Kevin en Hanneke het vanjaar die ja-woord by die outentieke, Afrika-geïnspireerde venue, gesê. Hierdie plaas is in die hartjie van die Limpopo bosveld geleë en is bekend daarvoor om vir elke bruidspaar ʼn unieke ervaring te bied. Die venue is gevul met natuurlike lig en skep ʼn elegante, tog prettige atmosfeer. Dié kenmerke het perfek ingepas by Kevin en Hanneke se visie vir hul troudag. Hulle beklemtoon menigmaal dat al elemente en besluite rondom die troue gebaseer was op die idee om hul persoonlikhede na vore te bring. Die paartjie het selfs iemand gekry om hul eerste dans liedjie spesiaal vir hulle te skryf!
Bordeaux Game Farm bied heerlike aktiwiteite indien jy van jou troue ʼn naweek ervaring wil maak. Kevin vertel dat hy en sy strooijonkers ʼn lekker oggend van kleiduif skiet geniet het om sy senuwees te kalmeer. Hulle bied ook wildritte waartydens jy ʼn prentjiemooi toer van die plaas kry en hul eksotiese wild kan bewonder, of jy kan die meer avontuurlustige opsie kies en op ʼn jag uitstappie gaan.
Skink vir jou ʼn lekker drankie, kry jou trou-joernaal en verkry inspirasie vanaf Kevin en Hanneke se pragtige troue by Bordeaux Fame Farm.
Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
Ons is getroud op 23 Maart 2019. Ek was 24 jaar oud en my man het sopas 26 geword.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ons het mekaar ontmoet toe ek in my tweede jaar en Kevin in sy derde jaar was by die Universiteit van Potchefstroom. Hy het gedien as Penningmeester op die Uitvoerende Komitee (UK.) Die UK hou onderhoude om vir hulle ʼn komitee te kies wat kan help met die jaar se projekte. Ek het vir die onderhoud gegaan en is toe verkies tot die komitee. Dit was ʼn tipiese “student” onderhoud waar hulle kyk hoeveel jy hulle kan laat lag (ek dink my naam rol nog daar êrens rond.) Kevin was verantwoordelik om al die geld te ontvang en het dit goed gedink om my te kies om vir 2 dae hom alleen te help tel aan die geld. Dit is waar alles begin het.
Kevin: Na daardie dag het daar ʼn hele paar jaar verloop en ek het besluit dat ek haar vir die res van my lewe my vrou wil noem. Toevallig rondom daardie tyd het ons ʼn blits besluit gemaak om op ʼn Europa toer te gaan; Ek kon nie anders as hom haar daar te vra nie. Ek het verskeie planne gehad, maar het op Venesië besluit. ʼn Uur voor die son gesak het, het dit begin reën. Alles het perfek uitgewerk en ons het op ʼn klein eiland aan die oorkant van die groot plein verloof geraak met die sonsondergang oor Venesië in die agtergrond.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Soos in meeste trou paartjies se gevalle is daar “Die Begroting.” Ek het gewonder oor hoe ek my droomrok gaan kry sonder om die helfte van ons begroting te spandeer. Ek het gevoel dat die rok in elk geval in ʼn kas gaan op eindig en deur vismotte gevreet gaan word, so toe besluit ek om my rok te laat maak met die opsie om weer te verhuur. Die lekkerte van ʼn rok laat maak is dat jy ʼn paar rokke kan kombineer en presies kry wat jy graag soek en jou lyf komplimenteer.
Lezanne van Love me do Bridal Wear het my gehelp om die regte besluite te maak. Ek het presies geweet ek soek hierdie prentjie se kleur, hierdie prentjie se bokant, die een se onderkant ens. Daar het toevallig een middag ʼn geborgde advertensie op my Instagram opgekom en ek verlief geraak het op die rok. Ek het toe my rok se ontwerp verander, gelukkig net betyds voor die lap gekoop is! Lezanne was mal oor die nuwe rok en dadelik begin met die ontwerp.
Vertel ons meer van jul ringe
Ons hou elke jaar in Hartenbos vakansie en elke jaar koop ek vir my ʼn juweel stukkie by Carin’s Jewellery Design se stalletjie. Ek ken haar nou al so lank en het geweet dat sy vir ons die regte advies kan gee rakende die beste ontwerp. Ek het vir Kevin maande lank voorberei oor hoe my ring moet lyk en hom gedurig gebombardeer met foto’s. Hy het self, met die hulp van tannie Carin, my perfekte ring ontwerp.
Kevin se ring was baie makliker. Ons het een dag winkels toe gegaan en by die vierde winkel het ons sy ring gekry. Omdat hy geweet het hoe sy ring gaan lyk, het ek besluit om “23-03-2019 tot vir ewig” binne in sy ring te laat ingraveer wat hy eers op ons troudag gesien het.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf
Ons fotograaf, Melissa Meyer, is een van my beste vriendinne van Hoërskool dae af. Sy het vir my en Kevin al ʼn paar keer voor die lens gehad so ek het geweet Kevin is gemaklik voor haar; Dit het die foto’s net soveel mooier gemaak. Sy was ook een van my strooimeisies.
Ons videograaf was Hour72 Production. Ek en Kevin het baie van Marnus se styl waarop hy sy video’s neem en bymekaarsit gehou. Die natuurlike styl het ons onmiddellik aangegryp en ons was baie bly dat hy al ons spesiale oomblikke kon vasvang. Dit is definitief die moeite werd om op ʼn videograaf te spandeer sodat jy al die emosies na die troue weer kan herleef. Ons is nie vir een oomblik spyt oor hierdie besluit nie!
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Vir ons albei was dit die eerste oomblik toe ons mekaar by die seremonie gesien het; Dit het trane is ons beide se oë gelaat.
Ons sou graag meer fotos’s saam met ons gaste wou neem: Dalk tafel foto’s soos wat die gaste per tafel opstaan om te gaan kos opskep. Gaste of familie mag dalk kla oor te veel foto’s, maar aan die einde van die troue na maande se beplanning, is foto’s al wat ʼn mens oorhet om na terug te kyk.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Bruid: My advies aan paartjies sal wees om die troue eie aan jul persoonlikhede te maak. Wanneer jy jou rok aantrek moet dit voel soos jy, wanneer julle by julle onthaal saal instap moet die blomme en dekor julle verteenwoordig. Moenie dat enige iemand julle stempel afhaal van julle dag nie. Dit is julle dag en dit is definitief die lekkerste dag van julle lewe. Vat ʼn paar minute iewers deur die dag en knyp jouself om die oomblik in te neem. Die dag gaan so vinnig verby en dit voel soos een groot droom, so probeer elke oomblik inneem. Kyk na jou man se gesigsuitdrukking en voel sy liefde daardie dag. Ervaar al jou gaste se emosies want hulle almal is daar net vir julle.
Bruidegom: Ek stem saam met my vrou; Maak die dag julle eie en geniet elke oomblik, want dit is julle dag waar julle ʼn familie word. Die dag gaan ongelooflik vinnig verby so neem soveel moontlik in en sê vir haar wat jy voel en dink. Maak nie saak hoe voorbereid en kalm jy voor die tyd is nie, op die dag is die senuwees maar daar so kry iets wat jy en jou strooijonkers kan doen om jou te laat ontspan. In ons geval was dit lekker, want ons kon kleiduif gaan skiet. Moenie te veel oor jou toespraak stres nie; Die woorde vloei vanself!
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Ek het lank voor ons troue, nog voor ons verloof was, foto’s van Bordeaux gesien en dit was vir my ʼn baie mooi venue. Ons het ʼn venue gesoek wat in die bos is, met baie natuurlike lig en hout tafels en ʼn lekker groot dansvloer. Bordeaux het aan al ons vereistes voldoen. Ons het een naweek die ver pad aangedurf en toe ons uitklim by die onthaal saal, het ek vir my man gesê: “Hier wil ek trou.” Soos enige rasionele man het hy gesê ek kan nie so vinnig besluit nie want ek het nog nie eers die venue gesien nie, maar toe ons onder die groot boom staan waar die seremonie plaasvind het Kevin met my saamgestem. Hy het gesê hy kan my hier sien afstap met hom wat onder die boom vir my wag.
Ek self hou baie van kleur en daarom wou ek graag iets kleurvol en uniek hê. Jeanne van Bride in Bloom het ons al te goed verstaan! Ons het besluit op Perske en Boergondië met ʼn tikkie goud wat alles mooi sou bind. Ons wou nie te veel ander kleure of metale inbring nie en daarom was die res van die dekor alles glas.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons begroting was ongeveer R180 000 en ons het 106 gaste onthaal. ʼn Begroting sal altyd ʼn teerpunt bly. Ons advies aan paartjies sal wees om nie terug te hou op sekere items wat hulle graag wil hê nie, maar om eerder te kyk waar hulle die items goedkoper kan kry. Werk dus slim met julle geld en wees te alle tye bewus van jou uitgawes teenoor jou begroting deur ʼn sigblad op te stel. Dit is skrikwekkend hoe klein goedjies baie vinnig optel – veral in die laaste maand.
Vertel ons meer oor jul eerste dans
Ons het vir lank gesoek na ʼn liedjie maar kon nie iets kry waarmee ons albei tevrede is nie. Die liedjie moes vir iets beteken, maar ook ʼn lekker ritme hê om op te dans. Daarom het ons iemand gekry wat vir ons ons eie liedjie geskryf het. Ons drie het saam gaan koffie drink, sy het ʼn paar vrae gevra wat ons almal in trane gehad het en na ʼn paar dae het sy vir ons die liedjie gestuur. Dit was baie spesiaal om te kon sien hoe dit waaroor ons gesels het omgeskakel het tot ons liedjie.
Ek hou baie van vinnig dans en sukkel om te vas dans. Ons het een aand ʼn paar keer in die kombuis geoefen. Op die ou einde het ons dit net gevat soos dit kom. Ons eerste dans was een van die oomblikke wat ons vir altyd sal bybly. Op daardie oomblik het dit gevoel soos net ons twee in die saal.
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Die bestemming was ʼn groot verassing vir my! Ons was Thailand toe. Alhoewel Thailand baie besig kan wees, het Kevin vir ons plekke bespreek wat rustig en stil is. Ons was vir ʼn paar dae in ʼn baie klein gedeelte in Phuket en daarna was ons na ʼn ander eiland, Koh Lanta.
Ons het dit ongelooflik baie geniet en kon kwaliteit tyd saam met mekaar spandeer terwyl ons op die wit strande lê en skemerkelkies drink.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Melissa Meyer Photograpy
- Blomme en dekor: Bride in bloom
- Venue: Bordeaux Game Farm
- Trourok + Strooimeisierokke: Love Me Fo Bridal Wear
- Hanneke trouring: Carin’s Jewellery
- Bruidegom se pak: Your Pal Brooklyn Mall
- Strooimeisie en pa’s se dasse: Coffieties
- Videograaf: Hour72productions
- Grimering: Annie B Make up studio
- Platejoggie: Derick de Lange
- Hare: Shear Image Hairsalon