Rikus & Erin se Klassieke Troue in St Francisbaai

Rikus en Erin se klassieke troue in St Francisbaai het soveel pragtige elemente wat paartjies kan inspireer. Julle mag dalk hul bosveld verlowing fotosessie onthou wat ons voorheen op Mooi Troues gedeel het.

Ons harte is absoluut gesteel deur die groen kleurskema en hoe pragtig die hele gevolg gelyk het in hul stylvolle groen uitrustings. Die strooimeisies het almal in elegante groen rokke geskitter, terwyl die strooijonkers se groen strikdasse perfek by die tema ingepas het. Erin se handruiker was besonder opvallend, met groot wit blomme en weelderige groenigheid. Haar strooimeisies het oulike kleiner handruikers gedra wat net soveel indruk gemaak het.

Die dekor van hul troue was ʼn pragtige mengsel van wit, swart en diep groen skakerings. Die paartjie se trou skryfbehoeftes was stylvol, simplisties en net eenvoudig perfek. Weddings by EB het weer eens hul ongelooflike talent gewys deur die trou skryfbehoeftes te ontwerp. Hulle het ook die digitale “spaar-die-datum” kaartjies en die mooiste trou webwerf vir die paartjie geskep.

Die onthaal lokaal het ʼn tydlose elegansie uitgestraal met ʼn moderne kinkel. Wit tafeldoeke het ʼn deftige voorkoms geskep, terwyl die swart en groen detail op die tafels pragtig uitgestaan het. Lang, dun kerse het nie net hoogte bygevoeg nie, maar ook ʼn romantiese atmosfeer geskep, perfek vir ʼn gesellige en intieme aand.

Die blommerangskikkings op die tafels het in verskillende groottes en hoogtes gekom, wat ʼn gevoel van ruimheid en dimensie geskep het. Hierdie unieke plasing het die gaste se aandag gevang en die tafels stylvol versier. Weddings by EB se swart tafelnommers het statig uitgeblink teen die skoon wit tafeldoeke.

Die fotosessie op die strand, met die bewolkte lig en pragtige rotsformasies, was die perfekte agtergrond. Rol af om meer te lees oor die paartjie se troue en die foto’s wat Shaula Greyvenstein geneem het.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het in September 2018 ontmoet by vriende van ons se kaas en wyn aand. Ek het die volgende oggend met groot opgewondenheid vir my ouers vertel dat ek my trouman ontmoet het. ʼn Maand later het Rikus my gevra om sy meisie te wees.

Ons het die 7de Oktober 2022 verloof geraak by Pezula Golf Estate. Dit was ʼn baie intieme, spesiale aand saam wat ek vir altyd sal koester.

 

Trourok:


Ses maande voor die troue het ek ʼn foto van ʼn rok gesien en geweet dis ʼn rok wat ek wou aanpas. Dit was sprokies mooi vir my. Lang storie kort, dit was die derde rok wat ek aangepas het en het dadelik geweet dis my trourok. Ek het nog nooit van tevore so iets gesien nie en ek dink dis hoekom ek só baie daarvan gehou het. Dis ʼn spierwit, lang mou rok met die mooiste, uniekste kant materiaal wat ek al gesien het. Ek het werklik soos ʼn koninklike daarin gevoel.

Verloof- en Trouringe:


ʼn Jaar voordat ons verloof geraak het, het Rikus my gevat om ringe aan te pas. Ek het op die ou-end van die dag iets gekies wat die teenoorgestelde was van die ring waaroor ek nog altyd gedroom het. Dis belangrik om vooraf ringe te gaan aanpas sodat mens kan sien wat werk op mens se hand. Rikus het toe ʼn soortgelyke ring, later in die jaar laat maak. Dis ʼn goue ring met ʼn ovaal diamant.

Om ʼn ring vir Rikus te kies was bietjie makliker. Ek was sommer een dag in ʼn winkel toe ek ʼn ring sien waarvan ek gedink het hy sal hou. Ek het vir hom ʼn foto gestuur en hy bevestig toe dis die ring. Die volgende dag het hy die ring aan gaan pas en ons het dit bestel. Dis ʼn swart titanium ring met silwer en goue strepies.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Iets wat ek nooit sal vergeet nie is dat ons troukar ʼn gholfkarretjie was. Dit was koddig om by die seremonie te arriveer in ʼn gholfkarretjie, maar ʼn baie spesiale oomblik saam met my pa wat ek nooit sal vergeet nie.

Tydens die fotosessie het die bruidspaar, die bruidsgevolg en die fotograaf almal hul eie gholfkarretjies gekry. Dit was groot sports en ons het al te lekker op die gholfbaan baljaar en die mooiste foto’s geneem.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Ek kan werklik nie iemand uitsonder nie. Van die venue en kos tot die fotograwe en die blomme/dekor. Alles was van hoë gehalte en daar was baie tyd en kreatiwiteit in alles ingesit.

Meer oor Weddings by EB:


Weddings by EB bied unieke en keurige professionele pasgemaakte trou skryfbehoeftes wat by enige begroting pas. Al vir drie jaar in die bedryf, het hulle nog nie een oomblik spyt gehad nie. Hulle is passievol daaroor om met kreatiewe kliënte saam te werk om hul troudag drome te verwesenlik.

Weddings by EB hanteer alles van spaar die datum kaartjies (digitaal of gedruk), trou webtuistes, uitnodigings en pasgemaakte digitale illustrasies, tot op-die-dag skryfbehoeftes vir troues of enige ander spesiale funksies.

Gevestig in die Paarl, Wes-Kaap, is hulle ook bereid om oplossings te vind vir kliënte wat nie in die omgewing is nie.

Hulle gaan uit hul pad om die idees wat ʼn kliënt na vore bring, te verwesenlik, maak nie saak hoe groot of klein nie.

Trou Venue:


Rikus het een dag gaan gholf speel by St Francis Links en ek het saamgegaan. Voor ons ons oë kon uitvee het ons binne minute besluit dat dit is waar ons ons spesiale dag wil hê. Ek dink die baie spesiaal dat ons op ʼn gholfbaan kon trou, veral omdat gholf een van Rikus se gunsteling stokperdjies is.

Trou Dekor en Styl:


Ons kleurskema was grootliks wit en swart met donker groen hier en daar. Die dekor was baie simplisties, maar steeds elegant en stylvol.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Vat dit dag vir dag. Mens hoef nie die hele troue in een week te beplan nie. As jy elke dag iets kleins afgehandel kan kry, maak dit die hooi op jou vurk soveel minder. Alle goeie goed vat tyd!

Trou Begroting en Beplanning:


Daar was 80 gaste onthaal by die troue, met ʼn begroting van R3 750 per gas. Die troue was oor ses maande beplan deur die paartjie self.

Eerste Dans:


“Love you anyway” – Luke Combs

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: