Leon en Lumari se stylvolle rustieke troue in Wellington was ongelooflik pragtig. Die paartjie het hul spesiale dag op intieme wyse gevier saam met vriende en familie. Julle mag dalk die paartjie herken van hul oulike verlowing fotosessie in Langebaan, wat ons vroeër op Mooi Troues gedeel het.
Die bruid het beeldskoon gelyk in haar pragtige A-lyn trourok van kant. Die fyn detail op die rok, ʼn kombinasie van delikate blomme en pêrels, was asemrowend. Lumari se handruiker het bestaan uit sagte skakerings van wit blomme, met tikkies groenigheid wat dit perfek afgerond het. Haar strooimeisies het ook pragtig gelyk in hul gebrande oranje rokke.
Die bruidegom en sy strooijonkers het baie stylvol gelyk in hul elegante swart pakke. Hulle het wit knopies hemde gedra met swart strikdasse, wat vir ʼn formele en sjiek voorkoms gesorg het.
Hulle seremonie was ʼn asemrowende buitelug geleentheid, met ʼn pragtige blommerangskikking en die prentjiemooi berge as agtergrond – die perfekte setting vir hul troue.
Die viering is afgeskop met ʼn vonkelwyn-toring, altyd ʼn treffer by ʼn elegante troue. Die troukoek was ʼn ware kunswerk, en die blomme wat bo-op die koek gestaan het, het dit ʼn eksentrieke en unieke voorkoms gegee – iets anders as die tipiese troukoek-styl.
Hulle onthaal het plaasgevind in ʼn ou plaasskuur, waar ʼn lang tafel met ʼn wit tafeldoek in die middel gestaan het. Die stoele was versier met sagte sandkleur linne-drapering, wat ʼn mooi kontras geskep het met die rustieke atmosfeer van die venue. Die tafels is versier met fyn blommerangskikkings en kerse vir daardie romantiese gevoel.
Rol af om meer te lees oor Leon en Lumari se liefdesreis en pragtige troue.
Trourok:
Leon het heel toevallig my rok gekies. Ek wou spesiaal vir hóm aantrek op ons troudag. Toe gaan pas ons twee saam my trourokke aan om te kies.
Dit is ’n A-lyn stylvolle kant-trourok met 3D-blom detail en fyn pêrel-afronding. Die rok het fyn bandjies en ʼn lae v-lyn hals. Fyn kant patrone vloei oor die rok, met driedimensionele blom- en blaar ontwerpe wat liggies van die stof af oplig vir ’n lewendige effek.
Die klein pêrels en kristalle, ingewerk in die materiaal , gee ’n klassieke, subtiele glans wat die kant en 3D-detail perfek komplementeer. Ek voel hierdie rok is iets klassiek, uniek en verfynd.
Paartjie se Verlowing:
Ons verlowing op Thali Thali Wildsplaas was ’n pragtige, onvergeetlike dag in die hartjie van die natuur, op 3 September 2024. Die lug was helder en daar was ’n rustige stilte om ons, net die sagte geluide van die veld en die natuur om ons. Ons beide geniet die natuur se ongereptheid en stilte.
Leon het my op die fraai geweldak Weskus huisie se stoep tuisgemaak, en het op een knie neergesak. Met ʼn glimlag en blink oë het hy galant gevra of ek sy vrou wil word.
Net toe ek wou antwoord, het ons ʼn komiese onderbreking gekry – een van die mak wildsbokke van die wildsplaas het op ’n kalm manier nader gesluip en Leon begin nuuskierig betrag, amper asof hy ook vir my antwoord wag. Ons het in die oomblik vasgevang geraak, laggend oor ons ongenooide gas wat duidelik ook ʼn belangrike rolspeler wou wees.
Dit het die romantiese oomblik soveel spesiale kleur gegee, en ná die lag het ek natuurlik “Ja” gesê. Ons verlowing was die perfekte kombinasie van romanse, natuur, en ’n tikkie spontane humor wat dit werklik uniek gemaak het.
Verloof- en Trouringe:
My roosgoud verlowingsring het ’n vintage elegansie met ’n solitaire snit ligpienk moissaniet. Die band is versier met delikate diamantjies wat subtiele sprankel byvoeg en die sentrale steen komplementeer sonder om dit te oorweldig, wat die ring se tydlose styl beklemtoon.
Leon se ring is ’n klassieke titanium band, eenvoudig en duursaam, wat sy persoonlikheid weerspieël met ’n tydlose, elegante voorkoms.
Trou Dekor en Styl:
Ons troudekor styl was ’n elegante, maar simplistiese uitleg, geïnspireer deur die natuurlike, aardse atmosfeer van Vygie Country Restaurant.
Die dekor het minimalistiese elemente ingesluit met skakerings van roomkleur en roesbruin wat pragtig in die ruimte ingewerk was. Die onthaal het plaasgevind in ’n ou plaasskuur wat die perfekte ouderwetse en klassieke antieke gevoel gegee het – ’n plek vol nostalgie en karakter.
Kerse en eenvoudige blommerangskikkings het op die tafels geskitter, wat die skuur met ’n warm, intieme lig vul. Die tafels was kaal hout met netjies geplaaste linne, wat ’n natuurlike en organiese gevoel gegee het. Elke detail was doelbewus eenvoudig gehou, van die blomme tot die katoen servette, om die natuurlike skoonheid van die omgewing te beklemtoon en ’n tydlose atmosfeer te skep wat ons visie perfek weerspieël het.
Trou Begroting en Beplanning:
Met ʼn gaste-lys van slegs 36 mense, en ʼn begroting van R100 000, het hierdie paartjie hul troue oor ses maande sorgvuldig beplan om die perfekte balans tussen intiem en stylvol te handhaaf.
- Fotograaf: Kreativ | Kontak
- Venue: Vygie| Kontak
- Blomme: Vygie en Handruikers deur my ma, Louise Claassen/Ouma Lollie | Kontak
- Dekor: Vygie| Kontak
- Grimering: Isabel Venter/Kreativ| Kontak
- Hare: Salon Genesis Wellington/Magda
- Huweliksbevestiger: Theo van Houten
- Juweliersware: “Something old”, simplistiese pêrel oorbelle
- Koördineerder: Vygie/Rose Gelderblom | Kontak
- Kroegdiens: Vygie | Kontak
- Musiek: Vygie | Kontak
- Paartjie se verblyf: Oakland’s Stables | Kontak
- Skryfbehoeftes: Ons dogter -Millena Holder
- Spyseniering: Vygie | Kontak
- Trourok: Bride&co
- Bruid se Trouring: Sterns
- Troukoek: Vygie | Kontak
- Videograaf: Kreativ/Francois | Kontak
- Wittebrood Bestemming: Thailand