Hierdie gestileerde fotosessie aan die ooste van Pretoria is propvol smaraggroen en pienk trou inspirasie. ‘n Uitgesoekte span diensverskaffers het koppe bymekaargesit om hierdie meesterstuk by die pragtige De La Mas Venue te laat gebeur. Met al die nuwe modes en tendense van vandag is dit dikwels moeilik om te bepaal watter kleure en teksture nou eintlik bymekaar pas. Dit is ook deesdae die in-ding om ‘anders’ te wees, maar hoe weet jy of jou weergawe van ‘anders’ werklik die in-ding is? Terselfdertyd is dit ook belangrik om seker te maak dat jou troudekor tydloos en elegant is – oor 10 jaar wil jy steeds trots wees om jou trou-album vir familie en vriende te wys! Hierdie gestileerde fotosessie sal jou die nodige wenke en raad gee oor hoe om jou perfekte droomdag ‘n realiteit te maak.
Rol af en geniet die trou-inspirasie.
Wie het die fotosessie gereël?
Madelé Ludike, blogger van Hey Liefie het die fotosessie gereël. Sy is ook die troulokaal koördineerder by De La Mas Venue.
Inspirasie vir die fotosessie?
Die inspirasie vir die fotosessie was om aan al die verskaffers tydlose, elegante en sag-op-die-oog foto’s te voorsien. Ons het opgelet dat smaraggroen herhaaldelik met mosterd geel gekombineer word. Ons wou wegbreek van hierdie tendens en iets anders probeer. Smaraggroen en pienk was die perfekte oplossing! Die span het ‘n inspirasie bord met verskeie idees bymekaargesit. Elke verskaffer is egter steeds die kans gegun om dit hul eie te maak. Alles het pragtig bymekaargekom en ons was uiters tevrede met die resultate.
Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?
Madelé, Marilize en Melinda werk altyd goed saam. Toe ek die sessie begin reël het, het ek dadelik besluit dat hulle my fotograwe en grimeerkunstenaar moet wees. Ons geniet dit om saam met verskaffers te werk wat ons ken en vertrou. Só is die span gebou:
Marilize het al voorheen saam met Manoa Design Studio gewerk. Sy hou baie van die persoonlike gevoel en handgeverfde werk wat sy vir haar kliënte doen. Dit is soveel meer persoonlik en kan dan daarna digitaal vermenigvuldig word. Marilize is ook die offisiële fotograaf van die nuwe via-reeks “ster-status” en ken só ons model, Alicia. Alicia se sagte vel en goue hare het haar beslis die perfekte kandidaat vir hierdie fotosessie gemaak.
Vandat ons met Dené Odenaal Couture begin werk het, het sy baie vinnig ʼn goeie vriendin geword. Sy het ons voete onder ons uitgeslaan met haar pragtige werk en aandag vir detail.
Euculuptus Décor en Eros Florist was ʼn asemrowende span. Hulle het hul briljante kennis gebruik en koppe by mekaar gesit om die mooi, elegante tafel te dek. Eros Floris werk ook gereeld saam met Melinda en Marilize aan soortgelyke projekte. Hulle is beslis die beste opsie vir kreatiewe en unieke blomme vir enige geleentheid.
Agter die skerms inligting
Die verskaffer wat oorspronklik die rokke aan ons sou voorsien, het onverwags laat weet dat sy nie meer kan help nie. Toe kom Denè Odendaal Couture tot ons redding! Ek het die oggend van die fotosessie vir haar ʼn boodskap gestuur om te vra of sy dalk ʼn rok of twee vir ʼn nommer 4 model het. Ek het inderhaas vanaf De La Mas Centurion toe gejaag om die rokke te gaan oplaai. Dit het ons model soos ‘n handskoen gepas!
Wat was vir jou die spesiaalste deel van die fotosessie?
Die spesiaalste deel van die fotosessie was dat al ons verskaffers saam kon kuier terwyl ons voorberei het. Hey Liefie se doel is om verskaffers bymekaar te bring en vriendskappe te bou; So ons het mekaar op ʼn vriendskaplike manier leer ken. Terwyl die model besig was met hare en grimering, het almal lekker saam gesels en versnaperinge in die kamer geniet.
Verder was dit so lekker om te sien hoe al die beplanning finaal bymekaarkom. Elkeen se aparte idees en inspirasie het op só ‘n unieke manier bymekaargekom. Ons kon nie vir ‘n beter span gevra het nie.
Advies wat aan paartjies gegee kan word wat die inspirasie wil volg?
My advies is om altyd professionele diensverskaffers vir ‘n troue te gebruik. Alhoewel dit maklik lyk om dit self te doen, het professionele verskaffers ʼn talent om alles soveel mooier te laat lyk. Ons almal hou van die pragtige Pinterest borde oor troues, maar nie al die blomme en produkte is in Suid-Afrika beskikbaar nie.
‘n Professionele persoon sal vir jou die beste alternatiewe opsies kan uitwys en steeds vir jou ‘n prentjie mooi dag lewer. Kies diensverskaffers wat jy vertrou, of die wat aanbeveel is deur mense wat jy vertrou. Doen navorsing oor vorige werk wat hulle gedoen het en vertrou dan dat hulle vir jou die beste dienste en produkte sal lewer. Dit sal dus ook die dag stresvry vir al die betrokke partye maak.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: De La Mas Venue
- Fotograaf: Marilize Coetzee Photography
- Grimering en hare: MDW Professional Make-up Artistry
- Rok: Denè Odendaal Couture
- Dekor: Euculuptus Dekor
- Blomme: Eros Florist
- Blog: Hey Liefie
- Skryfbehoeftes: Monoa Design Studio
- Model: Alicia du Preez & Etienne