Deon & Angelique se boheemse-styl troudag

Deon en Angelique deel hul interpretasie van ʼn boheemse styl troudag.  Na meer as ʼn dekade saam, weet die paartjie presies hoe om mekaar te komplimenteer en mekaar se styl aan te vul.

Hulle het warm herfskleure gekies om by hul rustieke, boheemse tema te pas.  Deon en Angelique het ook seker gemaak dat al die elemente verbonde aan hul troudag, by die algehele tema gepas het.  Die dekor is eenvoudig gehou en hulle het nie oorboord gegaan met onnodige fieterjasies nie.  Wat vir hulle meer belangrik was, was dat hul gaste lekker kon saamkuier en die werklike simboliek van die dag ten volle inneem.

Rol af vir ʼn pragtige boheemse troue.  Vind uit of jy kan aanklank vind by dié weergawe van boheemse dekor.

towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding

Paartjie se Liefdesreis


Ons het mekaar lank gelede as derdejaar studente onder Stellenbosch se akkerbome gewaar.  So het ons vir mekaar ogies gemaak en op een somers-aand vir ʼn stappie in die JS Marais park gegaan om die Labyrinth te gaan kyk.  Van daar af het ons ʼn paar pizza en wyn afsprake ingewerk.  Hierdie was toe die begin van ons liefdes-reis.  Die eerste soen was in Mystic Boer op Stellenbosch.

Nadat ons ons studies voltooi het, het ons saam Suid Korea toe vertrek waar ons vir drie jaar onderwys gegee het en ons voete gevind het in die grootmens-wêreld, asook ons liefde vir mekaar.  Ons het saam die uitdagings van die verre-ooste aangepak – vanaf wildvreemde kos en taal en om ver van ons families te wees.  Gou het ons agter gekom dat ons mekaar se familie is en uitkyk vir die ander se belange.  Ons het toe gegroei van verlief na lief.

Ons het altwee besef dat om te reis een van prioriteite van die lewe is, wat ons met mekaar wil deel.  Oor die jare het ons ʼn hele klomp plekke gaan bewonder;  Thailand, Vietnam, Philippines, Indie, Bali en Griekeland om net ʼn paar te noem.

Die Kaap het met sy eie sak sout gekom en so het ons verhouding gegroei.  Ons het vir ons ʼn nes geskrop teen die hange van Tafelberg, waar buite-wees en draf deel van ons daaglikse roetine geword het.

towerbosch wedding towerbosch weddingtowerbosch wedding towerbosch wedding

Die Groot Vraag


Deon het een oggend voorgestel dat ons vir ʼn vroegoggend draf deur Deer Park teen Tafelberg gaan.  Hy het ʼn ander roete gekies as gewoonlik en hy was effe bleek van gelaat.  So het ons langs ʼn waterstroom geëindig, onder die bome, met die berg in die agtergrond.  Ewe skielik is Deon op sy een knie en uiter ʼn paar woorde: “Angelique, sal jy my maatjie verewig wees?”  Toe ek afkyk sien ek die mooiste diamant-ring, sommer twee!   Hy het my gevra of ek met hom sal trou en daar is ons verloof!  Ons het vriende vir ontbyt gekry en  daarna ons sakke gepak en vertrek na Delairre Graff se Indochine Restaurant in Stellenbosch waar ons middagete geniet het.  Die res van die naweek het ons in die Banhoek Valley spandeer.

Ons was vir 13 jaar saam voor die verlowing, so daar is baie stories om te vertel!

towerbosch wedding towerbosch weddingtowerbosch wedding towerbosch wedding

Die Verlowing Tydperk


Ons was vir ongeveer ʼn jaar en n half verloof.  Ons het een middag die nabye familie en vriende gevra om ons te vergesel by Towerbosch vir Sondag middagete, waar ons die ongelooflikste lamsvleis en pampoenkoekies geëet het.  Daarna het ons besluit op die ongelooflike Towerbosch in Knorhoek as ons venue.  Die vriendelike en hulpvaardige, Marguerite, het ingestem om ons beplanner te wees.  Sy het ons behoeftes vinnig geïdentifiseer.  Van daar af het alles net in plek geval om ‘n jaar later daar te trou.

towerbosch wedding towerbosch wedding

Spesiale Tradisies


Ons het trou-beloftes vir mekaar gelees.  Dit was definitief nog ʼn hoogtepunt van die dag.  Só kon ons aan die gaste te kommunikeer hoekom hulle hierdie spesiale dag saam met ons kom deel het.

towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding

Finansiële Aspekte


Marguerite van Towerbosch het vir ons ‘n Excel blad gestuur wat ons moes invul om te kyk wat ons kan bekostig en hoeveel mense ons sal kan uitnooi.  Angelique en Margarite het meeste van die kommunikasie behartig en ons het in die aande gesit en planne beraam vir die groot dag.  Ons begroting was R 120 000 en daar was 60 gaste teenwoordig.  Die enigste advies wat ons aan toekomstige bruidspaartjies het, is om nie geld te leen nie;  Maak ʼn plan en hou aan saam spaar!  Nooi slegs mense wat regtig vir julle albei belangrik is en steeds deel is van julle vriendekring.

towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding

Paartjie se styl


Ek en Deon het ʼn aardse en boheemse styl gekies met warm herfs kleure.  Ons wou die koper en roos-goud tema verder neem en dit het so mooi ingepas by die hout en dekor van Towerbosch.  Ons ringe is ook rustiek.  Deon het dit geteken en voorstellings gemaak aan Dear Rae wat dit verwesenlik het.  Ons wou romanties en stylvol met aardse kleure meng. Leer en romantiese rustieke kant met herfs-kleure en ʼn warm toon met die strooimeisie rokke.  Dit was vir my belangrik om Deon se pak spesiaal vir hom te laat maak sodat dit werklik by hom pas en ook die rustieke styl verder uitbeeld.

towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding

Merkwaardigste Oomblikke


Deon:

Die eet en geselligheid om die kaggelvuur saam met my vrou was definitief nommer een vir my.

Angie:

Deon se toespraak.  Ek dink almal, en veral ek, was stomgeslaan deur sy woorde.  Baie keer is toesprake lank en ongemaklik.  Hierdie was soos iemand wat die beste storie vir jou vertel en jy werklik kan voel hoe die persoon wat dit geskryf het, voel.

towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme


Haal lekker diep asem reg-deur die dag.  Wanneer die bruidegom rustig is en fokus op die bruid, sal alles reg loop.  Die gaste voel mens se gemoed aan.  Eet twee hande vol neute voor die tyd en geniet dan ʼn goeie whiskey en daar gaan jy!  Geniet elke oomblik.  As jy elke oomblik inneem, dan vlieg dit nie net vinnig verby nie.  Dis julle dag, nie die gaste sin nie.  Alles wat jul voorberei het, het mos gaste se voorkeure ook in ag geneem.

towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding

Venue & Dekor


Ek en Deon het altyd gedroom van ʼn troue by die see.  Ons het selfs na ʼn paar venues gaan kyk, maar ons het besef in die kaap is wind en weer ʼn groot faktor om in ag te neem.  Ons besluit toe om wyn te gaan proe in Stellenbosch, waar ons liefdesverhaal begin het.  Die eerste venue waarby ons gestop het, was Towerbosch.  Die ou mure, wingerde en berge het dadelik ons harte gesteel!  Towerbosch is alreeds so ‘n ongelooflike venue dat daar nie baie aspekte nodig was om dit te vervolmaak nie.  Ons het ʼn paar rekwisiete by Towergoed gekry, soos ʼn outydse fiets, tikmasjien, ʼn koffer ens.  Angie het die blomme gereël en die rooi mat was vir ons uitgegooi.

Beligting was vir ons baie belangrik om die atmosfeer te skep.  Die Chinese lanterns wat in die bome gehang het, was só sprokiesagtig.  Daar was kerse en voël-hokke op die tafels.  Die belangrikste was dat mense oor en weer met mekaar kon gesels sonder dat dekor in die pad is.  Marquerite met Towergoed was ‘n droom!

towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding

Vermaak & Gunsteling Diensverskaffer


Verwelkoming-drankies was beslis deel van die vermaak met ʼn soetwyntjie as die ysbreker.  Ons platejoggie was baie goed!  Hy het basies ons program vir ons gelei met die indeling van die musiekprogram en ons seremoniemeester kon ook daarvolgens werk.  Die platejoggie het nommer op nommer gespeel en sy rekwisiete het ook laataand ʼn draai gemaak na die formaliteite verby was.

Die videograaf, Josh, was só professioneel.  Hy het ook die ander diensverskaffers saamgetrek en leiding geneem.  Die man ken sy storie!

towerbosch weddingtowerbosch wedding

Eerste Dans


Geen danslesse was nodig vir hierdie gesoute paartjie nie!  Ons het oor die jare al so baie saam gedans, maar van dans weet ons eintlik nie veel nie.  Ons het toe besluit om dit nie uit-te-oefen nie, maar eerder net vir goud te gaan wanneer die oomblik reg was.  Die ondersteuning van ons gaste wat in verwondering was oor hoe dié twee hulself so baie kan geniet, en dit nog met vier linker-voete ook, was die kersie op die troukoek wat ons nooit gehad het nie.

Ons het I Got You Babe van UB40 en Chrissie Hynde gekies as ons eerste dans liedjie.

towerbosch wedding towerbosch wedding towerbosch wedding

Wittebrood


Ons was 10 jaar terug vir ons eerste reis oorsee Thailand toe en daarom het ons dit van pas gevind om weer te gaan.  Ons het vinnig besef dat daar heelwat administrasie rondom die beplanning van ʼn troue is en dat dit ook emosioneel baie uitmergelend is.  Daarom het ons besluit op ʼn ontspannende strand-vakansie.  Omdat dit al ons tweede besoek aan Thailand was, wou ons dit graag anders benader het.  Ons het altwee ʼn klein rugsak gepak, 35L Kayway Kilimanjaro sakke, en daar gaan ons!  Drie dae in Bangkok waar ons na paleise gaan kyk het en soveel Chinese noedel sop geëet het as wat ons kon, asook lekker drankies geniet het.

Vandaar na Chiang Mai, waar ons vier dae in die berge deurgebring het.  Ons het elke oggend gedraf, in die aande gestap van markie tot markie en ons verwonder het aan al die antieke skoonheid.  Vandaar is ons suid, na die golf van Thailand.  Ons het sommer vir die eerste paar aande in ‘n hut ʼn paar tree van die see en strand gebly op Bo Phut strand in die Fisherman’s Village.  Hier het ons werklik begin rustig raak!  Elke dag ‘n ander Thai Curry geëet, voete in die sand en selfs boek gelees.

Ons het met Ferry-boot vertrek van Koh Samui na Ko Tao; een van die kleiner eilande in die golf.  Om by ʼn 5-ster oord te bly was die groot bederf van ons wittebrood.  Die oord het sy eie privaat strand met ʼn villa wat uitkyk oor die strand.

Ons het die rustige eiland vakansie afgesluit met ʼn laaste dag van inkopies doen in Bangkok en van daar af huiswaarts gekeer.  As julle kan, kom so twee tot drie dae voor die tyd huistoe dat jy jou voete kan vind voordat jul weer werk toe gaan.

towerbosch weddingtowerbosch wedding towerbosch wedding
[section=Klik hier vir diensverskaffers]

[endsection]