Welgelegen Cherry Estate, geleë tussen pragtige sandsteen-kranse in die Vrystaat, bied ʼn ongelooflike ervaring vir elke bruidspaar wat besluit om hier te knoop deur te hak. Amone en Jaunrick se harte was gesteel toe hulle die venue vir die eerste keer sien. Hulle het ʼn heerlike naweek-troue geniet tussen die skilderagtige Witteberg berge met ʼn asemrowende uitkyk oor die Maluti berge. Dié venue is bekend vir sy pragtige natuurskoon wat uitsonderlike kleure tydens sononder na vore bring. Enige fotograaf se droom! André, van AF Photography, het beslis aan alle verwagtinge voldoen. Tydens hul fotosessie, het hulle die mooiste hoekies en draadjies van dié plaas ontdek.
Amone en Jaunrich is uiters tevrede met hul diensverskaffers en kan vandag terugkyk op ʼn pragtige minimalistiese troue by Welgelegen Country Estate.
Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
Ons is getroud op 16 Februarie 2019. Albei van ons was 22 jaar oud.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Ek het een of twee spesifikasies gehad, maar ek met ‘n oopkop trou rokke gaan aanpas om ʼn idee te kry van watter tipe styl die beste sal werk. Die tweede rok wat ek aan gepas het, het my hart totaal en al gesteel! Ek kon in daardie oomblik myself in die paadjie sien afloop na my beste maatjie en liefde van my lewe.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ons het op Hoërskool ontmoet. Ons onskuldige liefde het in Graad 8 begin en ons het saam gegroei tot waar ons vandag is. Juanrick is vreeslik romanties en het altyd een of ander verrassing wat hy beplan. Hy het my op die strand gevra om te trou, met die heel mooiste blomme in ʼn hartjie uitgepak en ʼn musikant wat gesorg het vir die perfekte atmosfeer. Die feit dat ons omring was deur familie en vriende, het ons verlowing een onvergeetlike oomblik gemaak.
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Die oomblik toe ons die seremonie intree en die pastoor ons as Mnr. en Mev. Eagar voorstel was die mees merkwaardigste oomblik. As ons iets kan verander sou dit wees om direk na die diens net 15 minute te neem voor ons begin met die foto’s. Dit is só onwerklike oomblik wat jy saam moet inneem en geniet.
Vertel ons meer van jul ringe.
Amone se ring maak ʼn ‘infinity’ met die middel diamant as die fokuspunt. Dit beskryf ons verhouding só goed. Solank as wat God ons middelpunt is, sal ons huwelik en liefde vir ewig aanhou.
Ons het lank vir Juanrick gesoek, omdat hy so baie spesifikasies gehad het. Maar, toe hy uiteindelik sy ring gesien het, was dit perfek en presies waarna hy gesoek het.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.
Toe ons oor ʼn fotograaf moes besluit, het ons dadelik aan André gedink. Hy het ons Matriekafskeid foto’s ook geneem, so daar het ʼn tikkie sentiment ook gepaard gegaan. Ons het geweet dat sy foto’s spesiaal sal wees. Andre het ons ontmoet vir koffie en ons het onmiddellik gemaklik gevoel en heerlik saam gekuier. ʼn Fotograaf is immers iemand wat die hele dag saam met jou moet spandeer en elke oomblik vasvang.
Ons het teen ‘n videograaf besluit. Ons het sommer ʼn video kamera in die hoek opgesit om die troue vir ons natuurlik af te neem en om oomblikke op te vang wat ons moontlik heeltemal gemis het.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Aan alle toekomstige bruide, ek sou sê om nie te veel te stres oor die program van die dag nie; Gebruik dit as n riglyn, maar moenie te veel stress oor die spesifieke tye na die seremonie nie. Mens geniet dit soveel meer as alles net spontaan in plek val. Geniet elke oomblik en pen die oomblikke wat spesiaal was so gou as moontlik in ʼn joernaal vas. Tussen al die opwinding en emosies vergeet mens so maklik sommige van die spesiale oomblikke.
Aan alle mans wat die reis aanpak, spandeer so veel as moontlik tyd op die dag saam met jou nuwe vroutjie, familie en vriende. Die dag is in ʼn oogwink verby, so waardeer elke oomblik!
Vertel ons meer van jul Wittebrood.
Ons wou baie graag ʼn eiland wittebrood gehad het, so ons het Mauritius besoek. Dit was een ongelooflike vakansie! Ons was baie bederf en het die eiland se mooiste natuur verken. Ons het selfs besluit dat dit die perfekte wegbreek vakansie sal word as ʼn familie. Dit slegs ʼn paar uur se vlug en verseker die moeite werd!
Het julle enige diensverskaffers vanaf Mooi Troues gekry? Indien moontlik, wie?
Ons het Welgelegen Cherry Estate besoek en ons asems was weg geslaan! Ons het meer navorsing gedoen en hulle ook op Mooi Troues se blad gesien waarna ons seker was dat dit die beste opsie vir ons is.
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Ons het na ʼn venue gesoek wat ons harte kon steel. Ons het ook aanlyn gesoek en navorsing gedoen. Die oomblik toe ons Welgelegen Cherry Estate aanlyn gesien het, het ons dadelik ʼn afspraak gemaak en die venue gaan besoek. Tussen die berge en die liefdevolle personeel het ons dadelik tuis gevoel. Soos wat ons getoer het op die plaas, was ons asems weg geslaan en ons harte gesteel.
Die dekor wou ons so minimalisties as moontlik hou, omdat ons die mooiste hout tafels gebruik het. Ons het op ʼn meer romantiese idee gewerk met sagte kleure en die fyn natuur.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons het ʼn naweek troue gehad en 85 gaste onthaal. Almal het lekker saam gekuier vanaf die Vrydagaand tot die Sondagoggend. Ons begroting was R120 000, maar ons het effens gesukkel om by ons begroting te hou.
Vertel ons meer oor die inspirasie vir julle troukoek.
Ons het twee koeke gehad. Die eerste een was ʼn heerlike kaas koek wat ons saam met die voorgereg bedien het. Die ander koek was ʼn twee laag koek wat ons as deel van die nagereg bedien het. Albei die koeke se geure was ons gunsteling!
Vertel ons meer oor jul eerste dans.
Ons het op It’s your Love van Tim McGraw besluit, omdat ons albei lief is vir Country musiek. Hierdie liedjie het ons hart se snare geroer en op só mooi en sagte manier ons liefde vir mekaar beskryf.
- Venue: Welgelegen Cherry Estate
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Platejoggie: Fanjan Produksies
- Dekor: All in one party hire
- Skryfbehoeftes: Stuck-Design
- Kennisgewingbord: Signboards
- Blomme: Stuck-Design
- Trourok: Whimsical Bridal
- Bruidegom se pak: SmartGuy
- Haarstilis: Hairmorpho
- Grimeer kunstenaar: Rinette Labuschagne Make-up Artist
- Pastoor: Merwyn Thysse
- Fotograaf: AF Photography