Paartjies wat wonder wat om te doen vir hul verlowingfotosessie moet sit en dink aan hul stokperdjies. As julle sukkel met die kreatiwiteit bespreek dit gerus met jul fotograaf. Frikkie en Elrie het ‘n liefde vir musiek en speel elk ‘n musiek instrument. Hulle het toe hul afsonderlike musiek instrumente deel gemaak van hul musikale verlowingfotosessie.
Mooi Troues se lesers kan sommer nou afrol en die pragtige fotosessie geniet.
Ontmoeting
Ek en Frikkie het mekaar vir die eerste keer in 2013 by die Vrystaatse Universiteitskoor ontmoet. Ons is beide besonderse skaam mense so ons het aanvanklik nie veel met mekaar gepraat nie. Die koor gaan toe tydens die Junie-vakansie op ‘n bustoer na PE. Dit is daar waar ons meer beginne praat het en besef het dat ons min of meer dieselfde belangstellings het. Ons het beide ‘n liefde vir musiek en beide van ons is musikante – Frikkie speel tjello en ek speel dwarsfluit. Ons was vir vyf en ‘n half jaar ‘n paartjie voordat Frikkie ‘die vraag’ gevra het.
Die Verlowing
Dit was ‘n Sondag soos enige ander Sondag. Ons het in die kerk se orkes gaan speel soos gewoonlik en daarna het ons gaan middagete eet by Frikkie se Ma. Net na die ete het Frikkie die voorstel gemaak dat ons saam met ons vriende Interstellar by die Naval Hill Planetarium gaan kyk. Dit was vir my niks vreemd nie want ons vriendegroep doen soms interessante dinge saam. Dit is toe ek instap dat ek die woorde “Elrie sal jy met my trou” lewensgroot in die koepel sien staan. Ek was totaal onkant gevang. Ek het vir ‘n paar jaar redelik skaamteloos geskimp dat ons moet trou, maar hierdie het my heeltemal onkant gevang. Frikkie het my op die 21ste April 2019 gevra om te trou en sy vriende het gehelp om die hele ding te orkestreer.
Wat is onderskeidelik julle gunsteling eienskappe van mekaar:
My gunsteling eienskappe van Frikkie
- Opreg en eerlik
- Intelligent
- Saggeaard maar ook selfgeldend
- Musikaal
- Ondersteunend
- Kalm en rustig
- Familie-georiënteerd
Frikkie se gunsteling eienskappe van my
- Goeie hart en omgee vir ander mense
- Liefde vir diere
- Musikaal
- Empaties
- Vrygewig
Hoe lank beplan julle om verloof te wees voor julle troudag?
Ons plan was om so gou moontlik te trou nadat ons verloof geraak het, maar ons het beide pas nuwe werke begin en verlof was ‘n probleem. Ons het toe besluit om in Januarie 2020 te trou so ons sal dus 8 maande verloof wees.
Vertel ons meer oor die verloofring?
Ek het vir Frikkie ongeveer ses fotos gestuur van ringe waarvan ek hou. Ek wou nog altyd graag ‘n opaalsteen hê. Frikkie het toe besluit op ‘n roosgoud kleur met ‘n ovaal Opaal met diamante rondom. Die ring het perfek gepas (ook omdat ek een van my ringe vir hom gegee het om in sy beursie te “bêre”). Ek het elke week in sy beursie geloer om te sien of die ringetjie nogsteeds daar is en elke week het ek gesien dat dit nog daar is. Ek het seker maar gedink as dit nie meer daar is nie dat hy uiteindelik die ring laat maak het.
Wat het julle laat besluit om ‘n verlowing fotosessie te doen?
Eintlik het ons gesamentlik gedink om nie ‘n ekstra verlowing fotosessie te doen nie. Soos reeds genoem is ek en Frikkie albei redelike introverte en ietwat foto-sku. Gelukkig het die fotograaf se pakket die verlowingsfotos ingesluit en ons het toe daarvan gebruik gemaak. Sy het ons baie gemaklik laat voel voor die kamera.
Wat was jul inspirasie agter die fotosessie in terme van plek en styl van jul foto’s?
Ons tema vir die troue is Phantom of the Opera. Met ‘n fokus spesifiek op die musiek omdat ons albei ‘n groot liefde vir musiek het. Ons wou graag dat ons verlowingsfotos by die tema inskakel. Ons het dus vir ‘n dramatiese voorkoms gegaan asook ons instrumente in die fotos inkorporeer. Later dieselfde middag het ons ook fotos geneem wat minder dramaties was en meer informeel … Ons het ons foto’s by Rambler’s Club in Bloemfontein laat neem omdat hierdie historiese gebou die misterieuse gevoel gee waarna ons opsoek was.
Wat is jul verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk?
Ons verwagtinge is om so rustig as moontlik te bly rakende die trou-reëlings en om alles stelselmatig gedoen te kry. Ons het nie regtig vrese oor die verlowingstydperk nie omdat ons elke dag vat soos dit kom.
Wat het julle ingedagte vir jul droom troue?
Ons wens vir die troue is dat dit ‘n goeie geleentheid is vir familie en vriende om ons opgewondenheid oor ons lewe saam te kan vier en om die troue te geniet.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf: Meraci Photography
- Venue: Rambler’s Club Bloemfontein