By Mooi Troues is ons baie opgewonde om met ons lesers die pragtige troue van Francois en Micaela met julle te kan deel. Dié paartjie vertel dat hul baie spaarsamig gewerk het met hul fondse. Hulle troue het glad nie afgeskeep nie! Oor dié rede is die inskrywing propvol goedkoop trou idees.
Baie bruide vra ons by Mooi Troues vir oulike goedkoop trou idees so julle sal Francois en Micaela se trou hieronder regtig baie geniet.
Rol af en geniet elke foto.
Troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
Die troudatum was 9 Maart 2019 en Francois was 28 & Micaela 22 op die dag.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ons het 30 April 2017 ontmoet toe ek (Micaela) die eerste keer by ons kerk besoek het. Ek het Francois dadelik raakgesien en ek moet bieg, ek het gekyk of hy ʼn trouring aangehad het of nie, haha. Ons het ʼn paar maande later vriende begin raak, op 9 Maart 2018 begin met ons verhouding en hy het my 10 November 2018 gevra om te trou. Dit was in ʼn helikopter reg by Harties.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Ek het van die begin af gesê ek wil graag ʼn rok huur so ek het begin kyk na rokke en die dag toe ek hierdie een gesien het was ek net verlief. Hy het perfek aan my gesit en die ontwerper, Johan Fourie was ongelooflik. Hy het my so baie gehelp!
Vertel ons meer van jul ringe
Ons het eendag nog voordat ons verloof was verby ʼn juwele winkel geloop en ek (Micaela) het dadelik hierdie reeks van roosgoud ringe gesien waaroor ek mal was! Ons het toe weer eendag daar verby geloop en ek het toe van hulle gaan aanpas. Tot my verbasing het Francois my gunsteling een uitgehaal toe hy my die dag gevra het om te trou. Sy ring was net so maklik. Hy het ʼn idee in sy kop gehad oor wat hy wil hê. Ons was toe een dag na juwele winkels toe en hy het die perfekte een gekry. Ons is regtig baie “maklike” mense en wou nie dinge kompliseer nie.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf
Ons het nie ʼn videograaf gehad nie, maar ons fotograaf was ONGELOOFLIK! Trisha Robbertse van PoemBox Creative Studio was deur die tyd so vreeslik behulpsaam en dit was asof sy ons gedagtes gelees het met alles wat sy gedoen het. Dit was nooit nodig om iets te verander nie.
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Die hele seremonie. Van die oomblik wat die bruid begin afstap en jy haar vir die eerste keer sien, op haar mooiste tot waar jy aangekondig word as “Man en Vrou”, dit voel so onwerklik maar dit is die beste gevoel ooit!! Ons sou niks wou verander het nie. Dit was eerlikwaar die mooiste, beste dag van ons lewens – dit is nou natuurlik totdat ons eendag Mamma en Pappa gaan word.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Dames: Moenie te veel uit gestres wees oor die klein dingetjies nie. Moenie toelaat dat enige iemand jou beïnvloed oor jou keuse van rok of enige iets anders nie, dit is JOU dag. Vat dit dag vir dag en vertrou die Here vir Sy leiding en voorsiening. En geniet elke oomblik van die beplanning, mens mis dit as jy dit so om wens.
Manne: Laat jou verloofde toe om die meeste van die beplanning te doen. Hulle is baie beter daarmee as wat ons is.
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
ʼn Familielid van die bruid het haar vertel van die venue, sy het dit gaan google en was mal daaroor. Die bruidspaar het De Harte Venue eerste besoek en was dadelik oortuig dat hul daar wil trou ! “Ons het sommer die ander venue besoeke gekanselleer”. Die dekor was maar iets wat ek (Micaela) self gekies het. Ons is redelike maklike mense en ek het nie ‘n vooraf opgestelde idee gehad van hoe my troue moet lyk nie. Ons voel dat “minder is meer” en hou baie van die eenvoud.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Daar was nie regtig ʼn begroting gehad nie, nie omdat ons te veel finansies het nie, maar juis omdat alles so vinnig gebeur het en ons nog nie regtig daarvoor gespaar het nie. Ons het absoluut die Here vertrou om te voorsien, en Hy het! Die uitgawes wou ons nogsteeds tot ‘n minimum beperk omdat dit net een dag is en ons wou graag meer fokus op ons wittebrood. Wat wel baie gehelp het is die feit dat ons perfekte tydsberekening gehad het wat “Black Friday Specials” aanbetref. Ons het ook geen blomme gehad nie en dus nie geld daarop uitgegee nie. Met die meeste van ons dinge was ons geseën – weereens alles te danke aan die Here!
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Ons was Mauritius toe vir ons wittebrood vir 10 dae. Wat ʼn belewenis! Dit is die lekkerste tyd want alles is so nuut en opwindend en jy leer mekaar werklik ken. Ons het so baie dinge gaan doen en gesien. Om dit saam te kon doen was ʼn absolute voorreg. Mauritius is asemrowend mooi, net bitter warm in die Somer! (hou dit in gedagte)… Ek dink nie dit maak saak waar jy gaan vir jou wittebrood nie, maak net seker jy gaan en geniet elke oomblik daarvan, dit vlieg verby!
Vertel ons meer oor jul eerste dans
Ons het die liedjie “Ek sal” van Juanita Du Plessis en Theuns Jordaan gekies. Francois het nog altyd gesê hy wil op daardie liedjie trou en deur die tyd het dit vir ons betekenis gehad. Ons wou graag baie meer oefen vir die dans as wat ons op die ou einde het. Ek dink ons het eenkeer geoefen. Maar ek sou se die dans het beter gegaan as wat ons verwag het.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Grimering & Hare: Stay Make Up and Beauty
- Fotograaf: PoemBox Creative Studio
- Skryfbehoeftes: PoemBox Creative Studio
- Rok: Johan Botha Fashion Design
- Venue: De Harte Venue