Plaastroues is baie populêr in Suid-Afrika en ons is opgewonde om Johandré & Ilze se oulike Clanwilliam plaastroue met ons lesers te kan deel. As jy ‘n liefhebber is van ‘n plaastroue, sal jy baie van die paartjie se bruilofsfees hou. Ilze en Johandré het plaas en rustieke elemente gesoek vir hul troudag. Ander elemente wat hulle gebruik het, sluit in groen en wit blomme om die rustieke gevoel bietjie te versag. Die sagter dekor gee die troue ‘n elegante gevoel.
Ons is mal oor die skuur gevoel van die onthaal lokaal en hoe dit so mooi in pas by die res van die paartjie se troue. Ilze se vloeiende trourok is prentjie mooi. Daar is soveel fyn detail waaroor ons mal is op haar trourok. Jy kan sien Ilze is mal oor die rok en vol baie gemaklik daarin. Dit gesê die bruidsmeisies se groen rokke pas perfek in by die res van die troue se estetika.
Is jy verloof? Vind fantastiese diensverskaffers vir jou troue in Mooi Troues se Trougids. Dit is belangrik dat jy professionele diensverskaffers gebruik wat goed saamwerk vir jou troudag. Geniet die paartjie se Clanwilliam troue hieronder.
Paartjie se liefdesreis:
In Junie 2014 het ons reis begin by ‘n gesamentlike braai by ‘n vriend se huis. Kort voor lank het ons goeie vriende begin raak en spontaan later in iets meer romanties begin ontaard. Paar maande later, het ons dit amptelik gemaak toe hy my uitvra. Paar jaar later met ‘n vakansie in Stilbaai, oor Desember op Oujaarsaand, het ons met ‘n klompie vriende gekuier teen die strand en daar het die man op sy knieë gesak en my gevra om sy vroutjie te word.
Die Verlowingstydperk:
Ons het 31 Desember 2018 verloof geraak en het besluit om die 7de Desember 2019 te trou. Ons het meeste van die goed self beplan, maar Boeta Genis, van Bàzeru Events, het ons gehelp om ons prentjies in ‘n realiteit te omskep.
Finansiële Aspekte:
Ons begroting was eers R80 000, maar het agter gekom dat dit te min is. As ek reg is was dit dubbeld waarvoor ons begroot het. Ek het êrens opgehou tel. 😊 Met die hulp van ouers wat die blomme, drank en skryfbehoeftes gedek het, kon ons fokus op die ander goedjies. Ons het 140 gaste gehad. Advies vir ander paartjies; Dit is die “klein” goedjies waarvoor mens nie begroot nie, wat op die ou end meer geld kos. Stel ‘n begroting op en werk streng volgens dit 😊
Merkwaardigste Oomblikke:
Vir ons was dit definitief toe ons in die saal instap. Die WOW oomblik van al ons idees en prentjies, wat ‘n werklikheid geword het.
Besluitnemingsproses:
My man (verloofde daardie tyd) het in Amerika gewerk, ek het maar meeste van die goedjies self beplan en wanner ons gesels (wanneer die tyd ons toelaat aangesien daar ‘n 8 ure verskil is) dan het hy gesê of dit kan werk of nie. Gelukkig het hy nooit eintlik ‘n probleem gehad nie. Hy wou net self in beheer gewees het van sy “kroeg” area.
Gunsteling Diensverskaffers:
Ek kan nie ‘n keuse maak oor ons gunsteling verskaffers nie, almal wat ons gebruik het was uitstekend, maar ek wil baie graag ons fotograaf, videograaf en trourok ontwerper uitsonder. Ons fotograaf, Anél Nortier, het ons gemaklik laat voel van die eerste oomblik wat ons haar gesien het, ons het dadelik “geclick”.
Eyelikephotography (Videograaf) Zark en sy span, het die ekstra myl gegaan om elke oomblik vas te vang van ons troue.
Willemien en Elmarie vir my stunning, gemaklike trourok. Al die moeite en “detail” in daardie rok was ongelooflik. Ek sal hulle vir enige iemand aanbeveel.
Venue & Dekor:
Ons wou graag in Clanwilliam getrou het. Omdat hier nie trou venues is nie, het ek ‘n kans gevat en een van die boere gekontak wat ‘n Gasteplaas het. Ons was die eerste mense wat daar getrou het. Die inspirasie agter die dekor was dit waarvan ons gehou het. Rustiek, blare, kerse, liggies, hout. Nie te veel, ook nie te min. Iets wat ons maklik in die hande kon kry. Clanwilliam is 250km van die Kaap af, ons moes alles in gehuur het.
Eerste Dans:
Ons eerste dans liedjie was “Ek weet al lankal” van Bobby van Jaarsveld en Demi-Lee More. Ons het die saal binne gestap op “Coming Along” van Sunset Sweatshop, dadelik na die koek gestap om dit te sny. Daarna het ons die dansbaan geopen. Ons het nie nodig gehad om vir danslesse te gaan nie. Kindertjies in die platteland leer al van ‘n jong ouderdom om vas te dans.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Vir Bruide:
“Moenie oor die klein goedjies stres nie.” Die gaste soek lekker kos en musiek. Wees rustig, vat dag vir dag. Dit is ‘n baie spesiale dag in mens se lewe. Neem elke oomblik in, want die dag gaan ongelooflik vinnig verby.
Vir Bruidegom:
Maak plek op julle begroting vir die klein goedjies. Daar dop altyd iets ekstra uit. Geniet dit.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf: Anél Nortier
- Videograaf: Eyelikephotography
- Venue: Ysterfontein Guest Farm
- Trou beplanner en koördineerder: Bàzeru Events
- Hare: Olivia Engelbregcht
- Grimering: Angelique Bussio
- Trourok: Willemien Nelson