Hier by Mooi Troues deel ons met ons lesers die ʼn baie unieke verlowing, definitief die eerste vir ons … Julle kan hier onder meer van die valskermspring verrassing verlowing van Jean en Carol sien. Hierdie is nou ʼn oulike idee vir ʼn verlowing fotosessie. Jean het uit sy pad gegaan om dit ekstra spesiaal te maak. Wat is nou meer avontuurlustig as om ʼn valskermspring uit ʼn vliegtuig te doen nie?
Al die elemente van die verrassing verlowing is so spesiaal. Jean het self die verloofring vir Carol gekies. Hy het dit laat ontwerp en die mooiste steen uitgekies vir die spesiale ring.
Jean het alles sonder dat Carol daarvan weet beplan. Hy wou hê dit moes ʼn verrassing wees en daarom het hy alles so stilletjies gedoen. Hulle het in die vliegtuig geklim met hul valskerms aan. Wat dit nog meer spesiaal gemaak het is dat die paartjie op die plaas wat so na aan hul harte is geland het.
Met die afkom slag het familie en vriende ʼn groot hartjie gevorm met kleurvolle rook wat die paartjie kon sien soos hulle land. Toe hulle die land raak het Jean op sy knieë gegaan en Carol gevra om met hom te trou. Geniet die paartjie se verrassing verlowing hieronder.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het mekaar in die gym ontmoet en ek was mal oor haar van die begin af. Sy het my so omgeslaan met haar skoonheid en teenwoordigheid dat ek na ons ontmoeting heeltemal vergeet het hoe om te bestuur … As gevolg daarvan ‘n kar (liggies) gestamp in die parkeer area waar ek geparkeer was. Ons albei het al in die eerste week van ontmoeting geweet dat ons gaan trou. Ek en Carol was twee jaar lank in ‘n verhouding. Ek was besig met my studies tot en met Maart van die jaar en wou graag dit agter die rug kry voor ons trou . Lank voor die einde insig was het ek al begin beplan.
Die groot vraag:
Jean:
Ek het geweet as ek wil hê sy moet ja sê, sal ek iets baie spesiaals moet doen. En ek wou graag die groot vraag as ‘n verrassing hou. Een van die uitdagings was om ‘n spesiale manier te vind om haar te vra, terwyl dit nog terselfdertyd persoonlik was. Omdat ons soveel tyd saam op die plaas saam spandeer het, hou dit ‘n baie spesiaal plek in albei ons harte. Aanvanklik het ek gedink om dit net op die plaas te doen, met ‘n piekniek of iets soortgelyks.
Ek het gehou van die idee om die spesiale vraag op die plaas te vra, maar dit was net nie genoeg vir my nie. Na ‘n lang tyd sonder enige nuwe idees het ek onthou dat daar’ n maatskappy is wat ‘n valskermspring besigheid vanaf ‘n nabye plaas bedryf. Toe het die valskermspring idee die deurbraak gemaak, want ek kon op ons plaas ‘n boodskap skryf op een van ons oop gronde en dan kan sy dit vanuit die lig sien.
Die landing plek:
Die enigste probleem was dat as ons land waar ons opstyg, dan sou ons om klomp vreemde mense wees, en ek wou dit nie graag so doen nie. Alhoewel ek heel tevrede was met die plan, was my droom op daardie oomblik om op die plaas te land. Sodoende haar heeltemal om kant te vang en dit baie persoonlik te hou. Na ‘n lang gesprek met die eienaar van die valskerm maatskappy was hy totaal en al entoesiasties oor die idee en wou graag help om dit moontlik te maak.
ʼn Spesiale Boodskap:
Al wat oor gebly het was ‘n klein dingetjie hier en daar … en die boodskap wat uit die lig sigbaar moes wees. Die probleem met die boodskap was dat ek nie geweet het van watter kant ons gaan land nie (as gevolg van wind ens.) en ek wou nie gehad het dat die boodskap onleesbaar was nie.
Die beste oplossing was om enige bewoording te vervang met die universele teken van liefde, ‘n hartjie. Familie en vriende is vir ons baie belangrik, so ek het seker gemaak dat ons naaste familie en vriende ook teenwoordig kon wees. Alles het baie beplanning geverg, veral om dit nog steeds ‘n geheim vir haar te hou.
Die geheime afspraak:
Op die oggend het ek haar vroeg wakker gemaak en oortuig om saam met my te ry om ‘n afspraak by te woon. Ek kon sien toe ons by die valskerm besigheid stilhou, was sy effens onseker en onkant gevang.
Carol:
Die verlowing het my heeltemal onkant gevang! Ek het geweet dat hy een of ander tyd sou vra, maar ek het glad nie die manier verwag wat hy toe gevra het. Die oggend van die verlowing het hy vir my gesê dat hy ‘n afspraak vir ons gemaak het, maar hy kan my nie sê wat dit is nie.
Dit was baie vroeg en die son het net-net begin opkom. Toe ons ingedraai het by Two Oceans Skydive toe het ek geweet hier kom iets. Ek was super senuweeagtig gewees oor die spring, maar die ongelooflike lekker mense by Two Oceans het my nie eers kans gegee om bang te wees nie, hulle het ons vinnig vas gemaak en toe is ons op in die lug.
Dit was die mooiste, perfekste oggend. Toe ons gespring het en ek sien toe die hartjie het ek geweet! Net voordat ek die grond geraak het, toe het almal rookgranate laat afgaan. Toe ek geland het was dit net pienk en pers rook. Jean wat daar op sy knieg was. Dit was die coolste, opwindendste en mees spesiaalste dag van my lewe.
Hoekom ons mekaar liefhet:
Ons albei is baie dieselfde … Van die begin af het ek en Carol ongelooflik baie gemeenskaplike belangstellings gehad. Ons hou baie daarvan om tyd in die buitelug te spandeer. Ons het twee pragtige honde en probeer om soveel as moontlik aktiwiteite saam met hulle te doen. Wanneer ons nie kamp, hike, of gym nie, geniet ons dit om rustig by huis met ‘n glasie wyn te kuier en country musiek te luister.
Ons het ook belangstellings wat nie oorvleuel nie. Menige kere het ons onsettend baie pret en vreugde ervaar deur die ander een se belangstelling te verken. Hoe meer ons mekaar leer ken het deur alles saam te ervaar en doen, het ons ‘n gevoel van geboeidheid ervaar. Alhoewel ons baie verskillend is, het ons regtig baie goed wat ooreenstem. Die verskille sowel as dit wat ooreenstem is een van die redes wat gemaak het dat ons mekaar so lief het.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Jean het my gevra om te trou in Maart, met die hoop dat dit ons genoeg tyd gaan gee om ‘n deeglike troue te beplan vir Desember. Maar weens Covid-19 en oorsee se familie en vriende het ons besluit om dit met ‘n jaar aan te skyf. Alhoewel dit nie ons eerste plan was nie, gee dit ons nou lekker lank tyd om ons perfekte troue te beplan.
Die verloofring:
Jean het die mooiste verloofring gekies, dit was heeltemal ‘n verassing vir my! Hy het die ring self ontwerp en die pragtigste steen uitgekies. Ons het oor die ring gesels, maar nooit regtig in detail nie. Ek wou nog altyd ‘n vierkantige steen gehad het en dis presies wat ek gekry het. Hy het die mooiste “princess-cut” diamant gekry en self die instelling ontwerp waarin die steen lê. Dit is ‘n Noord-ster, protea instelling. Dit is die mooiste ring en ek kan nogsteeds nie ophou kyk vir dit nie.
Omdat ek graag die groot vraag en verlowingsdag n verassing vir Carol wou hou, moes ek die ring op my eie kies. Nadat ek vir maande na ringe gaan kyk het, was ek onseker of dit wat ek gesien het regtig vir Carol mooi sou wees. Omdat Carol ‘n elegante en fyn meisie is, het ek geweet dat ek gaan sukkel om iets te kry waarvan ek en sy sal van hou. Ek het op die einde besluit dat dit beter sal wees om die ring te laat ontwerp.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Omdat Jean fotograwe gereël het vir die verlowing self, het ons dit goed gedink om ‘n fotosessie daarna te hou. Ons gaan van die foto’s gebruik vir die trou uitnodigings en by die troue.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons het al baie tyd saam op die plaas spandeer. Ons het geweet dat ons een of ander tyd ‘n spesiale fotosessie wou doen op die plaas. Die mees spesiaalste plek op die plaas vir ons is ‘n groot klip net buite die Olyfblok. Dit was waar ons vir die eerste keer gesoen het. Dit was ‘n logiese keuse om die fotosessie daar te hou.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:
Ons het meestal net goeie verwagtings van die verlowing tydperk. Ons sien vreeslik uit om ons droom troue saam te beplan. Nie ek of Carol het vyf jaar terug gedink, dat ons ooit sou trou nie. Nadat ons mekaar ontmoet het, was ons so opgewonde om die res van ons lewens saam te spandeer. Op die oomblik geniet ons net elke dag daarvan. Ons enigste vrees is dat ons dalk nie die perfekte venue gaan kan kry nie.
Visie vir droomtroue:
Ons wil baie graag, as dit uitwerk ‘n naweek troue hê. Die perfekte venue sou wees waar ons êrens onder ‘n boom of in ‘n woud die seremonie kan hou. Ons droom is om ‘n venue te kry, waar ons nabye vriende en familie (vir al die wat van ver af kom) vir ‘n langer tyd saam met ons kan spandeer voor die troue. Die onthaal sal ‘n mooi tent of skuur wees, met rustiek decor en baie liggies. Ons wil hê dat almal moet lekker kan saam kuier en ons troue geniet.
Het KOVID-19 enige effek gehad op jou troubeplanning?
Soos bogenoemde is die troue oorspronklik beplan vir Desember 2020, maar weens die virus het ons besluit om dit met ‘n jaar aan te skuif. Die virus het ons ook gekeer om na venues en uitstallings te gaan kyk. Ons kon nie enige iets verder beplan nie.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf : KiekiePhoto
- Valskerm : Skydive Two Oceans