Christian en Kara se verlowing fotosessie in Johannesburg Middestad is te pragtig vir woorde. Die paartjie het in die pragtige Italië verloof geraak, wat ʼn totale verrassing was. Dit was so romanties – die soort droom verlowing waarvan enige paartjie droom.
Stedelike verlowing fotosessies is altyd besonder treffend. Daar is net iets spesiaal aan die stad se gejaag wat vasgevang word in pragtige beelde. Die argitektuur, die beweging en die energie van die stadslewe skep unieke foto oomblikke.
Die fotosessie het plaasgevind by ʼn eksklusiewe, stylvolle privaat klub in Johannesburg se middestad. Dit skep ʼn atmosfeer wat jou onmiddellik terugvoer na ʼn era van ouwêreldse luukse. Christian se chino en wit hemp sorg vir ʼn ontspanne, maar steeds semi-formele voorkoms. Kara se pragtige wit rompie is stylvol en perfek vir hul speelse fotosessie.
Verlowing fotosessies kan ongelooflik lekker wees. Dit is belangrik dat paartjies so gemaklik en ontspanne moontlik voel tydens dié sessie. Paartjies doen verlowing fotosessies om verskeie redes – een daarvan is om mooi herinneringe vas te vang, terwyl ander dit as ʼn kans sien om hul trou fotograaf beter te leer ken en sodoende minder gespanne te wees op hul troudag. Christian en Kara wou graag pragtige foto’s hê vir hul trou uitnodigings en ook vir hul huis.
Beplan julle troue? Besoek Mooi Troues se Trougids vir uitstekende trou diensverskaffers om julle spesiale dag onvergeetlik te maak. Blaai verder af om meer van Christian en Kara se pragtige verlowing fotosessie in Johannesburg Middestad te sien en lees ook oor hul verlowing tydperk.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het mekaar die heel eerste keer ontmoet vir ʼn koffie afspraak by Woodlands. Ek onthou tot vandag die prentjie in my kop toe Kara by Woodlands se trappe opkom en ek haar die eerste keer gesien het. Ons het 3 jaar na dit verloof geraak.
Die groot vraag:
Dit was ʼn verrassing. Ons was oorsee in Italië, en nadat ek my bril verloor het in Positano en ons moes soek vir die bril, wou Kara net huis toe gaan, maar ek het haar oorreed om foto’s te neem op ʼn uitkyk punt, waar ander toeriste vir ons foto’s geneem het, en ek toe gedurende die foto’s gevra het vir ʼn video, en die ring uit my sakkie uitgehaal en op my knie afgegaan.
Hoekom ons mekaar liefhet:
Christian: My gunsteling eienskappe van Kara is haar eerlikheid, haar sagte hart al kom sy bietjie kwaai voor, dat sy so liefdevol is, en haar standvastigheid in die Here.
Kara: Christian is baie hardwerkend, ʼn baie lojale vriend en ook lojaal teenoor mense, hy doen altyd die regte ding en niks is ooit te erg vir hom nie, hy wys nie as hy gestres is nie.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons beplan om verloof te wees vir minder as 8 maande, ons trou al 1 Maart 2025.
Die verloofring:
Ons het saam na die ringe gaan kyk aan die begin, sodat Kara kan sien wat sy van hou, en wat sy nie van hou nie. Nadat sy geweet het wat sy soek, het ek self die ring laat maak. Een van die diamante aan die kant is haar ouma se ring gewees wat ek gebruik het en deel gemaak het van die ring en dan die ander diamante het ek gekoop en saam met Stonz gewerk om die perfekte ring te maak wat Kara eers op die verloofdag gesien het.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons wou graag mooi fotos hê vir ons huis, en ook op ons trou uitnodigings!
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Kara wou graag iets uniek doen wat baie stylvol is en die teenoorgestelde van die bos is, aangesien ons in die bos gaan trou.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:
Ons verwag dat die Here ons net nog nader aan mekaar gaan bring, en dat ons opwinding om te trou net nog groter raak. Ons vrees nie noodwendig iets spesifiek rakende die tydperk nie, dis maar net ʼn baie stresvolle storie om ʼn troue te reël.
Visie vir droomtroue:
Christian is baie goed met admin en Kara het ʼn wonderlike sin vir styl, daarom beplan ons self ons troue. Ons gaan op 1 Maart 2025 by Tshikwalo in Dinokeng trou, met ongeveer 110 gaste wat dit saam met ons sal vier. Ons droom is om ʼn lekker partytjie te hou saam met al ons familie en vriende, omring deur die mense wat die naaste aan ons is.
- Fotograaf: Dearest Darling | Kontak
- Fotosessie Ligging: The Rand Club | Kontak
- Grimering: Enhance Beauty| Kontak
- Hare: Enhance Beauty| Kontak
- Verloofring: Stonz| Kontak