Gerhard & Anjo se Pragtige Troue in die Bosveld

Gerhard en Anjo se pragtige troue in die Bosveld, Limpopo, was ongelooflik mooi, met talle besonderse elemente. Ons is mal oor die paartjie se simplistiese, maar steeds baie stylvolle voorkoms op hul troudag.

Gerhard het in sy swart pak en strikdas besonders elegant gelyk. Anjo was beeldskoon in haar trourok met ’n eenvoudige, maar pragtige vloeiende ontwerp. Die fyn detail aan die lae rug en sleep van haar rok het ekstra elegansie bygevoeg.

Hulle het Mooiplaas in Bela-Bela as hul trou plek gekies, ’n ideale bestemming vir enige paartjie. Met die asemrowende natuurskoon, pragtige argitektuur en uitstekende diens, is Mooiplaas ʼn droom trou venue.

Die paartjie het ’n pragtige buitelug seremonie onder ’n groot wildevy-boom gehad. Gaste het gerieflik in die skadu van ’n bedekte prieel gesit, omring deur die Bosveld se natuurlike skoonheid – die perfekte seremonie! Na afloop het gaste heerlike vingerhappies geniet, uitgestal op ’n feestafel wat onweerstaanbaar lekker gelyk het.

Ons hou van die idee om die troukoek direk ná die seremonie te sny, want dit trek al die aandag na die koek, wat dikwels ’n belangrike fokuspunt van ’n troue is.

Die onthaal lokaal het ’n tropiese atmosfeer gehad, met ’n kombinasie van groen blare en wit blomme. Wit kerse op die tafels het ’n romantiese en gesellige atmosfeer geskep. Ligte tafellopers het die donker hout tafels opgehelder en die fokus op die groen dekor en kerse geplaas.

Rol af om meer te lees oor die paartjie se troudag.

Trourok:


My rok was presies wat ek wou gehad het. Ek het hom tweedehands gekoop by ʼn meisie in Durbanville. Dit is die eerste rok wat ek aangepas het en ek het net geweet dit is die rok.

  • Kleur: Ivoorwit
  • Styl: Hy was nou sluitend bo en stadig oop gemaak onder. Dit is ʼn V-vorm voor, Hy het bietjie laag afgegaan met ʼn sagte net rantjie.
  • Moue: Twee bandjies wat na my skouer toe gaan.
  • Lengte: As ek my hakkies aangehad het was hy presies tot op die grond.
  • Rug: Hy het ʼn baie mooi kant rug gehad en ʼn kant veil wat aan die rok vas was van die rug af wat ʼn slee gevorm het.

Ek sal sê my rok was baie elegant.

Verloof- en Trouringe:


My ring is vir my die heel mooiste ring. Die eerste keer wat ons ringe gaan aanpas het by Beaudell, het ek nie ʼn idee gehad wat ek wil hê nie. Die meisie wie ons gehelp het, se ring was vir my besonders en ek het hom toe aangepas en dadelik geweet dit is die een.

My ring is 14ct goud. Snit: Ovaal Diamand: 1.25ct. Clarity: VS2

Gerhard se ring, hy was baie maklik met sy ring. Dit moet goud wees en hy het van die 5.5mm breed band gehou. Ek het sy ring by Famke gekoop. En hy is bitter gelukkig met sy ring. 9ct Goud half rond 5.5mm.

 

Meer oor Mooiplaas:


Mooiplaas is ʼn unieke oase in die Bosveld. Laat ons toe om te verseker dat julle bruilof glad en stresvry verloop. Beleef ʼn tikkie van die Kaap in die hartjie van die Bosveld, waar trou beloftes onder die majestueuse wildevy-boom gemaak word, teen ʼn pragtige natuurtoneel.

Ons indrukwekkende saal kan tussen 100 en 300 gaste akkommodeer.

Mooiplaas is ongeveer 125 km noord van Pretoria, geleë op die Eersbewoon-pad tussen Modimolle (Nylstroom) en Bela-Bela (Warmbad).

Paartjie se Liefdesreis:


Ons verlowings dag was alles en meer. My man het above en beyond gegaan om dit vir my só spesiaal te maak. Hy het aan elke moontlike detail gedink. Alles en almal waarvoor ek lief is was deel van hierdie besonderse dag. Net so bietjie agtergrond maar ek en my man was in ʼn langafstand verhouding en ons het mekaar elke twee maande gesien. Ek is ʼn baie nuuskierige mens en ek het gedink ek het geweet wanneer hy my gaan vra, maar hy het my so verras. Ek het niks geweet nie.

My sussie het my vertel van hierdie geskenkbewys wat sy het by Kievietskroon wat sy by haar skoonma gekry het en my gevra of ek wil saam gaan. Sy het dit só goed beplan dat sy vir my die geskenkbewys gestuur het met die tannie se naam op, so ek het nie eers gedink dat dit iets anderste kan wees nie.

Die groot vraag:

Ons het die Vrydagoggend toe ʼn bitter spesiale oggend gehad by Kievietskroon en ek het toe my naels gedoen. Toe ons klaar was toe loop ons buite toe waar die piekniek gedeelte is, en ek toe sien die mooiste piekniek plekkie wat voor ons uitgesit is en ek sê nogal, “ Dit is so mooi, ek en Gerhard moet hier kom piekniek hou!”, en ek draai toe om en ek sien net vir Gerhard wat na my toe loop, ek het dadelik geweet, hiér is dit nou.

Dit was een van die grootste oomblikke van my lewe. Hy het toe dadelik op sy knie gegaan en die vraag gevra, en ek het ja gesê. Hy het my pragtige ring aan my vinger gesit. Dit was vir my baie spesiaal dat my sussie deel kon gewees het van die oomblik. Sy het toe ʼn paar mooi fotos geneem. Ons het so lekker gepiekniek daarna en saam nagmaal gehou. Ons het sommer ons verlowings fotosessie gedoen die middag en ons verlowings partytjie die aand. As ek nou terug kyk, alles was perfek. ʼn Dag wat ek veraltyd sal onthou en koester.

Trou Dekor en Styl:


Ek wou van die begin af groenigheid gedoen het. Ons kleurskema was: sement grys, swart, groen, afwit. So ons het met varings op die tafel gehad, sement onderborde. Afwit servette en swart kershouers. Die troue het ʼn tropiese gevoel gehad.

Blomme: Ons minimum blomme gebruik. Orgidees, Flamingo-blomme, was blommetjies en ander wit blomme.
Blare: ʼn Groot verskeidenheid van tropiese groen blare.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het 110 gaste na hul troue genooi en het ʼn begroting van R200,000 gehad. Hulle het oor ʼn tydperk van 7 maande aan die troue beplan en het die hele troue self gereël, wat dit ekstra spesiaal gemaak het.


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: