By Mooi Troues is ons super opgewonde om dié besonderse mooi natuur verlowing fotosessie van Gerhard en Lientjie met ons lesers te kan deel. Ons kan nie ophou kyk na die skilderagtige mooi foto’s van die gaste plaas nie.
Lientjie het ook beeldskoon gelyk in twee verskillende rokke wat die natuur tonele perfek komplimenteer.
Ons wens vir Gerhard en Lientjie alle voorspoed en hoop om hul trou binnekort ook met ons lesers te kan deel. Rol af en geniet hul verlowing fotosessie in die natuur.
Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?
Ons verhaal het in 2009 begin toe ‘n onderlinge vriend, my gevra het om Gerhard se metgesel vir ‘n jaareindfunksie te wees. Ons vriend het gedink ons sal perfek vir mekaar wees. Ongelukkig kan ons nie sê dat ons dit dieselfde gevoel het nie. Ons kan nie veel van daardie funksie onthou nie, behalwe dat Gerhard vriendelik was en ek ‘n rooi rok gedra het. Ons het albei besluit dat ons nie belangstel nie!
Gelukkig het ons storie nie daar geëindig nie. ‘n Paar jaar later het ons mekaar weer raak geloop by ‘n doop. Na die seremonie het ons begin praat en mekaar se geselskap baie geniet. Ironies genoeg vra ‘n tannie vir Gerhard; “Waar is jou meisie?”. Hy het na my gewys en haar geantwoord: “My meisie? Tannie sien daardie meisie met die rooi jas, dit is my toekomstige vrou.” Ek het net my kop geskud en gelag. Kort daarna het ons op ons eerste afspraak gegaan. Ons het dadelik verlief geraak en nou kan ons nie wag om die res van ons lewens saam te spandeer nie.
Vertel ons wie het wie gevra om te trou?
Ons verlowing was ‘n besonderse spesiale dag wat Gerhard haarfyn beplan het. Hy het genoem dat hy iets spesiaal beplan vir ons herdenking en my so verras met ‘n warm lugballon rit waar hy op sy regter knie my die “ja” word gevra het. Hy vertel nou nog die storie van hoe hy bang was ek laat val die ring uit die lugballon uit. Toe ons terug kom na die verlowing het albei ons families by mekaar gekom om dit te vier.
Vertel ons die inspirasie agter die verlowing foto’sessie?
Die lewe is ‘n avontuur; die liefde is ‘n reis. Ons storie voel soos ‘n hemelse avontuur op aarde. Ons glo die eerste reis wat mens moet maak is van hart tot hart. Gerhard het gesorg vir die begin van ‘n pragtige liefdes avontuur toe hy op 15 September 2018 op sy knie gegaan het!
Ons is albei baie lief vir die natuur en ontsnap gereeld daarheen. Dit is toe waar ons onsself bevind het, in die natuur na aan mekaar en ons Skepper. Die res is Stef en Elaign se kunswerk en die Smoke Bomb se rook simboliseer die liefde wat ons uit stort vir mekaar.
Wat het jul laat besluit oor die verlowing foto’sessie?
Die fotograaf kies was die maklikste deel. Ek ken vir Elaine en Steph (van Dust and Dreams Photography) al vir baie jare. Hul het albei my susters se troues afgeneem. Ons het besluit om die verlowings foto’s te neem vir ons om gemaklik te raak voor die kamera en van die foto’s te gebruik vir ons trou dekor.
Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?
Ons droom troue moet net weerspieël wie ons is. Dit is ook vir ons belangrik om die dag saam ons geliefdes deur te bring. Ons het besluit op ‘n naweek troue om soveel moontlik tyd saam ons gunsteling mense te spandeer.
- Fotograaf: Dust & Dreams Photography
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Rok: Gehuur by Nicky’s Closet
- Rok ontwerp deur: Silver Swallow Design
- Pienk romp: YDE
- Venue: Florence Guest Farm