Corné en Madelein het hul liefde vir mekaar by ʼn unieke 5-ster hotel langs die Tuinroete in Heroldsbaai verklaar. Die uitsig oor die see, gholfbaan en berge het gesorg vir ʼn prentjiemooi agtergrond vir hul troudag. Corné en Madelein het hul troudag deeglik beplan en seker gemaak hulle het elke detail op hul lysie afgemerk voor die groot dag. Al die elemente het so mooi bymekaargekom om vir hierdie paartjie ʼn droomdag te gee waaroor hulle vir altyd sal fantaseer.
Rol af en geniet die pragtige troue in Heroldsbaai.
Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
Ons het op 22 September 2018 getrou. Ons albei was 34 jaar oud.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ek en Corné het in 2004 by die Universiteit van Potchefstroom ontmoet. Ons het albei regte studeer – Corné was in sy derdejaar en ek in my eerstejaar. Gemeenskaplike vriende het ons aan mekaar voorgestel en ons liefde het begin blom. Corné het my op 7 Julie 2017 gevra om te trou.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Ek was opsoek na ʼn elegante en romantiese trourok wat van kant gemaak is. Ek het op die internet gegaan en op die Valentina-rok afgekom. Die ontwerper van hierdie rok is Casey Jeanne. Ek het gesien dat Calegra Bridal in Pretoria haar rokke verkoop. Opgewondenheid het oorgeneem en ek het onmiddellik ʼn afspraak gemaak! Met my geluk was Casey Jeanne teenwoordig met my afspraak. Valentina was die eerste rok wat ek aan gepas het en ek het geweet dit is my perfekte rok.
Het julle enige diensverskaffers vanaf Mooi Troues gekry?
Ja ons het twee diensverskaffers op Mooi Troues gekry. Blooming Wonderful wat ons skryfbehoeftes ontwerp het, asook Belinda Hougaard wat my ma, skoonma en suster se hare gedoen het.
Vertel ons meer van jul ringe.
Ons albei se ringe is by Browns gekoop. My geboorte steen is ʼn diamant so ek wou graag ʼn diamant trouring ook gehad het. Dit is ʼn 1 karaat protea solitêre ring. Corné het ʼn roosgoud ring gekies omdat hy iets eenvoudig gesoek het. Binne in Corné se ring is ons troudatum en die woorde ‘vir altyd’ ingraveer.
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Daar was ʼn hele paar merkwaardige oomblikke! Toe ek in die paadjie afstap en al ons familie en vriende sien, asook Corné wat vir my staan en wag was dit vir my ʼn ongelooflike spesiale oomblik. Ek was so dankbaar dat al die familie en vriende van ver af gekom het om ons spesiale dag met ons te deel. Corné se toespraak was ook een van die merkwaardigste dele van die dag. Sy mooi woorde sal my altyd bybly. Corné se merkwaardigste oomblik was om my die eerste keer te gewaar soos ek in die paadjie na hom toe stap.
Vertel ons meer oor die fotograaf
Ons fotograaf was Michelle Van Staden van Michelle Photography. ʼn Vriendin het haar aanbeveel en ek het op haar webtuiste na haar vorige werk gaan kyk. Ek het gou agtergekom hoe talentvol sy is! Sy is ook ongelooflik vriendelik en het my en Corné baie gemaklik voor die kamera laat voel. Sy het ons troudag langs die Tuinroete só mooi vasgevang.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons het nie ʼn begroting gehad nie; Mens trou immers net een keer! Ons het gespaar en elke maand iets afbetaal. Ons ouers het ons ook gehelp met die kostes.
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Ons het na geen venues gaan kyk nie omdat ons geweet het ons wil by Oubaai Hotel trou. So jaar voor ons troue het ons vir ʼn naweek daar gebly – ons het toe al geweet dat dit ons venue moet wees! Die venue het ʼn pragtige uitsig oor die gholfbaan, berge en see.
In terme van dekor was ons inspirasie blomme! Ek wou graag hê dit moes elegant en modern wees.
Vertel ons meer oor jul eerste dans
Ons het op Jennifer Hudson se Giving Myself gedans. Corné is nie veel van ʼn danser nie, so ons het ʼn stadige liedjie met betekenisvolle woorde gesoek.
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Ek het kort voor die troue by ʼn nuwe werk begin en kon nie verlof kry vir ons wittebrood nie. Ons het egter ʼn week na die troue Arniston en Kaapstad toe gegaan vir ʼn klein wittebrood. In September 2019, met ons eerste huweliksherdenking, gaan ons op ons regte wittebrood. Ons gaan Griekeland besoek!
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Vir die dames: Maak genoeg tyd om die perfekte trourok te soek. Dit is so belangrik om mooi te voel op jou troudag. Indien jy nie ʼn trou-koördineerder het nie, maak ʼn deeglike lys van alles wat gedoen moet word. Doen moeite om die regte diensverskaffers te kies en betrek jou man in die besluitnemingsproses. Ons het ʼn naweek voor ons troue weggebreek om effens te ontspan. Dit het ons baie kalm en rustig voor ons troudag gemaak en ons sal dit beslis aanbeveel.
Vir die manne: Ondersteun jou bruid, luister noukeurig wat sy vir jou sê en probeer soveel as moontlik deel wees van die beplanning.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Venue: Oubaai Hotel Golf & Spa
- Dekor: Fancy Functions
- Blomme: Lily and Lime
- Grimering: Wilma Cronje
- Skryfbehoeftes: Blooming wonderful Décor Hire
- Fotograaf: Michelle photography
- Vermaak: Gminor
- Troukoek: Oubaai hotel
- Trou rok: Calegra Bridal, Pretoria
- Bruidegom en strooijonkers pakke: Hassu Hussey Made to Measure
- Strooimeisie rokke: Forever New
- Fotohoekie: Mirror Booth Garden Route