak gespeel ter ere aan Greg se Skotse herkoms. Die platejoggie het na al die formaliteite die partytjie aan die gang gekry en ons het die hele aand weg gedans.
Gunsteling Diensverskaffers:
Al ons diensverskaffers was perfek verby, maar as ons moet kies, sou ek twee mense uitsonder: Karla van Snowflake Photography en Wilri, ons trou-beplanner.
Deur die hele beplanningsproses was Karla daar. Sy het 6 maande voor ons troue aanvaar om ons fotograaf te wees, nadat ons ʼn aaklige ervaring met ʼn ander fotograaf gehad het. Raad wat ons hier graag wil gee: Maak seker jy is een honderd persent gemaklik met jou diensverskaffers. As iets verkeerd voel moet jy na jouself luister. Van die oomblik dat ons Karla ontmoet het, was sy professioneel en kon ons op haar staatmaak om by ons veranderende reëlings aan te pas. Sy het my ook baie kere kalm gehou en op ons troudag was sy meer as net ʼn fotograaf.
Dit was my droom om Wilri as my trou-beplanner te hê. Haar kreatiwiteit ken geen grense nie en haar idees was bekostigbaar, maar tog asemrowend. Sy het uit haar pad uit gegaan om ons te help. Byvoorbeeld om 04:00 by die blommemark te wees om te soek vir die mooiste rose wat in September beskikbaar was. Die dekor het ons asem weggeslaan!
Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:
Daar was ʼn hele paar “nie-so-perfek” oomblikke op ons troudag. Alhoewel ons troue laat begin het, was dit nie die bruid se skuld nie. Hierdie keer was dit Greg se tweeling broer (ʼn strooijonker) se skuld. ʼn Paar minute voor die seremonie moes begin, is ʼn dringende boodskap ontvang dat sy gulp die gees gegee het. Na ʼn geskarrel moes my tannie die situasie gaan beredder. Die strooijonkers lag nou nog as hulle dink hoe delikaat sy met die naald te werk moes gaan!
Nog ʼn flater het ons eers gesien toe ons ons foto’s ontvang het. Ons het lank gelag toe ons besef het dat ons nooit my een blommemeisie se rok-some gelyk gesny het nie!
Daar was ook ʼn wyn-tafel vir almal uiteengesit, maar toe heeltemal vergeet om vir die gaste te sê. Ons het ook vergeet om vir die gaste van ons foto-hoekie te vertel. Dus is ons advies is om te onthou om al hierdie klein besonderhede vir jou seremoniemeester neer te skryf.
Die grootste, en dalk die snaakste flater los ons vir laaste: Ons Pastoor het ʼn glips gemaak en Greg se naam as George uitgespreek terwyl ons ons beloftes aan mekaar gemaak het. Nodeloos om te sê dat al ons gaste uitgebars het van die lag. Ek het toe vir die Pastoor reggehelp en gesê dat ek vir Greg vat as my man, en nie vir George nie!
Ten spyte van al die flaters, dink ons steeds ons dag was perfek.
‘
Finansiële Aspekte:
Dit is die moeilikste vraag! Hoe weet mens eintlik hoeveel ʼn troue gaan kos? Veral met ʼn gastelys van amper 300 mense! Ons het met ʼn wenslys begin en die kostes uitgewerk. Daarna het ons het besef dit is onbekostigbaar! Ons het besluit op kompromieë om die kostes af te bring. Mens kan baie spaar op toebehore soos stoele en dekor wat nie regtig saak maak op die dag nie. Ons was gelukkig dat ons venue baie dekor items ingesluit het by die koste. My raad is dus om altyd uit te vind wat ingesluit is by die huur van die trou-venue. Laastens, dink mooi oor die gastelys en nooi slegs naby familie en mense wat iets in jou lewe beteken.
Ons het besluit op ʼn begroting van ongeveer R200 000 gewerk en op die ou einde het ons die gastelys afgesny tot 180 gaste. Nog ʼn manier van spaar is om te identifiseer wat jy self kan doen met die hulp van jou strooimeisies, strooijonkers, familie en vriende. In hierdie moderne tye het ons ook saam besluit om die begroting tussen die families te deel.
Venue & Dekor:
Dit is ʼn snaakse storie! Ons was eintlik op pad om na ons honderdste venue te gaan kyk toe ek ons per ongeluk in die verkeerde rigting gestuur het. Ons moes in Magaliesberg omdraai om binne 30 minute ʼn venue in die Magaliesberge te sien. In ons jaagtog het almal begin om venues uit te wys soos wat ons gery het. My pa het Cussonia Crest eerste gesien en sommer net ingedraai. Ons het beplan om net vinnig in te loer, maar toe ons oë die kapel vir die eerste keer sien, het ons harte geweet dit is waar ons sou trou.
Ons het ʼn blonde vrou ontmoet en gevra vir die ontvangs. Sy het gelag en gesê “Ek is sommer die ontvangs.” Van daardie oomblik af was Carina van Cussonia Crest nie net ons koördineerder nie, maar het met haar warm, vriendelike en behulpsame geaardheid deel van ons lewens geword.
As ʼn klein dogtertjie het ek – soos meeste klein dogtertjies – oor my troue gedroom. Ek wou altyd in die lente trou want ek is nog altyd lief vir die blomme en vars lug wat ons elke September saam met lente groet. Ons het besluit om ons dekor en tema by dié herinneringe van Septembermaand te pas. My gunsteling kleur is pienk, so ons het besluit op pienk rose en baie vars groen blare.
Wittebrood:
Ons het besluit om ons wittebrood op Bintaneiland in Indonesia te spandeer. Ons het ʼn week op die wit strande deurgebring met ʼn 180 grade see-uitsig. Na sewe dae van ontspanning, skemerkelkies en vitamiene-see het ons op ʼn veerboot gereis om vyf aande in Singapore te geniet. Daar het ons baie winkels besoek, saam met haaie geswem en ook tyd gemaak om vriende wat daar bly, te sien. Ons het ons laaste aand bo-op Marina Bay Sands spandeer, waar ons sjampanje en aandete met die mooiste uitsig van Singapore geniet het.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Onthou dat jul troudag die begin is van julle lewens saam as man en vrou. Maak tyd om elke oomblik van jou beplanningsproses te geniet. Moenie jou kop breek oor die klein goedjies nie. Daar is baie dinge wat jy kan doen om geld te spaar en terselfdertyd jou begeertes te vervul. Jou troudag kom een keer in ʼn leeftyd; Maak dit ʼn onvergeetlike ervaring.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf: Snowflake Photography
- Blomme: Cats n Roses
- Dekor: Plant en Palm Verhurings
- Grimering: KarenB Make up and Hair
- Haar stilis: KarenB Make up and Hair
- Huweliksbevestiger: Willie Van Staden
- Troukoek: Bunny Blossom Creatives
- Koördineerder: Wilri Els
- Musiek: Classique Strings
- Platejoggie: Fame Productions
- Strooimeisie-rokke: Sew Couture SA
- Trourok: De La Vida Bridal
- Venue: Cussonia Crest
- Vervoer: Spirit of Ecstasy