Teagen & Tayla se Bekoorlike Sonsondergang Verlowing Fotosessie

Teagen en Tayla se bekoorlike sonsondergang verlowing fotosessie was iets uit ʼn sprokie, prentjiemooi en eenvoudig onvergeetlik. Hierdie keer het die paartjie, wat gewoonlik agter die kamera staan, die kans gekry om self die sterre van die fotosessie te wees.

Met die talentvolle Snippets Photography & Design agter die lens, is hul verlowings foto’s op ʼn pragtige plaas met asemrowende landskappe geneem. Ons is heeltemal verlief op die warm, romantiese lig wat elke oomblik in hul verlowing foto’s deurdring – dit skep die perfekte atmosfeer vir hierdie spesiale geleentheid.

ʼn Verlowing fotosessie kan so baie pret wees, veral wanneer dit op ʼn plek geskiet word wat vir die paartjie persoonlik betekenisvol is. Soos Teagen en Tayla, kan julle ook ʼn stylvolle, gemaklike uitrusting kies en elke oomblik van die sessie geniet. Die paartjie het beeldskoon gelyk in hul ligte hemde, truie en denims – die perfekte keuse vir ʼn romantiese, dog ontspanne atmosfeer.

Daar was natuurlik ook vonkelwyn en ʼn pragtige verloofring wat die fotosessie net nóg meer spesiaal gemaak het. Hierdie besonderhede het ʼn tikkie ekstra magie by die dag gevoeg en dit werklik onvergeetlik gemaak.

ʼn verlowing fotosessie is die ideale geleentheid om jul fotograaf beter te leer ken en gemaklik voor die kamera te raak voordat jul groot dag aanbreek. Dit verskaf ook wonderlike herinneringe en oulike foto’s wat perfek is vir jul trou-uitnodigings.

Rol af om meer te lees oor Teagen en Tayla se pragtige sonsondergang verlowing fotosessie en hul romantiese liefdesreis.

Meer oor Snippets Photography & Design:


Snippets Photography & Design is ʼn foto- en videograaf span gebaseer in Gauteng, maar reis graag regoor Suid-Afrika.  Hulle liefdestaal vang pragtige herinneringe deur asemrowende een keer in ʼn leeftyd oomblikke.  Laat hulle toe om julle herinneringe vas te vang!  Alhoewel dit ʼn versameling van verskillende oomblikke, lig en gevoel is; sal julle ook stukkies van hulle harte vind.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het in 2014 ontmoet toe ons nog op skool was. Na skool het ons nie regtig kontak gehad nie, maar mekaar op sosiale media gevolg. In 2022 was ons albei enkellopend en nie opsoek na ʼn verhouding nie. Ek het ʼn foto van myself op my Instagram storie geplaas, wat wys hoe ek my hande en knieë nerf af geval het. Teagen het op dié foto kommentaar gelewer en so het ons begin gesels en later mekaar gereeld gesien. Ons wou net vriende bly, maar binne drie maande was ons in ʼn romantiese verhouding, en 15 maande later is ons verloof!

Die groot vraag:


Teagen het beplan dat ons die Jimny Gathering in Clarens in September 2023 bywoon. Ek is mal oor die Jimny en ry self een, sy naam is Bosluis. Op pad Clarens toe, het ons by Protea Corner in Golden Gate Hoogland Nasionale Park gestop om ʼn besonderse uitsig te bewonder. Teagen het sy foon, soos gewoonlik, opgestel om fotos te neem, maar het dit op video gesit, en toe het hy my gevra om te trou! Hy het die onvergeetlike JA woord op video gekry. Ek was totaal uit die veld geslaan… Almal van ons gesinne en beste vriendinne het geweet, behalwe ek!

Hoekom ons mekaar liefhet:


Teagen is die man van my drome. Hy is geduldig, intelligent, toegewyd en liefdevol… maar vir my het hy met sy hele hart lief!

Tayla, my Bok Bok, het die mooiste glimlag wat enige kamer verlig! Haar goedhartigheid is onoortreflik, en sy is hardwerkend. Sy gee my die moed om aan te hou wanneer ek nie meer kan nie.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het beplan om twee jaar verloof te wees voor ons trou. Ons beplan om volgende jaar, September 2025, te trou.

Die verloofring:


Teagen het reeds Augustus 2023 my ring begin ontwerp en laat maak. Volgens hoe ek my droom ring aan hom beskryf het. Ons het saam na ringe gaan kyk. Toe ons by die juwelier aankom, het hy ʼn houer met verskeie ringe gebring vir my om na te kyk, onwetend na my dat die ring wat Teagen laat maak het een van daardie ringe was. Teagen was so senuweeagtig dat ek ʼn ander ring sou kies, maar sy ring het dadelik my aandag getrek en was dan ook die ring wat ek gekies het. Teagen het die volgende dag die ring gaan haal en dit weggesteek.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Beide van ons is gewoonlik agter die kamera, so ons is glad nie gewoond om voor die kamera te wees nie. Toe ons die fotograaf vir ons troudag gaan bespreek, het ons genoem dat ons nog nooit ʼn fotosessie gedoen het nie. Hulle het voorgestel dat ons ʼn verlowings fotosessie doen om ons gemaklik te laat voel voor die kamera, en vertroud te maak met ons fotograaf. Ons het soveel pret gehad! Dit sal ook mooi fotos vir ons trou uitnodigings wees asook om goeie herinneringe in ons huis op te hang.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons wou ons fotos buite in die natuur geneem het, want dit is ons gunsteling plek! Ons wou die sonsondergang in ons fotos vasvang want dit is ons gunsteling tyd van die dag, en hou onvergeetlike herinneringe vir ons in, soos die dag toe Teagen my gevra het om sy meisie te wees!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verwag om ons liefde vir mekaar te verstewig en ons wou ook ons planne vir ons toekoms agter mekaar kry. Soos byvoorbeeld ek wou my eie praktyk, Tayla-Made Nutrition, van die grond af kry voordat ons trou. Ons het nie regtig enige vrese nie.

Visie vir droomtroue:


ʼn Bosveld troue, is ons albei se droom, met albei ons families teenwoordig. Daarom het ons besluit om ons troue naby Pretoria te hou, maar steeds daardie moderne bosveld-gevoel te hê. Ons wil ook net ons naaste vriende en familie-lede daar hê, maar dit is nogal ʼn groot getal! Ons wil dit ʼn onvergeetlike dag maak, wat ons saam met ons families kan geniet, lekker eet en natuurlik dans tot die son opkom!

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: