Matthew & Leticia se Elegante Strand Troue aan die Atlantiese Kus

Matthew en Leticia se elegante strand troue, gehou by een van Kaapstad se luukse hotelle aan die voet van die 12 Apostels, was ʼn droom wat waar geword het. Met die majestueuse berge en potblou see as agtergrond, het hul dag soos ʼn romantiese sprokie ontvou.

Leticia het pragtig gelyk in haar trourok, met delikate detail om die arms en bors wat perfek gepas het by die elegansie van hul dag. Haar rok het vinnig opslae gemaak op TikTok, en haar handruiker het haar stylvolle voorkoms perfek aangevul. Matthew het net so elegant gelyk in sy swart broek, wit baadjie en strikdas.

Die seremonie het plaasgevind onder ʼn wit blom prieel met die Atlantiese oseaan as agtergrond, wat die atmosfeer nog meer magies gemaak het. Die dekor het die perfekte balans tussen modern en elegant gevind, met skakerings van swart en wit, kristalle, en goue aksente. Wit tafeldoeke het die tafels bedek, met swart servette en eetgerei wat ʼn treffende kontras geskep het. Kerslig het die onthaal teen skemer in ʼn romantiese sprokieswêreld omskep.

Matthew en Leticia se troue was van ware styl en romanse, die ideale inspirasie vir enige paartjie wat hul eie elegante strand troue beplan. Besoek Mooi Troues se Trougids vir trou diensverskaffers wat jou spesiale dag net so perfek kan maak. Hierdie elegante strand troue het weereens gewys dat skoonheid in eenvoud lê, met elke detail wat hulle persoonlikheid weerspieël het. Geniet meer van hierdie ongelooflike elegante strand troue en hul unieke liefdesverhaal.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek het Matthew eendag voor my deur ontmoet toe hy my broer by die huis kom optel het. Hy het in sy groen Nissan gesit, en ek het my broer gevra wie daardie aantreklike ou is. My broer het my onmiddellik laat weet dat hy reeds geneem is.

ʼn Paar jaar het verbygegaan, en ek het Matthew op Facebook raakgeloop. Hy was onmiddellik in my DM’s. Ons het lekker gesels, en ons was albei enkellopend op daardie tyd. Hy het my genooi om saam na ʼn partytjie te gaan, en ek het ja gesê. Ek het my broer ook saamgesleep aangesien hulle vriende is.

Daardie aand het lekker verloop, en ek was die een wat die eerste skuif gemaak en hom gesoen het. Na daardie aand het ons gereeld uitgehang, en na twee maande het hy uiteindelik vir my gevra om sy meisie te wees.

Na vyf jaar het Matthew besluit om my te vra om te trou. Dit was op my 30ste verjaarsdag by The Bay Hotel in Kampsbaai. Ek het ʼn pragtige goue rok gedra en was gereed vir die toesprake. Matthew het gesê hy wil die eerste een wees wat ʼn toespraak maak. In sy toespraak het hy gesê hoe gelukkig hy is en hoe lief hy vir my is. Hy het toe my pa gevra om die ring aan te bring en het onmiddellik op sy knieë gegaan om die groot vraag te vra. Ek het ʼn bietjie lank geneem om ja te sê omdat ek só emosioneel was. Dit was regtig ʼn baie spesiale oomblik om al ons familie en vriende daar te hê om hierdie groot oomblik saam met ons te vier.

Trourok:


René H Couture het my trourok gemaak. Ek het die inspirasie vir my rok op Instagram gekry. René het omtrent 2000 kristalle een vir een aan my rok vasgewerk. Dit het baie dae en ure geneem om dit perfek te kry.

Duchesse-satyn was gebruik vir die rok, met die materiaal wat mooi gedrapeer was. Boonop was die bokant van gaas gemaak, en handgeborduurde krale het die halslyn en moue versier. Om ‘n dramatiese effek te skep, was die oorklap-romp se sleep meters lank. Met die gaas wat perfek by my velkleur gepas het, het dit gelyk of die kristalle regstreeks op my lyf aangebring is.

My trourok het meer as 400k kyke op TikTok gekry, en die meisies gons steeds oor hierdie droomrok.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Die toesprake was ongelooflik mooi – elkeen was so hartroerend dat dit baie mense in trane gehad het. Die kos, die musiek, ons geloftes en die vader-en-dogter-dans – daar is net te veel spesiale herinneringe wat die dag só besonders gemaak het.

Trou Venue:


In ons eerste jaar van ons verhouding het ek vir Matthew gesê dat ek eendag by die 12 Apostles Hotel wil trou. Toe dit tyd geword het om ʼn venue te soek, het hy my dadelik aan my woorde herinner. Ons het die venue gaan besigtig en sommer op die plek besluit dat dit perfek is. Die 12 Apostles was regtig ʼn droom wat waar geword het.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


  • Die saksofoonspeler – baie mense praat steeds oor hoe hulle die musiek geniet het.
  • Die videograaf – hy het elke oomblik vasgevang en ons troue se storie so mooi vertel.
  • Die fotograwe – hulle het soveel pret gemaak op ons troudag.

Veloof- en Trouringe:


Ek het altyd vir Matthew laat weet dat ek ’n peervormige ring wou hê, en dit is presies wat hy gekies het. My ring is vol klein diamante in ʼn peervorm. Ek is mal oor blink goed, so hierdie ring weerspieël perfek my persoonlikheid.

Matthew se ring het ek gekies – swart en goud, die kleure wat hy nog altyd wou hê.

My ring is by Arthur Kaplan gekoop, en syne is by Woodish SA gekoop.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Spandeer die hele dag saam met jou eggenoot – dit is belangrik om te onthou dat dit júlle dag is. Dit kan ʼn stresvolle tyd wees, so maak tyd vir date nights om weg te breek van al die reëlings. Dit help regtig baie.

Trou Dekor en Styl:


Ons styl was baie elegant met ʼn minimalistiese ontwerp. Die kleurskema was swart, wit, kristal en ʼn tikkie goud. Al ons gaste was in swart geklee, terwyl ek en Matthew alleen in wit was.

Die dekor op die tafels het bestaan uit enkel wit rose en akriel-kandelare as kershouers. Ons het baie kerse gebruik vir ʼn romantiese atmosfeer. Die eetgerei was goud en die servette was swart. Selfs die skryfbehoeftes was swart, met wit tafellinne.

Trou Begroting en Beplanning:


Matthew en Leticia se troue was ‘n intieme viering met 60 gaste, waar elke detail noukeurig beplan is. Met ʼn begroting van R5 000 per persoon, het hulle self hul troue beplan oor die verloop van een jaar.

Eerste Dans:


James Arthur – Say You Won’t Let Go

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: