Die oulike paartjie Hein en Ancheri het hul geloftes vir mekaar gemaak by Langkloof Roses trou venue in Wellington. Hulle het vir hul eie troue betaal en moes dus kreatief geraak het vir die dekor. Meeste van hul trou dekor het hul self gedoen en het hul inspirasie gevind by Suid-Afrika se nasionale blom, die Protea.
Paartjies wat besig is om hul eie troue te beplan en opsoek is na oulike trou idees of selfs ‘n venue soek om ‘n plaastroue te hou sal Hein en Ancheri se troue vreeslik geniet.
Ancheri se keuse op trourok sal baie bruide inspireer wat in die warm Suid-Afrika Somer maande trou. Hein gee die manne ook kosbare advies wat nie voor die troudag gedoen moet word nie.
Mooi Troues se lesers kan gerus afrol en baie oulike inspirasie in die paartjie se plaastroue vind. Ons hoop julle geniet dit.
Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
Ons datum was 8 Desember 2018 en ons al twee was 25 jaar op die dag van ons troue.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ons het ontmoet in ons tweede jaar by Stellenbosch Universiteit by ʼn eerstejaarskamp waar ons deel was van die kosspan, wat vir meer as 300 eerstejaars kos gemaak het.
Hein het die groot vraag gevra by ʼn boetiek wynplaas in Durbanville.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Ek wou baie graag ʼn sagte somerrok hê. Omdat ons in Desember getrou het, moes die rok gemaklik en koel wees. Ek wou iets gehad het wat by my persoonlike styl pas, maar steeds ʼn bietjie detail het wat dit die trourok “effek” gee. Die sjampanje – roomkleur van die rok het my velkleur baie goed gekomplimenteer en het bygedra tot die sagte effek wat ek na gestreef het.
Vertel ons meer van jul ringe
Ons trouringe het ons ʼn verassing gehou, so nie een van ons het presies geweet hoe die ringe gaan lyk, totdat ons dit in lewende lywe gesien het nie.
Hein se ring is van Tungsten gemaak en ek wou baie graag tog ʼn bietjie detail hê wat die eenvoud van die ring opbreek.
Ancheri wou iets anders hê wat nie heeltemal by haar verloofring pas nie, maar wat tog steeds fyn genoeg is. Hein het ʼn ring ontwerp wat soos ʼn varingblaar lyk en wat die verloofring komplimenteer met die ring sy besondere fyn detail.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.
Ons fotograaf en sy vrou was fantasties van die eerste oomblik wat ons hulle ontmoet het. Albei van hulle is baie gemaklike mense en het ons op ons gemak laat voel voor die kamera. Cilliers het op ons troudag so nou en dan van die foto’s vir ons gewys wat geneem is tydens die ‘Goue uur’ en daai foto’s het reeds prentjiemooi gelyk. Ons is mal oor Cilliers se tegniese oog en sy vrou wat hom aanvul met haar aanwysings oor hoe om te staan of hoe om na mekaar te kyk. Albei van hulle het soos gaste by ons troue gevoel.
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Ancheri: Vir my was dit die oomblik toe ek voor die kansel kom en vir Hein die eerste keer sien. My hart het net met soveel blydskap en vreugde gevul op daai oomblik, dat ek trane in my oë gekry het. Al wat ek op die dag sou wou verander, is om die lengte van my rok korter te gemaak het!
Hein: Die oomblik toe die instap liedjie begin speel het en ek besef: Dit is nóú die tyd. Die deur gaan oop en toe Ancheri inloop was dit vir my ʼn ‘wow’ oomblik, want ek was so opgewonde om ons nuwe hoofstuk saam te begin. Ek sou net die aand langer wou hê!
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Hein: Eerstens moenie ʼn ram-partytjie die aand voor die troue hou nie. Op die dag van die troue, onthou jy is nie daar om te sorg dat die gaste ʼn lekker aand het nie, jy is daar om dit self te geniet. Laastens, ʼn mens is regtig uitgeput die volgende dag, so moenie iets te intensief vir die volgende dag reël nie.
Ancheri: Omring jouself die oggend van die troue met vriendinne en jou familie wat jou kan laat lag, saam kuier en net ontspan. Neem elke oomblik in en neem genoeg foto’s waarom jy kan terugkyk.
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Ancheri het die venue lank voor ons nog verloof geraak het, gesien op sosiale media. Sy was dadelik verlief op die plek en het gesê sy sal graag eendag daar wil trou. Ons het ʼn spesifieke datum ingedagte gehad en toe die venue hierdie datum nog beskikbaar het, het ons geweet dit is ʼn teken!
Ons dekor was geïnspireer deur die Protea-blom, asook ons eie liefde vir die natuur. Daarom het ons natuurlike kleure by ons dekor ingesluit. Ons is ook baie lief vir gedigte en het elke tafelnommer met ʼn liefdesgedig bekoor.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons wou baie graag die meerderheid van ons troue uit ons eie sakke betaal. Daarvoor het ʼn hele jaar se spaar baie dissipline geverg. Ons het met ʼn begroting van ±R 100 000 gewerk. Sekere dekor-items het ons self gemaak, uitgekyk vir beter pryse wanneer dit by diensverskaffers gekom het. Ons het baie lysies gemaak wat vir ons baie belangrik is soos kos, musiek en foto’s.
Die gastelys was klein en intiem, ons het 60 gaste by ons troue gehad wat baie lekker was om by almal uit te kom.
Vertel ons meer oor jul eerste dans
Ons wou iets spesiaal doen vir ons eerste dans en danslesse geneem om ʼn rumba te leer. So het ons net ʼn paar lesse geneem en by die huis geoefen wanneer ons kans gekry het. Ons het deur verskeie liedjies gegaan en op die ou end besluit op ʼn outydse liedjie – (What a) wonderful world deur Sam Cooke. Hierdié liedjie is nie jou tradisionele eerste dans liedjie nie, maar die woorde het perfek by ons as ʼn paartjie gepas. Ons dans was pret en ons het baie gelag en saamgesing op die aand.
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Albei van ons het nog min deur ons eie land gereis en ons het toe besluit om ʼn ‘padreis’ te doen vir ons wittebrood. Ons het saam aan die roete beplan: Begin in Stanford, deur na Knysna, Oudtshoorn, Ladismith, Riebeeck-Wes en terug huis toe. Ons gunsteling plek was verseker Stanford se Sondagskloof waar ons in ʼn intieme ‘eco-cabin’ gebly het.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Cilliers Visser Photography
- Kos: Linda Bruyns Catering
- Hare en grimering: Tittewyt
- Musiek: DJ Tiny
- Blomme en dekor : Bloeisels
- Trourok: Tying the Knot
- Hein trouring: Unbreakable Man
- Venue: Langkloof Roses