Teen die tyd het jy al heel moontlik ʼn paar trourokke gaan aanpas en besef dat jy ʼn trourok sal moet laat maak om jou unieke styl en persoonlikheid te komplimenteer. Hier moet jy nou jou navorsing begin doen en kyk vir ʼn ontwerper van wie se styl jy hou en jou trourok kan maak.
Daar is so baie talentvolle ontwerpers. Elkeen het hul eie styl. Dit beteken daar sal definitief iemand bestaan om jou droom trourok ʼn realiteit te maak.
Ontwerp van jou trourok
Eerstens sal jy ʼn afspraak moet reël met die ontwerper. Só kan julle oor jou idee gesels. Daar sal wel ʼn konsultasie fooi betrokke wees. Hier begin die kreatiewe proses en elke ontwerper het hul eie manier van ʼn konsultasie doen. Dit is deel van elkeen se styl en proses om die bruid beter te verstaan en sodoende vir haar die ideale trourok te skep. Party ontwerpers gaan jou in lap toedraai om te sien waarvan jy hou. Ander gaan jou van hulle voorbeeld trourokke laat pas en ander mag dalk net luister na jou idees en gedagtes.
Wie jy moet saambring
Hoe besluit jy wie om saam te naam na hierdie afspraak? Die ontwerper mag dalk vra dat die aantal persone wat saamkom beperk word tot een of twee. Die rede hiervoor is slegs dat daar minder opinies is en dit verwarring voorkom. Kies jou suster, ma, of beste vriendin. Iemand wie verstaan wat jy wil hê en jou beste belange op die hart dra.
Wat jy moet saambring
Bring vir die ontwerper ʼn paar prentjies saam van trourokke waarvan jy hou. Veral as dit ʼn trourok is wat soortgelyk is aan een van hulle ontwerpe. Iemand het jare terug vir my gesê “Kreatiewe mense is almal ʼn bietjie self-involved.” Die beste manier om tot hulle ego te speel is om te komplimenteer. Dis ook hoekom ons so sukkel om nee te sê wanneer ʼn bruid ons vir nog ʼn guns vra. Dít wys ook vir ons jy het nie net die eerste naaste mens gekies om jou trourok aanmekaar te slaan nie. Dit wys dat jy navorsing gedoen het om seker te maak dat ons jou visie tot lewe kan bring.
Die konsultasie
Gedurende die konsultasie probeer die ontwerper uitvind waarvan jy hou; Die soort silhoeëtte, die tipe materiaal ens. Vir my is dit ook altyd lekker as die bruid my meer van die troue vertel. Dit gee my ʼn kans om te hoor watter tipe bruid sy is en die gevoel wat saam met die troue gaan. Ek probeer altyd die trourok só ontwerp om die gevoel van die troue te komplimenteer. Byvoorbeeld om meer boheemse elemente in te bring in die ontwerp wanneer die troue ʼn “eclectic ambiance” het. Meeste ontwerpers gaan dit probeer doen sodat die trou prentjie as ʼn geheel saam werk.
So gesels lekker met ons! Vertel ons van die “mason jars” met die kerse in en die “festoon lighting” wat in die boomtakke gaan hang. Ons is mal daaroor om “wow” trourokke te maak. Wanneer jy met opgewondenheid oor jou troue kan praat kan ons meer van jou styl in jou trourok bring.
Gedurende die konsultasie sal daar ook met jou bespreek word hoeveel die trourok gaan kos en wat jou begroting is. My voorstel is om vooraf te hoor in watter prysklas die ontwerper se trourokke gewoonlik val. Moet asseblief nie ʼn e-pos stuur met 10 prentjies en vra wat elkeen gaan kos nie.
Die materiaal
Moet ook nie instap met die bekommernis dat jy alles moet weet waarvan ons gaan praat nie. Dis ons werk om alles te weet. Ons sal jou stap vir stap wys wat ons bedoel met ʼn Georgette of Beaded Mesh. Ons sal jou ook vertel hoe die lap gaan werk met die ontwerp. Jy sal ook nie gestuur word om materiaal op jou eie te gaan koop nie. Ons het óf ons eie voorraad óf ons neem jou saam wanneer ons die materiaal gaan koop. Die trourok se materiaal is nie joune om oor bekommerd te wees of om te kry nie.
Ons verkies ook om dit self te kry. Dit gebeur bitter min dat ons die lap gaan gebruik wat jy reeds gekoop het, want dis gewoonlik verkeerd. Genugtig, ek het al ʼn sak oopgemaak wat die bruid gebring het en die Polyester Monster wat daar uitgespring het was genoeg om enige iemand met ʼn sagte vel nagmerries te gee. ʼn Vloeiende trourok in ʼn stywe rou sy? Gaan nie gebeur nie. Dus los dit gerus in ons hande en ons kies vir jou die mooiste lappe uit wat jou gaan omhels in ʼn sagte streling en so “shwiesh” maak wanneer jy dans! Ooooh pragtig!
Skets van die ontwerp
Wanneer dit by die skets van die ontwerp kom werk elkeen ook anders. Party ontwerpers gaan dalk vir jou een skets maak en jou dadelik kwoteer op dít en ander gaan dalk vir jou twee of drie sketse maak en later stuur. Dit is maar net hoe ontwerpers se style van werk verskil en hoe hulle deur die proses gaan.
My belangrikste raad is om die ontwerper ook toe te laat om groot te droom en vir jou iets te ontwerp wat dalk buite jou gemaksone is. Ons mag dalk net ʼn idee kry wat jou pragtig gaan laat lyk. Ons beste trourokke is gewoonlik daardie waar ons ʼn kans kan vat en iets anders en besonders kan maak en ons geniet dit.
Volgende keer vertel ek jou meer oor die probleem met die goedkoop Chinees trourokke en hoe dit bruide se keuses en die mark vir trourokke in ons land beïnvloed. Ernstige goed, so kry ʼn koppie koffie en sit reg, want jy gaan weg stap as ʼn ingeligte verbruiker.
Diensverskaffers:
Fotograaf: Claire Thomson Photography