Dawid en Kayla se buitelug troue in Wolseley was ʼn beeldskone dag wat ons met groot vreugde met julle wil deel. Hierdie paartjie het ʼn besonderse liefdesverhaal – hulle het twee keer die ja-woord gegee! Ja, jy lees dit reg, twee keer! Hulle het verloof geraak en net 23 dae later in Zanzibar getrou. Daarna het hulle ʼn pragtige groot troue beplan om hul spesiale dag saam met familie en vriende te vier.
Dawid en Kayla se troue was ʼn klassieke romantiese fees maar nogsteeds baie modern. Kayla se eenvoudige trourok is perfek aangevul deur ʼn wit handruiker vol pragtige blomme. Dawid se elegante swart pak het die paartjie se stylvolle voorkoms afgerond.
Die seremonie, omring deur majestueuse berge, het in die pragtige groen tuine van die venue plaasgevind. ʼn Asemrowende blom ontwerp op ʼn driehoekige trou boog het die fokus op die bruidspaar gevestig.
Die buitelug onthaalarea was ʼn droom wat waar geword het. Twee lang, donker houttafels onder ʼn groot skaduwee-doek het die middelpunt van die fees geword. ʼn Geriffelde loper het die donker hout gebreek, terwyl sagte pienk servette ʼn kleurvolle kontras gelewer het. Die tekstuur van die kershouers en die kombinasie van vars en gedroogte blomme het die tafel uitleg perfek afgerond.
Rol af om meer te lees oor hierdie onvergeetlike troue.
Paartjie se Liefdesreis:
Ek en Dawid het in Julie 2018 op Johannesburg se lughawe ontmoet toe ons op pad Victoria-Waterval toe was. Toe ons terugkeer na Kaapstad het ons uitgegaan na De Grendel wynplaas. Ons het op Oujaarsdag verloof geraak (2022) en toe 23 dae later in Zanzibar getrou. Toe ons weer terug in die Kaap kom, het ons begin om ons “groot troue” te beplan saam met familie en vriende.
Trourok:
Die rok is gemaak uit “French Crêpe” deur Made With Love en die styl is tydloos. My rok was styfpassend met ʼn diep v-vorm neklyn en lae snit agter. Ek het ʼn afhaalbare ‘cowl’ gedeelte ook gehad wat ek afgehaal het voor ons eerste dans. Die rok het ʼn pragtige sleep met oulike tule boë gehad (ook afhaalbaar).Die sluier is spesiaal gemaak met met pêrels om by my juweliersware te pas.
Verloof- en Trouringe:
My verloofring is ʼn klassieke, dun goue band met een ronde briljant geslypte diamant. My troupant is ʼn goue sewe-diamantring (vier van die diamante kom van Dawid se ouma af). Dawid het ʼn goue ring. Wat al twéé ons ringe ekstra spesiaal vir ons maak, is dat die goud van albei ons oumas se trouringe gemaak is.
Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:
Dawid se susterskinders (ons blommemeisie en ringdraer) wat hand aan hand by die trougang af- gekom het. Vroeër in 2023 het ons amper Dawid se susterskind, Geo, verloor: hy het baie maande in intensiewe sorg by die hospitaal deurgebring, so dit was baie spesiaal en ʼn wonderwerk dat hy herstel het en ons ringdraer kon wees. Daar is ʼn fantastiese foto van hom waar hy instaan vir die platejoggie.
Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:
Suné was net ʼn plesier om mee te werk, sy was só professioneel en het ons gemaklik laat voel en gehelp om seker te maak ons kry al die foto geleenthede wat ons wou gehad het.
Ons videograaf, Chris van SecondLuke Film was ook uitstekend, hy was vol pret en die hoof “hype-man” van die troue. Sy video wat hy vir ons gemaak het, was asemrowend! Al ons diensverskaffers was net uitstekend!
Trou Venue:
Ons het Olive Rock op Google gekry en kon niks verkeerd vind nie. Dit was die eerste en enigste plek waarna ons gekyk het. Ons het dadelik geweet dat dit die plek was waar ons wou trou. Olive Rock bied ook ʼn geleentheid om hulle spyskaart te proe saam met wynproe sowel as ander diensverskaffers wat hulle produkte uitstal, so dit het ons ongelooflik baie gehelp.
Trou Dekor en Styl:
Die algehele styl waarvoor ons gegaan het was sag; warm; romanties; magies en atmosferies. Ons het ʼn paar oulike details ingegooi: verwelkomings bord – ʼn hout A-raam wat ons met blomme versier het. ʼn Spieël by die ingang geplaas wat ons met blomme, linne en kerse versier het. ʼn Sentimentele afwerking: foto’s van ons oumas en oupas op hulle troudag.
Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:
Wees ʼn bietjie selfsugtig. Dit is jou dag en jy sal dit vir die res van jou lewe onthou, so maak seker dit is alles wat jy nog altyd wou gehad het. Doen wat jou gelukkig maak, selfs al is dit dalk ʼn bietjie onkonvensioneel. Só baie paartjies beplan hulle troue rondom wat hulle dink hulle gaste en familie sal gelukkig maak, so maak seker julle doen dit vir JULLE!
Eerste Dans:
Trou Begroting en Beplanning:
Die paartjie het nege maande lank aan hul selfdoen troue beplan vir 62 gaste met ʼn begroting van R3 900 per persoon.
- Fotograaf: Chasing Dandies | Kontak
- Venue: Olive Rock| Kontak
- Blomme + Dekor: Veil Events | Kontak
- Grimering + Hare: Lee-Anne Beauty & Bridal Makeup Artist| Kontak
- Huurdienste: Veil Events | Kontak
- Juweliersware: Made With Love| Kontak
- Kroegdiens: Olive Rock| Kontak
- Paartjie se verblyf: Big Sky Cottages| Kontak
- Strooijonkers bykomstighede: Veil Events| Kontak
- Skryfbehoeftes: Veil Events | Kontak
- Spyseniering: Olive Rock| Kontak
- Trourok: Made With Love| Kontak
- Vervoer: Dave Smith Tours| Kontak
- Videograaf: Secondluke Films| Kontak
- Wittebrood Plek: Vrolikheid Landgoed| Kontak