Christiaan & Jenique se Outentieke Plaas Verlowing Fotosessie

Christiaan en Jenique se outentieke plaas-verlowingsfotosessie is een wat julle beslis nie wil misloop nie! Hierdie paartjie se verlowingsfotosessie het ons behoorlik met ‘n groot glimlag op ons gesigte gelaat.

Jenique en Christiaan se fotosessie is heeltemal anders as die gewone plaas verlowings fotosessies wat julle dalk al gesien het. Die paartjie het werklik die plaasdiere deel gemaak van hul spesiale oomblik. Van ‘n hoender op Christiaan se kop tot ‘n wollerige lama wat met oorgawe voor die kamera poseer.

Christiaan en Jenique se uitrustings in sagte, ligte pastel skakerings het ook ‘n pragtige kontras geskep teen die plaas landskappe in die agtergrond. Die plaasdiere wat by die foto’s ingesluit is, bring ‘n oulike en warm, hartlike gevoel na elke foto. Hierdie is beslis ‘n prettige én ongelooflik romantiese verlowingsfotosessie.

Ons vind dit altyd besonder spesiaal wanneer paartjies hul daaglikse lewenstyl inkorporeer in hul foto’s. Hierdie paartjie se fotosessie vertel soveel meer as net ‘n mooi agtergrond en perfekte foto’s. Dit vertel ‘n storie van die plaaslewe, van hoe naby mense aan die natuur leef en van die wonderlike herinneringe wat vasgevang word. Die paartjie het hierdie foto’s gebruik vir hul muurversiering by die huis, sowel as vir hul trou-koerantjie.

Hulle gaan trou by die pragtige Mooiplaas Venue en het verklap dat dit ‘n elegante bosveld troue sal wees! Rol af om meer te lees oor die paartjie se verlowingsfotosessie en hul liefdesreis.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het op ʼn dood gewone Vrydagaand in Bloemfontein ontmoet waar ons ons eerste afspraak gehad het.

Christiaan het my toe die Saterdag genooi om saam hom na ʼn markie toe te gaan, waar hy my vertel het hy kan nie lank weg wees van die plaas af nie, so “Kuis ons nou?” het hy my gevra. Nie 24 uur nadat ek hom ontmoet het nie.

Ons is twee jaar later verloof.

Die groot vraag:


Dit was ʼn totale verrassing. Dit was skeertyd op die plaas en Chris het my gevra om na sy wol te kom kyk. Natuurlik wou ek hê ons moet ʼn foto of twee in die wol neem. Hy het my toe vertel hy het sy foon in die wol verloor en dat ek hom moet help soek daarna. Dit is toe na ʼn bietjie krap wat ek die boksie gesien het. Christiaan het “knieg vuil gemaak” en kon nie ʼn woord uitkry nie – hande het gebewe.

Ons het die middag alleen spandeer waar ons kon gesels oor die toekoms en ons naaste familie en vriende bel. Ons plaas is BAIE afgeleë en het min mense om ons.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Ek sê nog altyd ek soek ʼn stil man wat sy man kan staan. Christiaan se passie vir die plaas en hoe naby hy aan Vader leef. Hy is vir niks bang nie en staan sy man. Hy dra my totaal en al op sy hande. Na ʼn lang dag sal hy my vra “Soek jy blomme, of hoenders?” en dis hoekom ek weet hy is die een.

Hy sê hy is mal daaroor dat ek altyd besig is, of met my hoenders, tuin of suurdeeg broodjies. Ook dat ek altyd die plaashekke oopmaak. En dat ek altyd ander mense wil help.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


10 maande.

Die verloofring:


Ons het saam gesels oor ringe. Ek was van 2017 verlief op ʼn ring wat Marion ontwerp het, en deur al die “trends” was dit nog altyd MY ring.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Dit was vir ons trou koerantjie, sowel as fotos vir ons muur.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons wou graag fotos hê wat ons persoonlikheid uitbeeld. Ons het die aand voor die tyd eers besluit om ons klere uit die kas te haal.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verlowings tydperk is amper verby, en dit gaan só vinnig. Ek is bly ons het een keer ʼn maand moeite gedoen om ʼn date night te hê waar ons NET troue gesels en beplan het.

Visie vir droomtroue:


Ons trou amper by Mooiplaas Venue, en ons kan nie wag nie. Dit is ʼn bosveld troue wat elegant gaan wees.


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: