Dyllan & Sonmari se Sterrehemel Troue in Umhlanga Rocks

Dyllan en Sonmari se sterrehemel troue by Umhlanga Rocks was ʼn ware sprokies verhaal, gehou by die luukse The Oyster Box wat trots oor die kus uitkyk, bekend vir sy ikoniese rooi en wit ligtoring. Hul dag was gevul met styl, met top ontwerpers, ʼn wêreldklas fotograaf, en ʼn venue wat uitbundige elegansie uitgestraal het. Tog, dit was die opwinding en vreugde wat die atmosfeer regdeur hul troudag so magies gemaak het.

Sonmari het asemrowend gelyk in haar minimalistiese trourok met ʼn gewaagde oop snit, wat haar voorkoms ʼn moderne, maar tog tydlose elegansie gegee het. Dyllan, in sy stylvolle swart pak met ʼn opvallende wit strikdas, het soos ʼn klassieke heer gelyk. Saam het hulle gelyk of hulle reg uit die bladsye van ʼn glanstydskrif gestap het.

Die seremonie het plaasgevind in The Oyster Box se romantiese binnehof, omring deur tropiese plante en ʼn welige tuin. Onder ʼn sierlike koepel versier met verfynde wit blomme, het die paartjie hul geloftes uitgeruil, ʼn perfekte weerspieëling van die skoonheid en eenvoud wat deur hul hele dag gevloei het.

By die onthaal was wit die dominante kleur, perfek gekombineer met die paartjie se sterre-tema troue. Elke gas het ʼn persoonlike, handgeskrewe brief van die bruid en bruidegom ontvang – ʼn klein, maar betekenisvolle gebaar wat hul dag nog meer spesiaal gemaak het.

The Oyster Box se trou venue se spieël dak en pragtige kandelare het ʼn dromerige atmosfeer geskep, met wit tafellinne en stoele wat die elegansie net versterk het. Klein swart aksente, soos die spyskaarte, het ʼn tikkie moderne flair bygevoeg, terwyl die delikate blommerangskikkings in glasvase op die tafels die prentjie perfek afgerond het.

Rol af om meer van hierdie pragtige paartjie se troudag te sien en lees oor hul unieke liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar in Graad 11 ontmoet by Hoërskool Alberton se musiekfees. Ek was een van die hoofkarakters in die toneelstuk, en Dyllan was een van die dansers. Ons het dadelik ʼn vonk gevoel, en soos hulle sê, toe was die koeël deur die kerk. Na skool het ek begin studeer en Dyllan het begin werk. Ons was vir 10 jaar in ʼn verhouding en het as ʼn paartjie, maar ook as individue, saam gegroei.

Op 15 Desember 2022 het Dyllan my gevra om te trou. Hy het gesê ons is genooi na sy werk se jaareindfunksie by The North Star Hotel in Johannesburg, en dat ons sommer daar moet oornag om ons vakansie te begin (die 15de was ook sy laaste werksdag van die jaar). Toe ons in die kamer kom, het ons op die balkon gestaan en die uitsig bewonder. Skielik het hy op sy knie gesak en gevra of ek met hom sal trou.

Dit was duidelik dat die jaareindfunksie net ʼn verskoning was, en ons het behoorlik feesgevier. Ons het my ouers gebel en die aand heerlik geëet.

Die volgende oggend het hy ontbyt saam met my ouers en peetouers (my tannie en hulle) gereël. Later die middag het hy ʼn verlowingspartytjie met al ons vriende by ʼn restaurant gereël. Dit was soos ʼn sprokies verhaal, en hy het soveel moeite gedoen. Daarna het ons op vakansie gegaan na Umhlanga toe. Toe ons by The Oyster Box Hotel instap, sê hy: “Kom ons trou hier.” Ek het ingestem, en ons het onmiddellik begin reëlings tref om Ginny Eslick, die koördineerder by die Oyster Box, te ontmoet en ons troubeplanning aan die gang te sit.

Trourok:


Die tema van ons troue het uiteindelik rondom Cesetial en sterrestelsel gedraai, en ek wou hê dat my rok dit ook moes weerspieël. Brittany, die ontwerper van Brittany’s Fashion Studio, het saam met my gesit en aandagtig na al my idees geluister.

Die rok was elegant, gemaak van sy-materiaal met ʼn slit, en agterop was daar Swarovski-kristalle wat my en Dyllan se sterretekens uitgebeeld het. Dit was ongelooflik gemaklik, sag en presies wat ek wou gehad het. Ek was mal oor die rok!

Trou Venue:


Sonmari is absoluut mal oor die see, en Dyllan geniet die hotellewe en topklas diens waar hulle ook al op vakansie saam gaan. In Desember 2022 was hulle op vakansie in Umhlanga. Toe Dyllan by die Oyster Box Hotel instap, het hy onmiddellik na Sonmari gedraai en gesê: “Kom ons trou hier.” Die volgende dag het hulle met die hotel se troubeplanner, Ginny, ontmoet en so begin om die troue saam te beplan. Ons is geïnspireer deur die hotel se elegante styl, skoonheid en standvastigheid.

As een van die eerste hotelle in Suid-Afrika, het ons geglo dit sou ʼn goeie begin vir ons huwelik wees. Ons was ook mal oor die ligtoring, wat ’n kenmerk van die hotel is, en het mekaar belowe om altyd die ander se ‘lig’ te wees terwyl ons nou saam deur die lewe in die huwelik stap.

Veloof- en Trouringe:


In April 2022 het ek die Two Oceans Half Marathon in Kaapstad gehardloop, en Dyllan het laat weet hy gaan by my ouers braai. Daar het hy my ouers gevra of hy met my mag trou en vir hulle ʼn Krugerrand aangebied. Hy het vir hulle gesê dat hy weet ek is vir hulle so waardevol soos goud en dat hy my, as hul enigste kind, soos goud sal oppas (dit het my ma eers ná ons verlowing vir my vertel).

Die volgende dag het hy en my ouers toe saam na Browns gegaan om my ring te kies, en hulle het besluit op Browns se “My True North”-ring in geelgoud. Hierdie ring was ook die inspirasie vir die keuse om later by The North Star Hotel verloof te raak. (Hy het regtig slim beplan!) Sy keuse van ring was simbolies – soos die ware noordster rigting wys, wys ek vir hom rigting in sy lewe.

Troupant: Ek het nog altyd iets van Tiffany & Co. begeer, geïnspireer deur my rolmodel Audrey Hepburn en haar fliek Breakfast at Tiffany’s. Dyllan het toe met ons familievriend Wendy gereël, wat haar seun in Australië gaan kuier het, om die Tiffany-ring wat hy gekoop het saam terug te bring ná haar vakansie.

Sy trouring is ook van Browns af in geelgoud met ʼn enkele diamant – want hy is my enigste.

Meer oor The Oyster Box:


The Oyster Box is ‘n ideale trou-venue wat hoop, drome, liefde en familie vier. Die hotel, geleë aan die strand met pragtige uitsigte en vyfster-geriewe, bied persoonlike diens met spesiale aandag aan elke detail. Volgens troukoördineerder Ginny Eslick, verseker hulle dat paartjies se wense vervul word en dat troues, groot of klein, suksesvol verloop.

The Oyster Box bied ‘n volledige diens vir troues, van die beplanning tot die seremonie, met ervare personeel wat stres verminder en die dag onvergeetlik maak. Die hotel beskik oor vyf onthaal spasies, soos die luukse Pearl Room wat 120 gaste kan onthaal, en kleiner ruimtes soos die Shell Room vir intiemer geleenthede. Die pragtige Victoriaanse Gazebo is perfek vir private seremonies.

Op jou spesiale dag kan jy selfs verwag om Skabenga, die hotel se inwonende kat, op die rooi tapyt te sien verwelkom. Die Spa by The Oyster Box bied voor- en na-troudag bederf, insluitend hidroterapie en skoonheidsbehandelings, wat elke trou-ervaring ekstra spesiaal maak.  Met The Oyster Box se luukse verblyf opsies en prentjie mooi ligging kan gaste ‘n top vyfster ervaring verwag.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Die hoogtepunt was beslis om met mekaar te trou. Ons is al so lank saam en bou al jare aan ons toekoms en planne. So om uiteindelik een van ons mylpale te bereik, was ’n groot hoogtepunt. Hanri Human was nog altyd Sonmari se droom fotograaf, so om haar as ons trou fotograaf te hê, was regtig besonders. Die ervaring by The Oyster Box Hotel was fantasties, met hul kos en diens wat topklas was. Om die dag saam met ons ouers, geliefde familie en vriende te kon vier, is ’n herinnering wat ons vir altyd sal koester.

Trou Dekor en Styl:


Met Ginny, die hotel se troubeplanner, se fyn oog vir detail, het die troue seepglad verloop. Die Gypsie blomme, wat deur die bloemiste Sue Baxter versier is, het perfek ingepas by die hotel se elegante styl en sjarme. Die gaste, almal formeel geklee, het na die pragtige seremonie in die Oyster Bar ontspan en gesels voor die onthaal. Dyllan en Sonmari het hul eie geloftes geskryf en dalk net ’n oomblik te lank gesoen toe hulle deur hul trou beampte, Wessel, as man en vrou verklaar is. By die onthaal het elke gas ’n handgeskrewe brief van Dyllan en Sonmari ontvang, as dankie dat hulle die spesiale dag saam gevier het. Die kos is perfek voorberei deur die Oyster Box Hotel se sjef en uitstekend bedien deur die kelners en kelnerinne.

Die jolyt is klokslag om 12 uur, soos Cinderella, afgesluit met vuurwerke in die vorm van hand vonkelstokkies wat deur die gaste vasgehou is terwyl Dyllan en Sonmari almal gegroet het. Op pad terug na hul hotelkamer het dit begin liggies mistig reën, asof die heelal sy seën op die verrigtinge wou gee. Die tema van die troue was “Sterrehemel.”

Eerste Dans:


Can You Feel the Love Tonight – Elton John

Trou Begroting en Beplanning:


Ons troue het 52 gaste gehad, met ʼn begroting van R30 000 per persoon. Ons het een jaar lank aan die troue beplan, met die hulp van ʼn professionele koördineerder.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: