Rayno & Yolandi se Stylvolle Canapé Troue in Tsitsikamma

Rayno en Yolandi se stylvolle canapé troue in Tsitsikamma is iets wat julle nie mag misloop nie. Hierdie paartjie het gekies om ’n alternatiewe roete te volg, in plaas van ʼn tradisionele formele troue. Hul canapé styl troue is ideaal vir paartjies wat inspirasie soek vir ’n meer ontspanne, maar steeds baie stylvolle troudag. Die troue het plaasgevind by ’n asemrowende plek in Tsitsikamma, met die Stormsrivier en die pragtige see as agtergrond – die perfekte toneel vir die ongelooflike foto’s wat deur RRAD Photo Video afgeneem is.

Ons is heeltemal verlief op Yolandi en Rayno se seremonie omring deur reuse bome wat ʼn kalm en rustige atmosfeer geskep het. Die onthaal was gemaklik en informeel, met tafels en bankies wat ʼn gesellige en intieme gevoel aan die dag gegee het. Gaste het lekker langs die kaggel of by die boma gesels en peuselhappies (canapés) geniet. Dit was werklik ʼn prentjiemooi dag. Wit blommerangskikkings en roosblare het ʼn skouspelagtige kontras teen die aardse kleure van die woud geskep. Die wit blomme-opstel agter die paartjie het alle fokus op hulle geplaas gedurende die seremonie.

Yolandi se trourok was uiters stylvol. Die vloeiende snit met oop skouers en pofferige moue was ʼn pragtige mengsel van elegant en eksentries, iets waarvan ons hou. Die strooimeisies, strooijonkers en bruidegom was almal in swart geklee, wat baie sjiek voorgekom het en perfek gepas het by die trou styl van die paartjie.

In plaas van ʼn tradisionele troukoek, is “red velvet”-kolwyntjies bedien. As geskenke het gaste iets soets ontvang. In plaas van die sny van die troukoek, het die paartjie ’n sjampanje-toring gehad, wat as ’n lekker ysbreker gedien het toe hulle by die onthaal opgedaag het.

Rol af om meer te lees oor Rayno en Yolandi se stylvolle canapé troue in Tsitsikamma.

Trourok:


My rok was gemaak van 16m “tulle” en het bestaan uit 3 lae waarvan die onderste laag vleeskleur was en die 2 boonste lae wit. Daar was meer as 1 000 handsteke om die materiaal en lae in plek te hou.

Ek wou iets heeltemal anders gehad het en toe ek ʼn soortgelyke voorbeeld van die rok sien en ʼn paar veranderinge gemaak het toe weet ek dit is die een. Die dramatiese moue en styl van rok het so perfek gepas by ons winter, woud troue.

Verloof- en Trouringe:


My ring is ʼn Browns Pear Diamant Halo Ring in platinum en 18kt roosgoud. Dit bestaan uit een natuurlike peer-diamant, 0.31 karaat F-kleur, S12 helderheid en uitstekende deursigtigheid. Hy het sy naam aan die binnekant van die ring laat kerf. Ons het albei besluit om vir eers die troupant te los en sal dit dalk oorweeg vir ons 1 jaar huweliks herdenking.

Ek het vir Rayno ʼn unieke swart Tungsten en bruin hars trouring gekoop met “Mi amor” aan die binnekant gekerf.

Paartjie se Verlowing:


Rayno het my verras met ʼn paar daggies weg na een van ons gunstelinge plekke, Plettenberg Baai en op die tweede laaste dag toe het my skoonpa hulle vir ʼn aand in dieselfde vakansie oord as ons kom slaap. My pa en stiefma was ook in Plett vir die week en ek het toe niks daarvan gedink nie omrede my pa hulle omtrent elke tweede naweek Plett toe gaan en my skoonpa hul het gese hul is oppad na vriende toe en moes daar verby ry.

Ons besluit toe om die aand by Sky Villa Boutique Hotel te gaan vir ete. Toe ons daar kom het ons bietjie rond gekyk en besluit toe om ʼn foto te vat. My swaer was nog so besig om die foto te neem toe daar ʼn fotograaf aangestap kom. Sy lig ons toe in en se dat sy besig is om ʼn paar fotos vir die Hotel se webwerf te vat en of ek en Rayno wil staan vir ʼn foto met die hotel in die agtergrond.

Die groot oomblik:

Natuurlik stem ons toe in en sy neem toe haar eerste foto en toe ek na die foto kyk, sien ek agter ons staan ons familie met beide pappas wat ʼn groot banier vashou waarop staan “Yolandi, will you marry me?” en woeps daar gaan Rayno af op sy knieë en vra my om te trou. Hy het dit so mooi beplan en seker gemaak almal kon daar wees daardie dag, dis was regtig so spesiaal.

Natuurlik was die fotograaf nie daar om die hotel af te neem nie maar daar vir ons verlowings fotos. Ons het toe ʼn paar fotos saam die familie geneem en toe ons individuele foto sessie gehad, daarna kon ons lekker gaan vier het saam almal. Ek kon werklik nie vir ʼn beter aand gevra het nie.

Meer oor Rieg & Eidie | RRAD Photo Video:


Rieg & Eidie | RRAD Photo Video, is ʼn wêreld-klas studio wat ’n boetiek ervaring verseker vir jou troudag. Jou foto- en videograaf is by jou die meeste van die dag. Daarom is dit noodsaaklik om iemand te kies wat nie net onvergeetlike foto’s en video’s neem nie, maar iemand met wie jy gemaklik is en wat ook sal help om die stres vlakke te verminder – dit is presies wat Rieg & Eidie | RRAD Photo Video doen.

Hulle trou foto- en videografie pakkette is allesomvattend, insluitende meer as genoeg tyd op die troudag, ʼn verlowings sessie, ʼn duursame plat-vou trou album, sowel as ’n trou film/videografie en boudoir sessie as opsies. Hulle het ook selfs ’n spesiale pakket vir mikro en bestemmings troues. Kontak hulle nou om jou spesiale dag vir ewig vas te vang! Hulle doen trou foto- en videografie oor die hele Suid-Afrika en selfs in die buiteland!

Trou Dekor en Styl:


Ons het besluit om ons kleurskema swart en wit te maak. Die gaste het almal formeel in swart aangetrek en die dekor was meestal wit met groenigheid. Ons albei het baie van die alternatiewe “all black” idee gehou omrede dit so mooi uitgestaan het in die woud en die wit dekor het so mooi afgespeel teen die swart en die pragtige klere van die natuur.

Die troue se algehele styl was redelik simplisties.

Trou Begroting en Beplanning:


Ons het ons troue oor anderhalf jaar beplan met ’n begroting van ongeveer R80 000 en 50 gaste. Ek het self die beplanning gedoen, met die hulp van my ma, tannie en Misty Mountains se personeel.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: