Chris en Iemé het ʼn pragtige simboliese bruilofsfees in die klein dorpie, Hartebeespoortdam gehad. Iemé is van Joodse afkoms, so hul troue was gevul met die mooiste tradisies en simboliek. Hul dekor was gebaseer op ‘minder is meer.’ Daar was egter ʼn perfekte balans tussen al die dekor elemente en geen aspek van die troue is afgeskeep nie. Iemé se trourok van Bridal Manor was beslis een van die fokuspunte. In hul seremonie-foto’s kan Chris se opregte emosies gesien word as hy sy asemrowende bruid vir die eerste keer sien.
Geniet Chris en Iemé se simboliese bruilofsfees.
Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
Ons het op 30 November 2018 getrou. Chris was 32 en ek (Iemé) was 27 jaar oud.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ek was in 2010 ʼn lugwaardin en Chris was, en is nogsteeds, ‘n vlieënier. Toe Chris my vir die eerste keer sien, het hy dadelik sy oog op my gehad. Hy het daardie selfde aand vir my ʼn boodskap op Facebook gestuur en aangebied om my te help indien ek enige hulp sou kort.
Chris het my in Capri, Italië gevra om te trou.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Ek het by ʼn paar trou boetieks afsprake gemaak om rokke aan te pas. Ek het spesifiek van Pronovias se rokke gehou en het dit ingedagte gehou terwyl ek verskillende rokke aanpas. Na 7 rokke het die dame by die boetiek effens ontsteld geraak omdat ek met een van die rokke tevrede was nie. Sy het ʼn oomblik verdwyn en ʼn asemrowende rok vir my gebring. Die rok was nog vol voue omdat sy hom pas uit die boks gehaal het – hy het eers daardie oggend by die winkel aangekom! Voordat ek nog die rok aangepas het, het ek geweet dit is my droomrok.
Vertel ons meer van jul ringe.
Chris het aanvanklik vir my ʼn silwer ring gekoop. Met tyd het hy gehoor dat ek meer van roosgoud hou! Ons het toe ringe gaan aanpas en ek het my hart op ʼn spesifieke ring by Browns verloor. Gelukkig het Chris die silwer ring ook by Browns gekoop, so hy kon dit gaan omruil vir die roosgoud ring.
Ek is van Joodse afkoms, so voor ons troue was ek saam my ma Israel toe en het daar vir Chris sy trouring gekoop. Op die ring is ingegraveer: I am my Beloved’s and he is mine.
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Ons troue was baie anders en uniek. Omdat ek van Joodse afkoms is, het ons ʼn joodse troue gehad. Ons troue was gevul met simboliek. Ons het onder ʼn Chuppah getrou, wat verwys na God se beskerming oor ons huwelik en ook ons smag na God se hart. Ek het 7 keer om Chris geloop wat verwys dat Chris my van alle kante af sien en dat ek hom eerste stel. Dit beteken ook dat ek al sy goeie, sowel as sy swak punte raaksien. Ons het nagmaal saam gehou en die beker waaruit ons die druiwesap gedrink het, het ons in ʼn wit lappie toegedraai en stukkend getrap. Dit simboliseer dat niemand anders uit ons glas gaan drink nie en dat ons liefde net vir mekaar bedoel is.
Daar is regtig niks wat ek van ons troudag sal verander nie. Ek het voor die tyd klomp lysies opgestel en ons het 100% seker gemaak dat alles vlot sal verloop.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.
Ek het al ʼn rukkie terug my hart op Hanri Human Fotografie verloor! Na ʼn hele paar e-posse en Instagram boodskappe het sy vir my laat weet dat sy nog ons troudatum oop het en dat sy graag ons fotograaf sal wees.
Ek het baie navorsing gedoen oor videograwe. My man is redelik goed as dit kom by video’s maak, so hy kon raad gee oor watter videograaf om te kies. Hy hy gesê ek moet ʼn videograaf kry wat verkieslik ʼn hommeltuig het en ook gebruik maak van verskillende tegnieke. Ons het saam besluit op Duck Soup Productions.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Voordat ek die troue begin beplan het, was ek self nie seker oor al die kostes nie. Dit was dus moeilik om ʼn vaste begroting op te stel. My pa en my man het min of meer ʼn bedrag gegee en ek het daarvolgens probeer beplan. Ons het 135 gaste onthaal.
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Ek het in Hartbeespoortdam groot geword en wou baie graag daar trou. Ons het na 3 venues gaan kyk, maar ons hart verloor op Red Ivory. Ek hou veral van die Boheemse styl van hierdie venue. Ek het dit ook ingedagte gehou terwyl ons die dekor en blomme beplan het. ‘Minder is meer’ was my motief tydens die beplanning van die dekor.
Vertel ons meer oor jul eerste dans
My man is Engels en ek is Afrikaans; Ons moes dus ʼn paar keer ons eerste dans oefen. Ons het ʼn paar draaie en stappe ingeoefen, maar toe die oomblik op die dansvloer aanbreek, was al die oefen vergete en ons het maar geïmproviseer! Die akoestiese weergawe van “Amazed” van Shane Filan was ons eerste dans liedjie.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Advies vir die dames: Ek het ʼn troubeplanning dagboek gehad wat ek elke dag saam my gedra het. Ek het honderde lysies gemaak! Dis belangrik om navorsing oor al die aspekte van ʼn troue te doen – mens trou net eenkeer. Die duurste is nie noodwendig die beste nie, so maak seker jy kry waarvan jy hou en doen moeite om dit te kry. Maak jou bruidegom deel van jou beplanning. Vra vir hom raad en advies; hy sal dit waardeer as jy nou en dan sy opinie vra. Ek het elke stap van my troudag aan die Here oorgegee – dit het ʼn enorme rol in die sukses van ons troudag gespeel.
Advies vir die manne: Ondersteun jou bruid in elke afdeling van die beplanning. Al weet jy niks van blomme en dekor af nie, gee nogsteeds jou insette. ‘n Vrou floreer wanneer sy ondersteuning en sekuriteit ontvang. Probeer om saam as ʼn paartjie na al die afsprake te gaan.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Trourok: Bridal Manor
- Hare en Grimering: Gartier The Wedding Style Brand
- Bruid se skoene: Opari Bridal Shoes
- Fotograaf: Hanri Human Wedding Photography
- Videograaf: Duck Soup Productions
- Troukoek: Krispy Kreme Doughnuts
- Ringe: Browns Jewellers
- Venue: Red Ivory