Jeandré & Kayla se Prentjie Mooi Verlowings Fotosessie in die Natuur

Jeandré en Kayla se prentjie mooi verlowings fotosessie in die natuur is vir ons ongelooflik mooi. Met soveel pragtige elemente en ʼn perfekte agtergrond, kan hul verlowings fotosessie werklik as prentjie mooi beskryf word.

Beide Kayla en Jeandré het ʼn liefde vir die natuur en wou graag hierdie passie in hul verlowings foto’s uitbeeld. Die bewolkte, donker lig het ʼn dramatiese effek op die foto’s, terwyl die kontras tussen die grys lug en die diepgroen bome en veld ʼn treffende atmosfeer skep. Nog meer kleur en lewe is bygevoeg deur ʼn veld vol helder pers blommetjies, wat soos ʼn bonus gevoel het en die foto’s daardie ekstra tikseltjie mooi gegee het.

Kayla vertel dat die pers blommetjies ʼn groot verrassing was, en dat hulle dadelik besluit het om daar foto’s te neem. Die paartjie se eenvoudige, stylvolle uitrustings het perfek ingepas by die tema van die fotosessie. Kayla se wit rok en Jeandré se wit knopieshemp met sy donker broek het ʼn elegante voorkoms geskep, wat goed kontrasteer met die donkerder, meer dramatiese agtergrond. As ekstra bederf het die paartjie ook ʼn bottel vonkelwyn laat spat, wat nog ʼn tikkie pret aan die sessie gegee het.

ʼn Verlowings fotosessie is baie belangrik. Dit verskaf die paartjie pragtige herinneringe aan hierdie spesiale tydperk in hul lewe. Boonop help dit hulle om meer gemaklik voor die kamera te wees, wat goeie oefening is vir hul troudag. Rol af om meer te lees oor Jeandré en Kayla se verlowings fotosessie en hul pragtige liefdesreis as paartjie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het ontmoet op ʼn bus oppad na die #Imagine kerk kamp toe die 18de Maart 2017. Ek was in graad 8 en Jeandré was in graad 10. Drie maande na ons ontmoeting het Jeandré my uitgevra. Ons was ses jaar en sewe maande saam voor ons verloof geword het.

Die groot vraag:


Die dag van die verlowing was ʼn verassing gewees, maar ons het al lank daaroor gepraat om verloof te word. Daar was geen ander familie of vriende betrokke gewees nie. Dit was net ek en Jeandré en hy het alles op sy eie beplan. Ons was op vakansie gewees in die Kaap toe hy my die dag Vrede en Lust Wine Estate toe gevat het. Hy het daar vir ons ʼn pieniek gereël en toe die groot vraag gevra. Ons het die 18de Februarie 2024 verloof geword.

Hoekom ons mekaar liefhet:


My gunsteling eienskappe van Jeandré is dat hy ʼn selfstandige hardwerkende man is wat nie bang is om enige probleme of situasies aan te pak nie. En dat hy deur enige situasies die vriendelike mens bly wat hy altyd is.

My gunsteling eienskappe van Kayla is haar sagte hart en omgee vir my en ander. Haar ondersteuning in al my wilde planne en haar onophoudelike liefde vir my.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons wil graag nie langer as een jaar verloof wees nie, dus het ons besluit om op die 1ste Februarie 2025 te trou.

Die verloofring:


Ek het vir Jeandré baie foto’s gestuur oor wat ek graag sou wil hê, siende ek weet waarvan ek hou. Ek het nog altyd van die pear shape gehou. Maar die end produk was ʼn verassing vir my gewees.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou graag foto’s vir ons huis hê en ook om fotos te hê wat ons eendag vir ons kinders kan wys. Dit was ook ingesluit by ons trou pakket dus was dit ʼn plus punt vir ons.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek en Jeandré is beide mense wat hou van die natuur, en wou dit graag uitbeeld in ons verlowing foto’s. Dus het ons fotograaf ʼn plek voorgestel waarvoor ons dadelik ingestem het. Die pers blommetjies was ʼn groot verassing vir ons gewees, want ons het gedink dit is net ʼn oop stuk veld. Ons het sommer dadelik tussen hulle gaan foto’s neem.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons altwee verwag dat die beplanning harde werk gaan wees en baie tyd gaan neem om alles deeglik te beplan, maar ons verwag ook dat na al die beplanning alles goed en mooi sal uitwerk. Ons vrese is dat baie van die verskaffers waarvan ons gebruik wil maak nie meer beskikbaar gaan wees nie en ook dat ons nie gaan klaar kom met al ons beplanning nie.

Visie vir droomtroue:


Ons wil graag gebruik maak van ʼn trou beplanner en het klaar een in gedagte. In ons perfekte prentjie wil ons ook baie graag iewers in die bosveld trou met baie blomme en kerse. Ons kyk na ʼn gemiddelde hoeveelheid mense by ons troue, nie te veel nie en ook nie te min nie, maar mense wat baie vir ons beteken. Maar op die ou einde van die dag wil ons net ons dag saam met mekaar en al ons familie en vriende geniet.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: