Stefan en Suné het hul troue gevier in die Robertson wynlande by DuVon wyn en trou landgoed. Wanneer ons na die foto’s hier onder kyk kan ons sien dit was ‘n pragtige troue. Paartjies wat graag in die wynlande wil trou moet tog die Robertson-vallei onthou. Daar is baie trou venues en ons by Mooi Troues belowe julle dat die Robertson gasvryheid jul dadelik sal oorwin.
Ons moedig asseblief paartjies wat besig is om hul troue te beplan om die trou diensverskaffers in Robertson te ondersteun.
Rol af en sien vir u self hoekom ons by Mooi Troues se gaande is oor troues in die Robertson-vallei.
Julle troudatum en ouderdom van paartjie op troudag?
Troudatum: 13 Oktober 2018
Ouderdom: Bruidegom – 29 en Bruid – 25
Hoe het jul ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Sy sê: Ons het mekaar redelik baie in die gimnasium raakgeloop, maar net kop geskud om te groet. Een Saterdagaand, 1 November 2014, het ek en ‘n vriendin uitgegaan vir ‘n drankie. Die volgende oomblik toe stap daar ‘n groep vriende in, Stefan was natuurlik een van hulle. Hy en sy vriend Stephan koop toe vir my en my vriendin ‘n drankie en daar het ons aan die gesels geraak. Van daardie aand af het ons net “geclick” en gesels nog al die pad. Ek was natuurlik dadelik verlief op hierdie lang man met die mooiste stem.
Stefan het my gevra om te trou op sy verjaarsdag, 22 September 2017. Hy het alles so mooi gereël dat ek tot op die oomblik wat ek die ring gesien het nie geweet of vermoed het dat dit gaan gebeur nie. Dit was by die Kruger Wildtuin, stunning.
Vertel ons meer hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Sjoe, ek het altesaam 22 trourokke aangepas. Hulle sê mos ‘n bruid weet net en voel as dit die perfekte rok is. My trourok was die tweede laaste een wat ek aangepas het. Eers wou ek nie die rok aangepas het nie, want ek het nie gedink dit is my styl nie. Ek besluit toe tog om hom aan te pas, want die bokant het heeltyd my aandag getrek.
Tóé ek daardie rok aan het, het my hart gesmelt en oë geblink. Ek het so gemaklik en mooi gevoel. Om eerlik te wees ek wou nie die rok uitgetrek het nie. Ek was absoluut verlief op my rok en het met trane in my oë gesê, dit is hy. Tot vandag toe nog as ek foto’s kyk is ek steeds verlief op my rok.
Vertel ons meer van jul ringe.
Sy sê: Stefan het op sy eie my ring uitgekies, sonder dat ek van enige iets geweet het. Hy ken my verseker beter as wat ek myself ken en hy het die mees perfekste ring by Browns vir my gekoop. Die ring is verskriklik baie spesiaal vir my en ek wou nie eers ‘n pant by gekry het nie. Gevoel dit gaan my stunning ring bederf.
Stefan se ring het ons saam gaan kies. Ons het nie presies geweet waarvoor ons soek nie. Toe ons sy ring sien het ons gedink dit is iets anders. Hy pas dit toe aan en dit lyk toe vreeslik mooi aan sy hand. Ons het sommer daar en dan dit gekoop.
Vertel ons meer oor die fotograaf.
Ons het sommer maar oral geluister wat sê die mense van fotograwe en ons het op Facebook baie na fotograwe gekyk. Ons albei het baie van Heléne Viljoen se styl n pragtige foto’s gehou. Suné het navorsing gedoen en Heléne se diens was puik. Jy wag nie dae om van haar te hoor nie en sy hanteer jou asof sy jou al jare ken. So toe het ons op haar besluit en is glad nie spyt nie.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die dag en wat sou jul verander indien moontlik?
Hy sê: Die eerste oomblik toe ons alleen was, net nadat ons geteken het. Toe ek alleen vir haar kon sê sy lyk regtig so mooi en ‘n soen gee.
Sy sê: Die oomblik wat ek by die trougang afgeloop het en my bruidegom gesien het. Die mooiste man in sy vlootblou pak en net die sagte glimlag wat hy vir my gegee het. Daar het ek besef, dit is nou so. My hart het vinnig geklop van opgewondenheid en ek kon net ons liefde vir mekaar voel.
Iets wat ons sou verander het is om ‘n videograaf ook te gehad het.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hulle troue te beplan?
Sy sê: Dit is belangrik om te doen waarvan julle as paartjie hou en nie waarvan ander mense hou nie, dit is immers julle grootdag. Die Bruid moet ten alle tye kalm bly. Geniet net elke oomblik van al die reëlings. Vat dit dag vir dag en moet nie alles op een dag probeer reël nie.
Hy sê: Staan ten alle tye jou bruid by en help waar jy kan. Kry alles ten minste twee dae voor die tyd reg en dan is daar geen druk op enige iemand die dag voor die tyd nie. Dit het so goed vir ons gewerk en almal was rustig.
Hoe het jul die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Ons was voorheen al by baie trou venues, so het ‘n goeie idee gehad van ‘n paar mooi venues. Ons het gehoor van DuVon Wine and Wedding estate en wou graag gaan kyk het en veral omdat dit op ‘n mooie wynplaas is. Die dag toe ons gaan kyk het het ons net vir mekaar gekyk en albei met breë glimlagte op die gesigte. Alles was net so mooi en perfek vir ons. Die oomblik wat ons daar weggery het het ons albei vir mekaar gesê “ Ek lief die venue”. Daar het ons sommer dadelik vir Laura laat weet ons wil die venue gebruik vir ons spesiale dag.
Sy sê: Om eerlik te wees, Stefan het nie veel gesê oor die dekor nie. Hy het gesê dit is my keuse. My visie was ‘n sagte, romantiese gevoel, maar steeds stylvol. Ek het Tannie Antjie van Blommeprag ontmoet en ons het dadelik mekaar verstaan. Sy het my so mooi opgesom en presies geweet waarvan ek hou. Ek het vir haar so paar prentjies gewys en gevra ek wil graag die ligte pienk King Protea hê en ook kerse. Sy het my verwagtinge totaal en al oortref met meer as 200 Koning Proteas en ‘n absolute stylvolle saal. Dit was regtig asemrowend mooi. Stefan was self mal daaroor.
Wat ook vir my uitgestaan het was ons mooi spyskaart kaartjies en die name. Alles was proteas en het so mooi bymekaar gepas. Ons dankie geskenkie was ‘n mooi pienk macaron in ‘n houertjie met ‘n lint om. Dit het so mooi ingepas. Ek was net mal oor alles.
Wat was jul begroting en hoe het jul daarby gehou? Hoeveel gaste het jul onthaal?
Begroting was bietjie moeilik, want ons albei se ouers het bygedra asook ons. Ons wou nie oor R150 000 gegaan het nie en ons het nie. Dis belangrik om meer as een kwotasie te kry vir alles en indien jy êrens oor spandeer dit dan op ‘n ander plek te sny.
Ons het op die einde 126 gaste onthaal.
Vertel ons meer oor jul eerste dans.
Liedjie keuse: Juan Boucher se Gebore om by jou te wees.
Ons albei is al van die begin af mal oor die liedjie en as hy êrens speel sing ons kliphard saam en dans. Na natuurlik is die woorde so mooi gepas, want ons is gebore om bymekaar te wees. Ons het nie geoefen nie. Ons het dit sommer net geniet en vir mekaar gesing en lekker gedans. Was ongelooflik.
Vertel ons meer van jul wittebrood.
Dis moeilik om in so min woorde alles te vertel van ons wittebrood. Dat dit die tyd van ons lewe was is verseker. Ons het dit vreeslik geniet. Stefan het alles gereël en dit was meer as perfek. Ons was bietjie Thailand toe, Phuket en PhiPhi eiland toe. Die eiland was natuurlik ongelooflik.
Ons het sommer bietjie in ‘n woud gaan Zip Lining doen, bietjie gesnorkel, op vreeslike interessante bootjies gery, ons het die lekkerste kos geëet en baie lekker deur baie stalletjies geloop en ons moes darem van hul klere ook gekoop het, net om dit te hê. Ons het vir verskillende masserings gegaan en baie geswem, want almal weet hoe warm dit daar is. Ag dit was werklik net ‘n fantastiese ervaring en tyd vir ons as pasgetroude paartjie.
- Venue: DuVon Wine and Wedding Estate
- Fotograaf: Heléne Viljoen Photography
- Spyskaarte/naam kaartjies/tafelname: Sugarbird Creative Design
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Spyseniering: Jamup Cater Ronelle du Toit
- Rok: The Wedding Boutique
- Hare en grimering: Martie Olivier
- Koek: Elsa Everson
- Blomme/dekor: Blommeprag – Bonnievale
- Platejoggie: Kryptobeat
- Macarons: Cake Buddies