Helger en Catelen se verlowing fotosessie in ʼn teater in Bloemfontein is ongelooflik mooi. Die argitektoniese elemente van die teatergebou bied die perfekte agtergrond vir hierdie pragtige verlowingsfotosessie.
Die talentvolle grimeerkunstenaar van Ruby Woo Makeup Artistry het Catelen se grimering gedoen vir die spesiale geleentheid. Haar voorkoms was perfek afgestem op die fotosessie, met ʼn natuurlike en warm styl wat ons harte gesteel het.
Helger en Catelen se neutrale kleurskema vir hul uitrustings het perfek by die omgewing gepas. Dit het nie die aandag van die asemrowende agtergrond weggeneem nie, maar steeds gesofistikeerd en gepas gelyk vir die elegante teater.
Dit is altyd opwindend om vars idees vir fotosessies te sien, soos dié van Catelen en Helger. Verlowing fotosessies is regtig waardevol—dit is ʼn wonderlike manier om kosbare herinneringe en die spesiale tydperk in ʼn paartjie se liefdesreis vas te vang. Dit bied ook ʼn uitstekende geleentheid om jul trou fotograaf beter te leer ken en gemakliker voor die kamera te raak.
Teen die tyd wat die troudag aanbreek, voel paartjies meer ontspanne en minder gespanne voor die kamera. Beplan gerus jul verlowingsfotosessie saam met jul trou fotograaf, sodat julle mekaar beter kan leer ken en tuis kan voel voor die lens.
Rol af om meer van Helger en Catelen se pragtige verlowing fotosessie te sien en meer oor hul liefdevolle reis as paartjie te lees.
Meer oor Ruby Woo Makeup Artistry:
Ruby Woo Makeup Artistry is die naam van Stephani se besigheid, geïnspireer deur een van haar gunsteling rooi lipstiffies. Sy is gebaseer in Bethlehem in die Vrystaat en doen troues regoor die oos-Vrystaat. Haar passie is definitief om bruide te grimeer.
Sy bied ook een-tot-een lesse aan vir dames wat hul grimeer vaardighede wil opskerp. Die area is bekend vir sy natuurskoon, en daarom doen sy dikwels grimering vir fotosessies van gesinne, paartjies of verlowings. Matriekafskeid grimering hou haar ook besig gedurende ʼn sekere tyd van die jaar.
Nog ʼn diens wat sy aanbied, is “spray tanning” – ʼn veilige manier om daardie mooi bruin lyf te kry. Sy is ook die trotse eienaar van Sculpt Aesthetics in Bethlehem, waar sy aan verskeie professionele individue in die skoonheid industrie ruimte verhuur.
Met meer as 15 jaar ondervinding in die industrie het sy ʼn baie goeie kennis opgedoen van watter produkte die beste vir haar bruide werk. Sy is trots daarop dat haar bruide se grimering nog tot laat in die aand pragtig lyk.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons bly al heeltyd in dieselfde dorp, onder mekaar se neuse, maar nog nooit mekaar leer ken nie. In die verby loop het ons laasjaar Augustus met mekaar begin gesels op sosiale media. Effens voor op die wa het Helger homself oor genooi vir koffie om homself aan my voor te stel. Tydens ons eerste koffie afspraak is ek nie seker wie meer op hulle senuwees was nie, maar dit het ons nie gekeer om lekker te gesels nie. Dadelik na ons koffie gedrink het kon ek nie wag dat hy weer kom kuier nie. En van daardie dag het daar nog nie eendag verby gegaan wat ons nie met mekaar gepraat het of mekaar gesien het nie.
Goeie dinge gebeur wanneer mens dit die minste te verwag.
Die groot vraag:
21 Maart 2024 is ʼn datum wat vir altyd vir my spesiaal sal bly. Was ʼn gewone vakansiedag ons het die dag saam spandeer doodnormaal.
Vroeër die week het Helger se ma ons genooi om by hulle te kom eet die aand van van die 21ste. So kom ons toe aan die einde van die dag, tyd om reg te maak om na die ete toe te gaan. Helger het my toe by my huis kom oplaai. Ons is toe oppad na sy ouers se huis toe, oppad soontoe was niks uit plek nie en ek het niks verwag nie. Soos ons om die draai kom om in te gaan by die huis sien ek dat dit blyk of niemand tuis is nie, maar steeds dink ek dat hulle net besig is op ʼn ander plek in die huis, min wetend dat sy ouers en suster al oppad is na my ouers toe waar ons na die tyd almal saam iets sou gaan eet.
Helger loop toe eerste in by die huis en voor ek kon sien is hy op sy knie en ek kon nie vinnig genoeg JA se nie.
Hoekom ons mekaar liefhet:
Catelen:
My gunsteling eienskap van Helger is dat hy HARDWERKEND is hy is SAGMOEDIG en LIEFDEVOL teenoor my, hy het ʼn POSITIEWE GESINDHEID en niks is ooit te veel moeite vir hom nie. Hy maak my ʼn beter mens!
Helger:
Catelen is my sielsgenoot, ons belangstellings en doelwitte in die lewe is dieselfde. Sy is altyd eerlik en opreg. Maak my gelukkig en ʼn beter mens.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons gaan presies 324 dae verloof voordat ons trou!
Die verloofring:
Helger het vooraf vir my gevra van watse ring ek sou hou, maar ek het nie veel aan die begin van die vraag gedink nie. Alhoewel na hy die vraag gevra het, het ek meer begin oplet na waarvan ek sou hou. Maar die krediet kom hom toe hy het die finale besluit van my ring gemaak. Dit het definitief my verwagtinge oortref. En was ʼn groot verrassing toe ek dit die eerste keer sien.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons wou graag die spesiale geleentheid vasvang, want tog is fotos die enigste herinnering wat mens oorhou. En het dit goed gedink om ons trou fotograaf te gebruik om solank die geleentheid te gebruik om mekaar te leer ken en gemaklik te raak met mekaar.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons het fotos gesien van ʼn ander verlowing wat in die Sand du Plessis Teater geneem was en ons was dadelik verlief op die marmer en goue aksente, en omdat dit perfek inpas by ons trou dekor was dit ʼn maklike besluit.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ek het absoluut geen vrese vir die verlowings tydperk nie. Ons sien baie uit na die beplanning en kan nie wag vir ons grootdag nie!
Visie vir droomtroue:
Ons trou in Februarie 2025 naby aan die huis in die prentjie mooi Oos-Vrystaat, tussen Clarens en Fouriesburg. Die venue wat ons gekies het maak die beplanning en reëlings baie maklik met die trou koördineerder wat die reëlings hanteer. Februarie val ook mooi in die somer wat beteken die landgoed gaan mooi groen en vol lewe wees.
- Fotograaf: MM Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: Sand du Plessis Teater, Bloemfontein
- Grimering: RubyWoo Makeup Artistery| Kontak
- Hare: Salon Fleur De la Porte| Kontak
- Verloofring: Hardwick & Mazzoni Jewellers| Kontak