Ons by Mooi Troues kan sien dat die paartjie, Reinhardt en Elcke, baie prettige is en dit weerspieël in hul troufoto’s hier onder. Hulle het ook by ʼn unieke trouvenue in Maboneng, Johannesburg getrou wat net by gedra het tot die prettige feesviering. Ons is absoluut dol oor hul troufoto’s in die strate van Maboneng en daar was onbeplande mense van die publiek deel van hul foto’s wat dit net soveel meer uniek en kosbaar maak!
Ons by Mooi Troues wens vir Reinhardt en Elcke alle voorspoed toe vir die getroude lewe en sê dankie dat ons hul troudag met ons lesers mag deel. Rol af en geniet hul troue.
Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
24 November 2018, 29 jaar oud.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ons was saam op hoërskool, maar het eers op universiteit offisieel begin uitgaan.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Vir so lank as wat ek kan onthou het ek gesê ek wil nie in ʼn lang rok trou nie. Toe dit nou tyd raak om ʼn rok te kies kon ek nêrens ʼn kort trourok kry nie en het toe besluit om een te laat maak. Soos wat ek met die ontwerper gesels het, het ek besef dat ek wel my rok ʼn bietjie tradisioneel wil hou. So het ons besluit op ʼn kort rok met ʼn romp wat deurskyn, bo-oor wat ek later kon afhaal. Ek was so gelukkig en vreeslik gemaklik in my rok!
Vertel ons meer van jul ringe
Elcke se ring is vreeslik spesiaal en het sentimentele waarde, aangesien die diamant van Reinhardt se ouma se ring af kom. Hy het die ring laat maak, self die styl en die roos goud kleur gekies. Reinhardt se ring is ook roos goud en gehamer vir ʼn growwer tekstuur.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf
Stroopsoet is net ongelooflik! Ons het hulle ontmoet by ʼn nefie se troue en het dadelik gedink dat hul mens so gemaklik laat voel. Van die eerste ‘kliek’ af was ons rustig, kon nie ophou lag nie en het aanhoudend gesels. Ons foto’s en video is so kosbaar en ons kan nie genoeg daarna kyk nie.
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Ons het lank voor ons troue besluit om tyd net vir ons in te werk; net om asem te haal en die oomblik in te neem. Daar was ʼn stadium wat ons bo gestaan het in die seremonie area en afgekyk het na ons gaste deur die Olyfbome. In daai oomblik het tyd stil gestaan, toe ons besef hoeveel ons ons dag geniet en hoe gelukkig almal was om die dag saam met ons te deel.
As ons iets kon verander sou ons die troue vroeër laat begin het. Niemand kan mens voorberei vir hoe vinnig die dag regtig verby gaan nie.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Elcke: Dit is so moeilik om te doen, maar moet nie so baie bekommer nie! Ek was so opgewerk oor die weer vir ons dag en het maklik 3 keer ʼn dag gekyk wat die voorspelling was. Ek wou so graag gehad het dat dit nie moet reën nie. Toe op ons troudag, net toe ek in die kar op pad venue toe is, begin dit storm en in daai oomblik kon ek nie minder omgee nie. Maak vrede met die feit dat alles gaan nie soos beplan verloop nie.
Reinhardt: In die weke voor jou troue, maak seker dat jy genoeg slaap. Julle gaan dit nodig hê vir al die spanning soos wat die groot dag nader kom.
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Ons het vir trou inspirasie gesoek op Pinterest en het fotos gesien van ʼn pragtige troue tussen groen bome, onder die sterre. Soos wat ons deur dit gekyk het, het ons besef dat dit in Maboneng is en het dadelik vir mekaar gesê dat dit is ons venue. Ons het daai selfde week hul besoek en bespreek vir ons troudag! Ons wou ons dekor minimalisties hou, omdat die venue al kaar so groen is. Saam met dit het ons koper en blou kleure ingewerk om by die bome en liggies te pas.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons begroting was ongeveer R190 000 en ons het 85 gaste gehad. Dit was baie moeilik om by ʼn begroting te hou, aangesien mens nie besef hoe vinnig alles optel nie. Ons het ʼn baie lang Excel sigblad gehad wat ons gereeld oopgemaak het om ons finansies dop te hou.
Vertel ons meer oor jul eerste dans
Ons kan glad nie vasdans nie en wou nie op ons troue iets forseer wat nie ons is nie. Vir ons eerste dans het ons ʼn gunsteling, lekker dans liedjies gekies, die platejoggie gevra om dit so hard as moontlik te speel en almal gevra om op te spring en saam te dans. Ons het ons dansvloer definitief met ʼn bang oopgemaak.
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Ons Wittebrood was ʼn trou geskenk van Reinhardt se ouers. Ons het die dag na ons troue Durban toe gevlieg, die aand by die ongelooflike Oyster Box Hotel spandeer en daai volgende oggend op ʼn skip geklim Portugese eilande toe. Dit was ʼn week van absolute ontspanning!
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue + Eetgoed: Arts on Main
- Fotograaf +videograaf: Stroopsoet Fotografie
- Blomme + Dekor: By Simoné
- Platejoggie + ligte: Sonic State Production
- Grimering: Angelic Allure
- Tittewyt + Akkommodasie: Pablo House
- Trourok: Cathcol
- Strikdasse: Major John
- Kruisbande: Bowties & Braces